Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Tuinmaak is goed vir jou

Tuinmaak is goed vir jou

Tuinmaak is goed vir jou

GENIET jy dit om tuin te maak? Jy kan meer as net genot put uit jou stokperdjie. Navorsers het bewyse gevind dat “tuinmaak goed is vir ’n mens se gesondheid, dat dit stresvlakke en bloeddruk verlaag en jou selfs help om langer te lewe”, berig die Londense koerant die Independent.

“Ná ’n besige, stresvolle dag is dit baie ontspannend om by die huis te kom en in jou tuin te werskaf”, sê die skryfster Gay Search. Tuinmaak is nie net lonend en interessant nie; dit kan selfs beter oefening wees as om na die gimnasium te gaan. Hoe so? Volgens Search is “aktiwiteite soos om te spit en te hark goeie bestendige oefening, wat meer kilojoules verbrand as fietsry”.

Veral bejaardes vind baat by tuinmaak. Wanneer hulle wag dat ’n nuwe loot of blom verskyn, help dit hulle om positief te voel oor die toekoms. Daarbenewens “voorsien die tuin ’n teenmiddel vir die pyn en frustrasie” van die ouderdom, sê dr. Brigid Boardman van die Koninklike Tuinbouvereniging. Bejaardes voel dikwels ontmoedig omdat hulle al hoe meer op ander moet staatmaak. Maar soos dr. Boardman sê: “Die behoefte om in beheer te wees, word bevredig deurdat ons beheer het oor wat ons plant, hoe ons die tuin uitlê en hoe ons daarvoor sorg. En die behoefte om na iets om te sien, word ook bevredig.”

Diegene wat aan geestesiektes ly, voel dikwels ontspanne wanneer hulle in ’n pragtige, rustige omgewing werk. Dit kan sulke mense ook help om hulle selfvertroue en selfrespek te herwin as hulle vir ander groente en vrugte of blomme kweek.

Dit is egter nie net tuiniers wat by groenigheid baat vind nie. Professor Roger Ulrich van die Universiteit van Texas het ’n proefneming gedoen op ’n groep mense wat onderwerp is aan ’n toets wat stres veroorsaak. Hy het gevind dat diegene wat na ’n groen gebied met baie bome geneem is, vinniger herstel het—soos gemeet aan hulle hartklop en bloeddruk—as diegene wat nie aan ’n natuurlike omgewing blootgestel is nie. ’n Soortgelyke toets het getoon dat pasiënte wat ná ’n operasie in die hospitaal aansterk, daarby baat gevind het as hulle in kamers was wat op bome uitkyk. In vergelyking met ander pasiënte het hulle “vinniger herstel, gouer huis toe gegaan, minder pynbehandeling nodig gehad en minder gekla”.