Spring na inhoud

 Jongmense vra . . .

Waarom is daar soveel reëls?

Waarom is daar soveel reëls?

“Die feit dat ek ’n sekere tyd by die huis moes wees, het my ontsettend geïrriteer! Ek het dit gehaat wanneer ander toegelaat is om later as ek uit te bly.”—Allen.

“Dis vreeslik wanneer jou selfoonoproepe gemonitor word. Ek voel asof ek soos ’n kind behandel word!”—Elizabeth.

VOEL jy oorlaai met beperkings by die huis? Het jy al ooit in die versoeking gekom om uit die huis te sluip of om vir jou ouers te lieg oor wat jy gedoen het? Indien wel, voel jy dalk soos een tiener wat haar ouers as oorbeskermend beskryf en sê: ‘Hulle moet my net ’n bietjie vryheid gee!’

Huisreëls, soos dit soms genoem word, is die moets en moenies wat jou ouers of voogde vir jou neergelê het. Hierdie reëls behels dalk vereistes in verband met huiswerk, daaglikse takies en inkomtye, sowel as beperkings op jou gebruik van die telefoon, die TV of die rekenaar. Dalk is dit nie net beperk tot wat jy by die huis moet doen nie, maar sluit moontlik ook in hoe jy jou by die skool moet gedra en met wie jy vriende mag wees.

Baie jongmense oortree dikwels hulle ouers se reëls. Tydens een studie het byna twee derdes van die adolessente met wie daar ’n onderhoud gevoer is, gesê dat hulle al gestraf is omdat hulle huisreëls oortree het, wat dit verreweg die algemeenste rede vir straf maak.

Die meeste jongmense erken egter dat party reëls nodig is om algehele chaos te voorkom. Maar as huisreëls werklik nodig is, waarom is party dan so irriterend? En hoe kan jy verligting vind as jy voel dat jou ouers se reëls jou versmoor?

‘Ek is nie meer ’n baba nie’!

“Hoe sê ek vir my ouers dat ek nie meer ’n baba is nie en dat hulle my moet toelaat om groot te word?” vra ’n tiener met die naam Emily. Het jy al ooit so gevoel? Soos Emily is jy dalk omgekrap oor die reëls omdat jy meen dat jy soos ’n hulpelose baba behandel word. Natuurlik beskou jou ouers sake waarskynlik anders. Hulle dink heel moontlik dat hulle reëls noodsaaklik is om jou te beskerm en voor te berei vir  die verantwoordelikhede van volwassenheid.

Al het jy ’n mate van vryheid, dink jy dalk dat julle huisreëls nie saam met jou “grootgeword” het nie. Dit kan veral moeilik wees as jou broers of susters oënskynlik meer toegeeflik behandel is. Marcy sê: “Ek is 17, en my ouers het gesê dat ek redelik vroeg by die huis moes wees. Ek word gehok as ek enigiets verkeerd doen, maar toe my broer my ouderdom was, kon hy so laat uitbly as wat hy wou en is hy nooit gehok nie.” Matthew sê van sy jonger suster en niggies: “Die meisies het met moord weggekom!”

Geen reëls?

Dit is te verstane dat jy nie altyd onder jou ouers se gesag wil lewe nie. Maar sou jy regtig beter af wees sonder hulle beperkings? Jy ken waarskynlik jongmense van jou ouderdom wat kan uitbly so laat as wat hulle wil, kan dra net wat hulle wil, en saam met hulle vriende kan uitgaan, net wanneer en waarheen hulle wil. Dalk is hulle ouers bloot so besig dat hulle nie agterkom wat hulle kinders doen nie. Hoe dit ook al sy, hierdie benadering tot die grootmaak van kinders is nie suksesvol nie (Spreuke 29:15). ’n Vername rede vir die gebrek aan liefde wat jy in die wêreld sien, is dat dit vol egosentriese mense is, waarvan baie in huise grootgemaak is sonder enige beperkings.—2 Timoteus 3:1-5.

Eendag sal jy dalk anders voel oor ’n huis sonder reëls. Neem byvoorbeeld ’n studie onder jong vroue wat grootgeword het met min huisreëls en min of geen ouerlike toesig nie. Toe hulle aan daardie tyd terugdink, het nie een van hulle ’n positiewe beskouing oor die gebrek aan dissipline gehad nie. Hulle het dit eerder beskou as bewys dat hulle ouers nie besorg of bevoeg was nie.

In plaas daarvan om jaloers te wees op jongmense wat toegelaat word om te doen wat hulle wil, moet jy jou ouers se reëls probeer beskou as ’n bewys dat hulle jou liefhet en oor jou besorg is. Deur redelike perke te stel, boots hulle Jehovah God na, wat vir sy volk sê: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou.”—Psalm 32:8.

Maar op die oomblik voel dit dalk vir jou asof daar te veel reëls is om te verdra. Indien wel, kyk na ’n paar praktiese stappe wat jy kan doen om jou gesinslewe meer genotvol te maak.

 Kommunikasie wat werk

Hetsy jy meer vryheid wil hê of net minder gefrustreerd wil wees oor hoeveel vryheid jy tans het, goeie kommunikasie is die sleutel. ‘Maar ek het al met my ouers probeer praat, en dit werk eenvoudig nie!’ sê party dalk. As dit is hoe jy voel, vra jou af: ‘Kan ek my kommunikasievaardighede verbeter?’ Kommunikasie is ’n noodsaaklike hulpmiddel wat jou kan help om óf (1) te kry wat jy wil hê, óf (2) beter te verstaan waarom jy nie kan kry wat jy wil hê nie. Ja, as jy soos ’n grootmens behandel wil word, is dit net redelik dat jy moet leer om op ’n volwasse manier te kommunikeer.

Leer om jou emosies in toom te hou. Die Bybel sê: “’n Sot laat al sy gees uit, maar hy wat wys is, hou dit tot op die laaste kalm” (Spreuke 29:11). Goeie kommunikasie behels meer as om net te kla. Dit sal dalk net daartoe lei dat jy weer oor die kole gehaal word! Moet dus nie kerm, dikmond wees of kinderagtige woedebuie hê nie. Dit maak nie saak hoe graag jy die deur wil toeslaan of stampvoet deur die huis wil loop wanneer jou ouers vir jou beperkings stel nie, sulke gedrag sal heel moontlik tot meer reëls lei—nie tot meer vryheid nie.

Probeer om te verstaan waarom jou ouers besorg is

Probeer om jou ouers se beskouing in te sien. Tracy, ’n jong Christen in ’n enkelouergesin, het gevind dat dit help. Sy sê: “Ek vra my af: ‘Wat probeer my ma met haar reëls bereik?’ Sy probeer my help om ’n beter persoon te word” (Spreuke 3:1, 2). As jy probeer om jou ouers se beskouing in te sien, kan dit jou help om jou oogpunt aan jou ouers te verduidelik. Sê nou byvoorbeeld dat hulle jou nie na ’n sekere geselligheid wil laat gaan nie. In plaas daarvan om met hulle te stry, kan jy vra: “Wat daarvan as ’n ryp, betroubare vriend saam met my gaan?” Jou ouers sal dalk nie altyd jou versoeke toestaan nie; maar as jy verstaan waarom hulle besorg is, het jy ’n beter kans om ’n aanvaarbare opsie voor te stel.

Bou jou ouers se vertroue in jou op. Om jou ouers se vertroue te wen, is soos om geld in ’n bankrekening te plaas. Jy kan slegs onttrek wat jy reeds gedeponeer het. As jou rekening oortrokke raak, word jy gepenaliseer, en as dit herhaaldelik gebeur, kan jou rekening gesluit word. Om ’n addisionele voorreg te kry, is soos om ’n onttrekking te maak; dit sal slegs goedgekeur word as jy ’n rekord van verantwoordelike gedrag opgebou het.

Moenie onrealistiese verwagtinge hê nie. Ouers het die verantwoordelikheid om ’n redelike mate van beheer uit te oefen oor wat jy doen. Die Bybel praat dus van “die gebod van jou vader” en “die wet van jou moeder” (Spreuke 6:20). Maar jy hoef nie te voel dat huisreëls jou lewe gaan verwoes nie. Inteendeel, as jy jou aan jou ouers se gesag onderwerp, belowe Jehovah dat dit op die lange duur “met jou goed [sal] gaan”!—Efesiërs 6:1-3.

IETS OM OOR TE DINK

  • Watter reëls is vir jou die moeilikste om te gehoorsaam?

  • Watter punte in hierdie artikel sal jou help om met jou ouers se reëls saam te leef?

  • Hoe kan jy meer van jou ouers se vertroue wen?