Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Redes om die Bybel te vertrou

3. Interne harmonie

3. Interne harmonie

Stel jou voor dat jy 40 manne uit verskillende agtergronde vra om elkeen ’n deel van ’n boek te skryf. Die skrywers woon in ’n paar verskillende lande, en nie almal ken mekaar nie. Party weet nie wat die ander geskryf het nie. Sou jy verwag dat so ’n boek harmonies sou wees?

DIE Bybel is so ’n boek. * Dit is onder selfs buitengewoner omstandighede geskryf as wat hierbo beskryf is, wat die interne harmonie daarvan niks minder as uitsonderlik maak nie.

Was Jesus se kleed purper of skarlaken?

Unieke omstandighede.

Die Bybel is oor ’n tydperk van ongeveer 1 600 jaar geskryf, van 1513 v.G.J. tot omstreeks 98 G.J. Baie van die nagenoeg 40 skrywers het dus eeue uit mekaar gelewe. Hulle het uiteenlopende beroepe gehad. Party was vissermanne, ander was herders of konings en een was ’n dokter.

’n Harmoniese boodskap.

Die Bybelskrywers het een sentrale tema ontwikkel: die regverdiging van God se reg om oor die mens te heers en die verwesenliking van sy voorneme deur middel van sy hemelse Koninkryk, ’n wêreldregering. Hierdie tema word in Genesis ingelei, verder ontwikkel in die boeke wat volg en in Openbaring tot ’n klimaks gevoer.—Sien “Waaroor handel die Bybel?” op bladsy 19.

Eenstemmigheid oor besonderhede.

Die Bybelskrywers was dit eens oor selfs klein besonderhede, maar dikwels is dit duidelik dat hierdie harmonie toevallig was. Kyk na ’n voorbeeld. Die Bybelskrywer Johannes sê vir ons dat toe ’n groot menigte gekom het om na Jesus te luister, Jesus spesifiek vir Filippus gevra het waar hulle vir die mense brode kon koop om te eet (Johannes 6:1-5). In ’n parallelle verslag sê Lukas dat dit naby die stad Betsaida plaasgevind het. Vroeër in sy boek het Johannes toevallig gemeld dat Filippus van Betsaida was (Lukas 9:10; Johannes 1:44). Dit maak dus sin dat Jesus sy vraag gerig het aan een van die manne wat vroeër daar naby gewoon het. Die besonderhede stem ooreen, maar dit is duidelik dat daar nie ’n doelbewuste poging was om dit te laat klop nie. *

Redelike verskille.

Daar is verskille tussen sekere verslae, maar behoort ons dit nie te verwag nie? Gestel ’n groep mense sien hoe ’n misdaad plaasvind. As elkeen dieselfde besonderhede noem en dieselfde woorde gebruik, sou jy nie vermoed dat hulle gekonkel het nie? Dit is redelik om te dink dat elkeen se getuienis effens sal verskil na aanleiding van die unieke hoek waaruit hy dit waargeneem het. Dit was ook die geval met die Bybelskrywers.

Kyk na ’n voorbeeld. Het Jesus ’n purper kleed op die dag van sy dood aangehad, soos Markus en Johannes sê? (Markus 15:17; Johannes 19:2). Of was dit skarlaken, soos Matteus sê? (Matteus 27:28). Albei kan eintlik reg wees. Purper bevat komponente van rooi. Afhangende van die hoek waaruit iemand na die kleed gekyk het, kon die weerkaatsing van die lig en die agtergrond sekere kleure gedemp het, wat die kleed vir verskillende waarnemers verskillend kon laat lyk het. *

Die harmonie wat tussen die Bybelskrywers bestaan het, insluitende hulle toevallige konsekwentheid, is ’n verdere bewys dat hulle geskrifte betroubaar is.

^ par. 4 Die Bybel is ’n versameling van 66 boeke, of dele, wat met Genesis begin en met Openbaring eindig.

^ par. 7 Vir meer voorbeelde van sulke harmonie, sien bladsye 16-17 van die brosjure ’n Boek vir alle mense, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 9 Vir verdere inligting, sien hoofstuk 7, “Weerspreek die Bybel homself?”, van die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.