Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie is “die enigste ware God”?

Wie is “die enigste ware God”?

Wie is “die enigste ware God”?

JESUS het dikwels gebid tot God, wat hy Vader genoem het, en hy het ander ook geleer om dieselfde te doen (Matteus 6:9-11; Lukas 11:1, 2). Net ure voor sy dood, terwyl Jesus saam met sy apostels gebid het, het hy gesê: “Vader, die uur het gekom; verheerlik u seun, sodat u seun u kan verheerlik. Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:1, 3.

Let op dat Jesus tot die Een bid wat hy “die enigste ware God” noem. Hy verwys na God se verhewe posisie wanneer hy verder sê: “En nou, Vader, verheerlik my naas uself met die heerlikheid wat ek naas u gehad het voordat die wêreld was” (Johannes 17:5). Aangesien Jesus tot God gebid het en gevra het om naas God, oftewel by God, te wees, hoe kon Jesus terselfdertyd “die enigste ware God” wees? Kom ons ondersoek hierdie saak.

Jesus se posisie in die hemel

’n Paar uur ná hierdie gebed is Jesus tereggestel. Maar hy was nie lank dood nie—slegs van Vrydagmiddag tot Sondagoggend (Matteus 27:57–28:6). “Hierdie Jesus het God opgewek,” het die apostel Petrus gesê, “’n feit waarvan ons almal getuies is” (Handelinge 2:31, 32). Kon Jesus homself opgewek het? Nee, want volgens die Bybel is die dooies ‘van hoegenaamd niks bewus nie’ (Prediker 9:5). “Die enigste ware God”, Jesus se hemelse Vader, het sy Seun opgewek.—Handelinge 2:32; 10:40.

Kort daarna is Jesus se dissipel Stefanus deur godsdiensvervolgers doodgemaak. Net voordat hulle hom gestenig het, is Stefanus ’n visioen gegee. Hy het gesê: “Kyk! Ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens wat aan God se regterhand staan” (Handelinge 7:56). Stefanus het Jesus, “die Seun van die mens”, dus in ’n rol gesien waar hy God in die hemel ondersteun—“aan God se regterhand”—net soos hy ‘naas God’ was voordat hy aarde toe gekom het.—Johannes 17:5.

Later, ná Stefanus se teregstelling, het Jesus wonderdadig verskyn aan Saulus, beter bekend onder sy Romeinse naam, Paulus (Handelinge 9:3-6). Toe Paulus in Atene, Griekeland, was, het hy gepraat oor “die God wat die wêreld en alles daarin gemaak het”. Hy het gesê dat hierdie God, die “enigste ware God”, “die bewoonde aarde in regverdigheid [sal] oordeel deur ’n man wat hy aangestel het, en hy het aan alle mense ’n waarborg verskaf deurdat hy hom uit die dode opgewek het” (Handelinge 17:24, 31). Hier het die apostel Paulus Jesus beskryf as “’n man”—ja, as laer as God—wat deur God tot lewe in die hemel opgewek is.

Die apostel Johannes het Jesus ook as ondergeskik aan God beskryf. Johannes het gesê dat hy sy Evangelie geskryf het sodat lesers kan glo dat “Jesus die Christus . . . , die Seun van God” is—nie dat hy God is nie (Johannes 20:31). Johannes het ook ’n hemelse visioen ontvang waarin hy “die Lam” gesien het, wat in sy Evangelie as Jesus geïdentifiseer word (Johannes 1:29). Die Lam staan saam met 144 000 ander, wat Johannes sê “van die aarde gekoop [of opgewek] is”. Johannes verduidelik dat die Lam se “naam en die naam van sy Vader op [die 144 000 se] voorkoppe geskrywe” staan.—Openbaring 14:1, 3.

Kan “die Lam” en “sy Vader” dieselfde persoon wees? Natuurlik nie. In die Bybel is hulle verskillende individue. Hulle het selfs verskillende name.

Naam van die Lam en van die Vader

Soos ons so pas gesien het, is Jesus die naam wat aan God se Seun, die Lam, gegee is (Lukas 1:30-32). Wat van sy Vader se naam? Dit kom duisende kere in die Bybel voor. Psalm 83:18 sê byvoorbeeld: “U, wie se naam Jehovah is, U alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde.” Ongelukkig is God se naam, Jehovah, in baie Bybelvertalings vervang deur die woorde “HERE” en “GOD”, wat dikwels met hoofletters geskryf word. Die hoofletters is veronderstel om Jehovah van ander sogenaamde gode of here te onderskei. * In baie Bybelvertalings is God se Naam egter in sy regmatige plek herstel.

Die American Standard Version (1901) in Engels is ’n noemenswaardige voorbeeld van ’n Bybelvertaling wat God se naam, Jehovah, in sy regmatige plek herstel het. Sy voorwoord sê: “Die Amerikaanse Hersieners het ná deeglike oorweging eenparig tot die oortuiging gekom dat ’n Joodse bygeloof, waarvolgens die Goddelike Naam as te heilig beskou is om uitgespreek te word, nie meer die Engelse of enige ander vertaling van die Ou Testament moet oorheers nie, soos dit gelukkig nie die geval is met die talle vertalings wat deur hedendaagse sendelinge voortgebring is nie.” *

Die Drie-eenheid—Waar kom die lering vandaan?

Wat dan van die lering dat Jehovah en Jesus in werklikheid dieselfde God is, soos die Drie-eenheidsleer verklaar? In The Living Pulpit se nommer van April-Junie 1999 het die tydskrif die Drie-eenheid soos volg gedefinieer: “Daar is een God en Vader, een Here Jesus Christus en een Heilige Gees, drie ‘persone‘ . . . wat dieselfde of een in wese is . . . ; drie persone wat in gelyke mate God is en dieselfde eienskappe besit, en tog onderskeie is, herkenbaar aan hulle persoonlike eienskappe.” *

Waar het hierdie ingewikkelde Drie-eenheidsleer sy ontstaan gehad? Die Christian Century het in sy nommer van 20-27 Mei 1998 ’n predikant aangehaal wat erken dat die Drie-eenheid “’n lering van die kerk en nie ’n lering van Jesus [is] nie”. Maar stem die Drie-eenheid ooreen met wat Jesus geleer het, al is dit nie ’n lering van Jesus nie?

Die Vader—verhewe bo die Seun

Jesus het sy dissipels leer bid: “Onse Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word.” Die Bybel beskryf ons hemelse Vader, wie se naam Jehovah is, as verhewe bo sy Seun. Jehovah is byvoorbeeld “van ewigheid tot ewigheid”. Maar die Bybel sê dat Jesus “die eersgeborene van die hele skepping” is. Dat Jehovah groter as Jesus is, is iets wat Jesus self geleer het toe hy gesê het: “Die Vader is groter as ek” (Matteus 6:9; Psalm 90:1, 2; Kolossense 1:15; Johannes 14:28, Die Bybel, 1953). Maar volgens die Drie-eenheidsleer is die Vader en die Seun “in gelyke mate God”.

Die feit dat die Vader verhewe is bo die Seun en ’n afsonderlike persoon is, kan ook gesien word in Jesus se gebede, soos die een voor sy teregstelling: “Vader, as u wil, neem hierdie beker [dit wil sê ’n vernederende dood] van my af weg. Laat nietemin nie my wil nie, maar u wil geskied” (Lukas 22:42). As God en Jesus “een in wese” is, soos die Drie-eenheidsleer sê, hoe kon Jesus se wil, of wens, blykbaar van sy Vader s’n verskil het?—Hebreërs 5:7, 8; 9:24.

Verder, as Jehovah en Jesus dieselfde persoon is, hoe kon een van hulle bewus gewees het van dinge waarvan die ander nie bewus was nie? Jesus het byvoorbeeld in verband met die tyd wanneer die wêreld geoordeel sal word, gesê: “Van daardie dag of die uur weet niemand nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader.”—Markus 13:32.

Die Drie-eenheid en die Kerk

Die Drie-eenheid is nie ’n lering van Jesus of die vroeë Christene nie. Soos vroeër gesê is, is dit “’n lering van die kerk”. In sy nommer oor die Drie-eenheid in 1999 het The Living Pulpit gesê: “Soms lyk dit of almal aanneem dat die leerstelling van die drie-eenheid ’n algemeen aanvaarde teologiese lering onder Christene is”, maar dit het bygevoeg dat dit nie “’n Bybelse idee” is nie.

Die New Catholic Encyclopedia (1967) bespreek die Drie-eenheid breedvoerig en erken: “Die Drie-eenheidsdogma is in werklikheid ’n skepping van die laaste deel van die 4de eeu. . . . Die formulering ‘een God in drie Persone’ was nie voor die einde van die 4de eeu stewig gevestig nie en was beslis nie voor daardie tyd ten volle in die Christelike lewe en sy geloofsbelydenis opgeneem nie.”

Martin Werner, professor aan die Universiteit van Bern, Switserland, het gesê: “Wanneer Jesus se posisie in verhouding tot God, die Vader, in die Nuwe Testament ter sprake kom, hetsy in verband met sy koms as ’n mens of in verband met sy Messiaanse status, word dit altyd verstaan en ondubbelsinnig voorgestel as een van ondergeskiktheid.” Daar is duidelik ’n hemelsbreë verskil tussen wat Jesus en die vroeë Christene geglo het en die Drie-eenheidsleer wat kerke vandag glo. Waar het hierdie lering dan vandaan gekom?

Die vroeë oorspronge van die Drie-eenheid

Die Bybel vertel van baie gode en godinne wat deur mense aanbid is, onder meer Astoret, Milkom, Kamos en Molog (1 Konings 11:1, 2, 5, 7). Daar was selfs talle eertydse Israeliete wat op een stadium geglo dat Baäl die ware God is. Gevolglik het Jehovah se profeet Elia hulle uitgedaag: “As Jehovah die ware God is, gaan volg hom; maar as dit Baäl is, gaan volg hom.”—1 Konings 18:21.

Voor Jesus se geboorte was die aanbidding van heidense gode in groepe van drie, of triades, ook iets algemeens. “Uit Egipte het die opvattings van ’n goddelike drie-eenheid gekom”, sê die geskiedskrywer Will Durant. In die Encyclopædia of Religion and Ethics het James Hastings geskryf: “In Indiese godsdiens tref ons bv. die trinitariese groep Brahma, Siwa en Wisjnoe aan; en in Egiptiese godsdiens die trinitariese groep Osiris, Isis en Horus.”

Daar is dus baie gode. Het die vroeë Christene dit erken? En het hulle Jesus as God die Almagtige beskou?

[Voetnote]

^ par. 11 Sien byvoorbeeld Psalm 110:1 in Die Bybel, 1953. Jesus sowel as Petrus het hierdie vers aangehaal.—Matteus 22:42-45; Handelinge 2:34-36.

^ par. 12 Sien die artikel “God se naam—Moet ons dit gebruik?” op bladsy 31 van hierdie tydskrif.

^ par. 14 Die Athanasiaanse Geloofsbelydenis, wat ’n paar honderd jaar ná Jesus se dood geformuleer is, het die Drie-eenheid so gedefinieer: “Die Vader is God: die Seun is God en die Heilige Gees is God. En tog is hulle nie drie Gode nie: maar een God.”

[Prent op bladsy 7]

EGIPTE

Triade van Horus, Osiris en Isis, tweede millennium v.G.J.

[Prent op bladsy 7]

PALMIRA, SIRIË

Triade van die maangod, die Heer van die hemele, en die songod, c. eerste eeu G.J.

[Prent op bladsy 7]

INDIË

Drie-enige Hindoegodheid, c. sewende eeu G.J.

[Prent op bladsy 7]

NORWEË

Drie-eenheid (Vader, Seun en Heilige Gees), c. 13de eeu G.J.

[Foto-erkenning op bladsy 7]

Boonste twee foto’s: Musée du Louvre, Paris