Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Dis ’n hondelewe

“Australië bestee meer aan troeteldiere as aan buitelandse hulp”, berig die koerant The Sydney Morning Herald. “Australiërs bestee nou jaarliks $2,2 miljard aan artikels soos reddingsbaadjies vir honde, diamantjuweliersware en asemverfrissers vir troeteldiere.” Jason Gram, eienaar van ’n troeteldierwinkel, het opgelet dat die gesindheid teenoor troeteldiere in die afgelope dekade verander het. “Honde was vroeër in die agterplaas, oortrek van vlooie en besig om aan ’n been te kou”, het hy gesê. “Nou is hulle binne, waar hulle op ’n sagte bed sit en ’n skitterende halsband dra.” Hy het egter gesê dat die verandering winsgewend is, want honde word nou soos gesinslede behandel, en ’n klomp duur artikels word vir hulle gekoop. Hoewel party troeteldiere “versorg word asof hulle menslike behoeftes, begeertes en ’n waardering vir die skone het”, het die koerant gesê, is daar “geen bewys dat honde ’n speelding van $50 bo ’n speelding van $5 verkies nie. Maar die verkwisting bevredig blykbaar die eienaars se behoefte daaraan om liefde te betoon.”

Geraasbesoedeling

Uitermatige geraas verlaag dikwels die lewensgehalte van mense wat in stede woon. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie kan dit selfs hulle gesondheid aantas, berig die Spaanse koerant ABC. Die skadelike gevolge van geraasbesoedeling is ook deur die Grondwetlike Hof in Spanje erken, wat uitspraak gelewer het teen ’n openbare vermaaklikheidsplek wat daarvan beskuldig is dat hulle ’n stadsverbod op geraasbesoedeling oortree het. Die hof het gesê dat uitermatige “geraas ’n skending is van die individu se basiese reg om sy sedelike en fisiese welsyn, sy eie privaatheid en dié van sy gesin asook die onskendbaarheid van sy huis te beskerm”. Volgens die hof kan ernstige geraasbesoedeling lei tot “gehoorgebreke, slaapversteurings, neurose, hoë bloeddruk en ’n toename in aggressiewe gedrag”.

Jong oorlogslagoffers

Die Verenigde Nasies-kinderfonds skat dat 300 000 van die 800 000 mense wat tydens Rwanda se rasse-onluste doodgemaak is, kinders was, berig die Duitse koerant Leipziger Volkszeitung. Volgens skatting lewe meer as 100 000 kinders in Rwanda in huisgesinne sonder enige volwasse toesig. “Hulle daaglikse lewe word deur volslae armoede geteister”, sê die koerant.

Bly “flink van verstand”

“Wanneer mense tweetalig is, help dit hulle om ‘flink van verstand’ te bly terwyl hulle ouer word”, sê die koerant Toronto Star. Ellen Bialystok, ’n sielkundige van die Universiteit van York, het die kognitiewe vermoë getoets van 104 volwassenes tussen die ouderdomme van 30 en 59 en dié van 50 volwassenes tussen die ouderdomme van 60 en 88, wie se vlak van opvoeding en inkomste min of meer dieselfde was. In elke ouderdomsgroep was die helfte van die deelnemers tweetalig. Elkeen is gevra om ’n eenvoudige taak met twee uiteenlopende keuses te verrig terwyl sy reaksietyd gemeet is. “Dié wat tweetalig was, het die toets vinniger gedoen as dié wat net een taal geken het”, sê die koerant. Volgens Bialystok kom tweetalige mense altyd voor ’n keuse van twee tale te staan, en hulle brein moet besluit wat die regte taal is om in te antwoord. “Mettertyd beskerm hierdie oefening van die verstand die brein deur die natuurlike agteruitgang van die denkvermoëns wat met die ouderdom gepaardgaan, teë te werk.”

Bybel wat “polities korrek” is?

“Sekere gunstelinggebede en -psalms in die Bybel is ingrypend verander vir ’n nuwe Anglikaanse gebedeboek in ’n poging om gelowiges aan kwessies soos Derdewêreldskuld en billike handel te laat dink”, berig die Reuters-nuusdiens. The Pocket Prayers for Peace and Justice vervang Jesus se woorde in die Onse Vader, “Gee ons vandag ons daaglikse brood”, met “U gee ons ons daaglikse brood wanneer ons ons grond kan terugkry of ’n beter loon kan kry”. “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee”, in Psalm 23, is eweneens uitgehaal en vervang met “Al breek ’n volskaalse gewelddadige konfrontasie uit, sal ek nie bang wees nie, Here”. Tradisionaliste het die nuwe boek met 96 bladsye “’n bespotting en dus godslasterlik” genoem, sowel as “kras en beledigend”, sê die Londense koerant The Daily Telegraph.

Aborsies weens ekonomiese redes

In teenstelling met wat baie mense dink, “is die meeste aborsiepasiënte in Australië getroude [vroue] uit die middelklas, nie promiskue tieners nie”, berig die koerant The Sydney Morning Herald. Aangesien mans voltyds werk en hulle vrouens deeltyds, is die besluit om nie kinders te hê nie dikwels op ekonomiese oorwegings gegrond. “Moederskap het ’n uitwerking op ’n vrou se loopbaan sowel as op haar inkomste”, sê Peter McDonald, professor in demografie aan die Nasionale Universiteit van Australië. “[Vroue] se inkomste kan baie hoër wees as hulle nie ’n kind het nie, maar as hulle ’n kind het, sal hulle minder verdien.” Volgens die Herald word 1 uit 3 swangerskappe in Australië deur aborsie beëindig.

“Leer jou kind se vriende ken”

“Vir tieners [in die Verenigde State] wat gesê het dat ten minste die helfte van hulle vriende seksueel aktief is, is die moontlikheid 31 keer groter dat hulle dronk sal word, 5 1/2 keer groter dat hulle sal rook en 22 1/2 keer groter dat hulle reeds dagga gerook het”, berig The New York Times. In die opname, wat deur die Nasionale Sentrum vir Verslawing en Dwelm- en Alkoholmisbruik by die Universiteit van Columbia gedoen is, is 500 ouers en 1 000 jongmense tussen die ouderdomme van 12 en 17 ondervra. Joseph A. Califano jr., die voorsitter en hoof van die sentrum, het gesê: “Die duidelike boodskap vir ouers van 12- tot 17-jariges is: maak seker dat jy weet wat jou kind doen wanneer hy of sy met iemand van die teenoorgestelde geslag uitgaan, en leer jou kind se vriende ken.” Hy het bygevoeg: “Die moontlikheid is groter dat ouers wat tydens aandete oor onderwerpe soos afsprake en dwelm- en alkoholgebruik gesels, hulle kinders sal kan help om sonder dwelms groot te word.”

Selfbesering onder jongmense

“Brittanje het die hoogste syfers vir selfbesering wat in Europa opgeteken is”, sê The Times van Londen. Britse ongevalle- en noodeenhede behandel elke jaar 150 000 gevalle van mense wat hulleself doelbewus beseer het, byvoorbeeld deur hulle te sny. Die probleem kom die algemeenste onder jongmense voor. “Hoewel sewe keer meer jong vroue as jong mans hulleself beseer, het syfers onder mans sedert die 1980’s verdubbel”, sê The Times. Hierdie mense beseer hulleself blykbaar “om emosionele pyn te verwerk of weens emosionele gevoelloosheid”. Volgens Andrew McCulloch, van die Stigting vir Geestesgesondheid, lewer die syfers “moontlik bewys dat ons jongmense al hoe meer probleme ondervind of dat hulle al hoe minder in staat is om hierdie probleme te verwerk”.