Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Moet ek ’n verhouding op die Internet begin?”

“Moet ek ’n verhouding op die Internet begin?”

Jongmense vra . . .

“Moet ek ’n verhouding op die Internet begin?”

“Ons het elke dag vir mekaar e-pos gestuur. Ons het beplan waar ons sou woon en werk. Ek sou die verloofringe koop. Ons het mekaar nie eers ’n maand geken nie en het mekaar nog nie persoonlik ontmoet nie.”—Monika, Oostenryk. *

JY WIL baie graag iemand ontmoet—iemand wat jy kan leer ken en met wie jy moontlik sal wil trou. Maar tot dusver was jou pogings om so iemand te vind onsuksesvol. Welmenende vriende en familielede het jou al aan moontlike maats probeer voorstel, maar dit het jou net in die verleentheid gebring en mismoediger as ooit laat voel. Jy wonder nou of jy tegnologie moet gebruik om jou te help.

In hierdie era van die rekenaar lyk dit dalk of jy met net ’n paar klieke van jou muis ’n geskikte huweliksmaat kan vind. Al wat jy hoef te doen, sê party, is om ’n webwerf, kletskamer of bulletinbord te besoek wat spesifiek vir ongetroudes ontwerp is. The New York Times berig dat daar in een maand in die Verenigde State alleen 45 miljoen mense was wat sulke webwerwe besoek het. Een Internetmaatsoekdiens beweer dat meer as negemiljoen mense in 240 lande sy diens gebruik.

Die aantrekking van Internetverhoudings

Is jy skaam of vind jy dit moeilik om mense te ontmoet? Is jy bang dat jy verwerp sal word? Of voel jy net dat daar nie genoeg potensiële huweliksmaats is waar jy woon nie? Dan klink ’n verhouding op die Internet dalk vir jou na ’n aantreklike opsie. Om maar een ding te noem, Internetmaatsoekdienste belowe dat jy jou “afsprake” kan beheer. Soekvensters wat ouderdomsgroepe, lande, persoonlikheidsprofiele, foto’s en Internetskuilname vertoon, word voorsien. Omdat ’n mens soveel keuses het, lyk dit of verhoudings op die Internet meer doeltreffend en minder stresvol is as persoonlike ontmoetings.

Wat is die werklikheid? Lei Internetverhoudings werklik tot blywende geluk? Wel, dink hieroor na: Gedurende ’n tydperk van ses jaar het een maatsoekdiens 11 miljoen intekenaars gehad. Maar net 2 950 van hulle het met mekaar getrou. ’n Ander maatsoekdiens met meer as ’n miljoen lede het net 75 bevestigde huwelike aangegee! Wat is fout met hierdie tendens?

’n Ware beeld van mekaar?

“Op die Internet”, het een koerantartikel gesê, “is almal skynbaar aantreklik, eerlik en suksesvol.” Maar hoe realisties is die inligting wat mense oor hulleself gee? ’n Ander nuusberig stel dit so: “Dit word as vanselfsprekend aangeneem dat almal nou en dan leuens vertel.” Die redakteur van ’n gewilde tienertydskrif het self hierdie bewering ondersoek. Sy het by drie van die gewildste maatsoekwebwerwe aangesluit en kort voor lank ’n hele paar antwoorde gekry. Dit het gelei tot afsprake met verskeie mans. Wat was die gevolg? Totale mislukkings! Die mans het blatante leuens oor hulleself vertel. Sy het gewaarsku: “Uit my ondervinding het ek geleer: hulle vertel leuens.”

Dit lyk dalk asof dit iets kleins is om nie eerlik te wees oor jou lengte of gewig nie. ‘Hoe ’n mens lyk, is nie so belangrik nie’, sê party dalk. Ja, die Bybel sê self: “Bekoorlikheid kan vals wees, en skoonheid kan nietig wees” (Spreuke 31:30). Maar is dit ’n goeie manier om ’n verhouding te begin as ’n mens leuens vertel oor dinge wat oënskynlik klein is? (Lukas 16:10). Hoeveel vertroue kan jy hê in ander dinge wat die persoon miskien oor ernstige kwessies soos persoonlike doelwitte sê? Die Bybel sê: “Praat die waarheid met mekaar” (Sagaria 8:16). Ja, eerlikheid voorsien die grondslag vir ’n verhouding wat kan groei.

Onrealistiese fantasieë is dikwels by Internetverhoudings betrokke. ’n Berig in Newsweek sê die volgende: “Gebruikers kan hulle e-posse versigtig bewoord en hulleself op die vleiendste manier uitbeeld. . . . Die gevolg is ’n kringloop van positiewe terugvoering: hulle klink gaaf en asof hulle in jou belangstel; daarom is jy gaaf en stel jy in hulle belang.” ’n Professor aan New York se Rensselaer- Politegniese Instituut wat Internetverhoudings bestudeer, sê dat ’n sterk band in sulke omstandighede baie vinnig kan vorm. Maar, soos al dikwels gesien is, lei dit nie noodwendig tot ’n gelukkige huwelik nie. Een man het oor sy ondervinding met Internetverhoudings geskryf: “Dis ’n strik. Jou verbeelding vul al die onbekende besonderhede in met presies wat jy wil hê.”

Persoonlike ontmoetings

Party meen egter dat dit besliste voordele inhou om nie persoonlike kontak te hê nie. Hulle voel dalk dat Internetverhoudings paartjies toelaat om op ’n voornemende maat se innerlike eienskappe te let sonder om deur persoonlike voorkoms afgelei te word. Die Bybel moedig ons wel aan om na ’n mens se innerlike eienskappe te kyk (1 Petrus 3:4). Maar die probleem met Internetverhoudings is dat jy nie ’n persoon se gebare, glimlagte of gesigsuitdrukkings kan sien nie. Jy kan nie sien hoe hy of sy ander behandel of onder druk optree nie. En hierdie dinge is noodsaaklik om vas te stel of hy of sy iemand is wat jy kan vertrou en liefhê. Lees gerus die Bybel se beskrywing van liefde in 1 Korintiërs 13:4, 5. Let op dat liefde bewys word deur dade, nie deur woorde nie. Jy moet dus die tyd neem om ’n persoon waar te neem om te sien of sy dade met sy woorde ooreenstem.

Paartjies begin dikwels vroeg in die verhouding intieme gevoelens en gedagtes teenoor mekaar uitspreek sonder hierdie noodsaaklike inligting. Party gooi alle versigtigheid oorboord en gaan ernstige romantiese verbintenisse aan al ken hulle mekaar skaars. ’n Artikel getiteld “Op die Internet is die liefde werklik blind” vertel van twee mense wat 13 000 kilometer van mekaar af gebly het en op die Internet ontmoet het. Drie weke later het hulle van aangesig tot aangesig ontmoet. “Sy het baie maskara gedra”, het die man gesê. “Ek gaan nie uit met vroue wat maskara dra nie.” Die verhouding het nie lank gehou nie. Die gevolge van ’n ander persoonlike ontmoeting was so teleurstellend dat die man, wat vir die besoek betaal het, die retoergedeelte van die vrou se vliegkaartjie gekanselleer het!

’n Jong vrou met die naam Edda vertel van haar ondervinding met Internetverhoudings. Sy sê: “Die verhouding was te goed om te glo. Ons het beplan om te trou.” Maar toe hulle mekaar sien, het die verhouding heeltemal misluk. “Hy was glad nie wat ek verwag het nie, maar was krities en ’n klaer. Dit sou net nie werk nie.” Een week later het die verhouding geëindig, en dit het Edda heeltemal ontnugter laat voel.

In die fantasiewêreld van Internetverhoudings kan emosies te vroeg intens word. Dit kan daartoe lei dat jy gevaar loop om emosioneel verpletter te word as die verhouding nie werk nie—wat heel waarskynlik is. “Hy wat op sy eie hart vertrou, is dwaas”, waarsku Spreuke 28:26. Ja, dit is onverstandig om ernstige besluite te neem wat op fantasie en emosie gebaseer is. Die spreuk sê dus verder: “Maar hy wat in wysheid wandel, sal ontkom.”

Die gevare van oorhaastigheid

Dit is beslis onverstandig om oorhaastig ’n verhouding te begin as julle mekaar skaars ken. Die Engelse skrywer Shakespeare word soos volg aangehaal: “Oorhaastige huwelike is selde suksesvol.” Die Bybelraad is meer direk: “Elkeen wat oorhaastig is, stuur gewis op gebrek af.”—Spreuke 21:5.

Ongelukkig het baie wat al ’n verhouding op die Internet gehad het, gevind dat dit waar is. Nadat Monika, wat aan die begin van die artikel aangehaal is, net ’n maand lank met iemand gekorrespondeer het, het sy gehoop dat haar drome van ’n huweliksmaat uiteindelik bewaarheid is. Al het hulle beplan om te trou—selfs om verloofringe te koop—het haar oorhaastige verhouding in “groot hartseer” geëindig.

Jy kan sulke hartseer vermy deur ag te slaan op die Bybel se raad: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het, maar die onervarenes het verder gegaan en moet die straf ondergaan” (Spreuke 22:3). Teleurstelling en seergemaakte gevoelens is nie die enigste gevare van Internetverhoudings nie. ’n Toekomstige artikel sal nog probleme bespreek.

[Voetnoot]

^ par. 3 Van die name is verander.

[Prent op bladsy 17]

Mense oordryf en vertel dikwels leuens oor hulleself op die Internet

[Prent op bladsy 18]

Ná talle romantiese e-posse is ’n persoonlike ontmoeting dikwels teleurstellend