Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat “die enigste ware God” belowe

Wat “die enigste ware God” belowe

Wat “die enigste ware God” belowe

JEHOVAH GOD het die eerste mensepaar in ’n paradys op aarde geplaas—die tuin van Eden. Hy het hulle die opdrag gegee om kinders te hê en ‘die aarde te onderwerp’, wat sou behels het dat hulle hulle Paradystuiste uitbrei namate hulle gesin groter word (Genesis 1:26-28; 2:15). Sal God se voorneme dat die mens ’n aardse paradys geniet, ooit vervul word?

Ja, beslis! Volgens Bybelprofesie “sal [Jehovah] die dood vir ewig verswelg” en “die trane van alle gesigte afvee”. Wanneer dit gebeur, “sal daar beslis gesê word: ‘Kyk! Dit is ons God. Ons het op hom gehoop, en hy sal ons red. Dit is Jehovah. Ons het op hom gehoop. Laat ons bly wees en ons verbly in die redding deur hom.’”—Jesaja 25:8, 9.

Die laaste boek van die Bybel beskryf die toestande op aarde nadat hierdie huidige wêreld, of stelsel van dinge onder Satan se heerskappy, uit die weg geruim is. Aangaande die “nuwe aarde” wat uit mense bestaan wat God liefhet, sê die Bybel: “Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie.”—Openbaring 21:1-4.

Watter wonderlike beloftes tog! Kan ons dit glo? Kom ons kyk hoe Jesus se offerdood en die wonderwerke wat hy gedoen het, ’n grondslag vir vertroue voorsien dat God al Sy beloftes sal vervul.—2 Korintiërs 1:20.

Jesus se lewe as ’n losprys

Toe Satan Adam sover gekry het om ongehoorsaam aan God te wees en te sondig, het al Adam se nakomelinge sy sonde geërf. Die Bybel sê: “Net soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde, [het] die dood . . . tot alle mense deurgedring . . . omdat hulle almal gesondig het.” Maar die Bybelverslag gaan voort: “Baie [sal] deur die gehoorsaamheid van die een persoon [die volmaakte mens Jesus] regverdig gemaak word” (Romeine 5:12, 19). Soos in die eerste artikel van hierdie reeks gesê is, is Jesus “die laaste Adam”—die een “uit die hemel”—die een wat sy lewe as “’n losprys in ruil vir baie” gegee het.—1 Korintiërs 15:45, 47; Matteus 20:28.

Almal wat dus geloof in Jesus beoefen, kan “die bevryding [van sonde] deur ’n losprys” verkry en kan die ewige lewe geniet (Efesiërs 1:7; Johannes 3:36). Ons kan ons beslis daarin verheug dat Jehovah God die mensewêreld so liefgehad het dat hy sy Seun as ons Redder gegee het! (Lukas 2:10-12; Johannes 3:16). ’n Ondersoek van wat Jesus in die eerste eeu ten behoewe van die lydende mensdom gedoen het, gee ons insig in die toekoms. En wat Jesus gedoen het, was waarlik wonderlik!

Voorskoue van ’n nuwe wêreld

Jesus kon elke sieke genees wat na hom toe gebring is. Daar was niemand wat hy nie kon genees nie, ongeag hulle siekte of gebrek. Daarbenewens het hy duisende met slegs ’n paar visse en brode gevoed, en hy het dit by meer as een geleentheid gedoen.—Matteus 14:14-22; 15:30-38.

Toe Jesus ’n blindgebore man se sig herstel het, het bure en kennisse erken dat dit ’n wonderwerk was, maar die Joodse godsdiensleiers was skepties. Die man wie se sig herstel is, het dus met hulle geredeneer: “Van ouds af is daar nog nooit gehoor dat enigeen die oë geopen het van iemand wat blind gebore is nie. As hierdie man nie van God gekom het nie, sou hy hoegenaamd niks kon doen nie.”—Johannes 9:32, 33.

Tydens Jesus se bediening het sy neef Johannes die Doper, wat opgesluit was, boodskappers gestuur om verslae oor Jesus te bevestig. “In daardie uur”, sê die Bybel, het Jesus “baie genees van siektes en ernstige kwale en bose geeste en aan baie blindes die vermoë geskenk om te sien.” Toe het Jesus vir die boodskappers gesê: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: die blindes sien, die kreupeles loop, die melaatses word gereinig en die dowes hoor, die dooies word opgewek.”—Lukas 7:18-22.

Dink daaraan: As iets goeds in die verlede gebeur het, sou dit jou nie die vertroue gee dat dit weer kan gebeur nie? Deur middel van sy wonderwerke het Jesus op klein skaal getoon wat hy tydens sy heerskappy as Koning van God se Koninkryk op groot skaal sal doen. Sy wonderwerke lewer bewys dat hy deur God gestuur is en dat hy werklik God se Seun is.

Gedurende die heerskappy van God se Koninkryk sal daar ’n letterlike vervulling van profesieë van wonderlike dinge wees. Soos daar voorspel is, sal blinde oë geopen word, sal dowe ore ontsluit word, sal die kreupele soos ’n wildsbok spring en sal niemand siek wees nie. Daar sal ook vrede en veiligheid oral op aarde wees. Daar sal selfs vrede wees tussen mense en diere wat nou gevaarlik is.—Jesaja 9:6, 7; 11:6-9; 33:24; 35:5, 6; 65:17-25.

Sal jy graag vir ewig onder sulke toestande onder die heerskappy van God se Koninkryk wil lewe? Jesus het getoon wat jy moet doen toe hy in gebed tot sy vader gesê het: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Moenie toelaat dat enigiets jou keer om voort te gaan om hierdie lewegewende kennis in te neem nie.

[Prent op bladsy 10]

Dit is wat God in verband met die aarde belowe