Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Adolessensie Dankie vir die reeks “Adolessensie—Bied die uitdagings die hoof” (8 Julie 2004). Ek is in my vroeë tienerjare en het ’n paar probleme gehad wat my skuldig laat voel het. Danksy hierdie artikels het ek die nodige raad ontvang wat my sal help om aan my Grootse Skepper te dink. Ek hoop om deur adolessensie te kom sonder om voor hierdie wêreld se invloed te swig en die onaangename gevolge daarvan te dra.

R. R., Albanië

As kind het ek baie vriende van my ouderdom gehad. Maar toe ons ouer word, het ons nie meer met mekaar gesels nie. Ná die Christelike vergaderinge het ek in die motor gaan sit sonder om met enigiemand te assosieer. Ek was verlig toe ek lees dat dit algemeen vir adolessente is om ’n wye verskeidenheid gevoelens te ervaar, en een van die beste maniere om eensaamheid te oorkom, is om belangstelling in ander te toon—en dit sluit diegene in wat nie deel van jou portuurgroep is nie. Ek het daardie dag by die vergadering met ander gesels, ongeag hulle ouderdom, en dit het my gelukkig gemaak.

M. K., Japan

Ek is 15 jaar oud, en ek het hierdie inligting baie nodig gehad. Die jongmense wat aangehaal is, het my help verstaan dat ek nie die enigste een is wat pynlike gevoelens ervaar nie en dat ’n mens hierdie gevoelens kan oorkom. Dit het my versterk en aangemoedig!

L. R., die Oekraïne

Dankie vir hierdie reeks. Dit is goed om te sien dat dit wel moontlik is om met welslae deur hierdie stormagtige tyd te kom. Ek hoop dat hierdie artikels ander jongmense sal help om hierdie fase in hulle lewe op ’n gebalanseerde manier die hoof te bied.

R. V., Italië

Hierdie reeks is presies wat ek nodig gehad het. My emosies ry soms wipplank, en ek voel partykeer baie onseker en eensaam. Ek het altyd gedink dit is my skuld dat ek hierdie gevoelens het. Maar die laaste artikel in die reeks het gesê: “Jehovah God wil hê dat jy gelukkig moet wees—werklik gelukkig. Dit behels veel meer as die blote skyn van pret wat maar net die onderliggende ellende verberg.” Toe ek hierdie woorde lees, het my oë vol trane geskiet. Die artikel het ook gesê dat hierdie ontstellende gevoelens mettertyd kan verbygaan. Dit het my werklik baie vertroos. Ek het nuwe krag gekry om aan te gaan. Baie dankie!

H. T., Japan

Toe ek hierdie tydskrif by die Koninkryksaal sien, het ek dadelik daardeur begin blaai. Toe ek dit by die huis lees, kon ek dit nie neersit nie. Ek was egter baie teleurgesteld toe ek aan die einde van die artikel kom omdat ek nie wou hê dat die artikel moes eindig nie! Hou asseblief aan om sulke artikels te skryf!

K. C., Verenigde State

Klawerborde Ek is 12 jaar oud. Dankie vir die artikel “’n Wêreld van musiek in jou hande” (8 Julie 2004). Ek het ’n boek gekoop wat musiekinstrumente bespreek, en dit het ook verduidelik hoe klawerbordinstrumente werk. Besonderhede van die klawerbord word gegee, maar nie so duidelik soos in die Ontwaak! nie. Ek is al ’n hele ruk op soek na so ’n artikel! Die vermoë om ’n musiekinstrument te bespeel, is werklik ’n wonderlike gawe van ons Skepper!

D. G., Duitsland

Teistering Een van Jehovah se Getuies het onlangs vir my die tydskrif gegee met die artikels “Teistering by die werk—Wat kan jy doen?” (8 Mei 2004). Iemand wat ek ken, het uit sy werk bedank as gevolg van teistering. In Duitsland beteken dit dat hy drie maande lank geen werkloosheidsvoordele ontvang nie. Ek het die jong man sover moontlik probeer help. Maar dit is veral te danke aan julle tydskrif, wat ek ingesluit het by ’n brief aan die arbeidsburo, dat die jong man sy voordele drie dae later gekry het!

R. S., Duitsland