Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lewe anderkant die graf—Dit is moontlik!

Lewe anderkant die graf—Dit is moontlik!

IN ’N rolprent van ’n paar jaar gelede was daar ’n toneel waar ’n jong man by ’n geliefde se graf staan. “Ma het altyd gesê die dood is deel van die lewe”, het hy gesê. Toe, terwyl die kamera ’n oomblik op die grafsteen gefokus het, het hy bygevoeg: “Ek wens regtig dit was nie so nie.”

Hierdie woorde druk die gevoelens uit van miljarde wat al ’n geliefde aan die dood afgestaan het. Wat ’n aaklige vyand! Tog belowe God: “As die laaste vyand gaan die dood tot niet gemaak word” (1 Korintiërs 15:26). Maar waarom sterf ons, al het ons blykbaar die vermoë om vir ewig te lewe? Hoe sal die dood uit die weg geruim word?

Waarom ons oud word en sterf

Aangaande Jehovah God, ons Skepper, sê die Bybel: “Volmaak is sy werk” (Deuteronomium 32:4; Psalm 83:18). Die eerste mens, Adam, is volmaak geskep, en hy het die potensiaal gehad om vir ewig te lewe in Eden, die aardse Paradystuin waarin God hom geplaas het (Genesis 2:7-9). Waarom het Adam daardie Paradystuiste verloor en oud geword en gesterf?

 Kortom: Adam was ongehoorsaam aan die bevel om nie van die vrugte van ’n spesifieke boom te eet nie. God het Adam duidelik gewaarsku wat die straf daarvoor sou wees deur te sê: “Jy [sal] sekerlik sterf” (Genesis 2:16, 17). Adam was saam met sy vrou, Eva, ongehoorsaam aan daardie bevel, en daarom het God hulle uit Eden gesit. Die rede vir God se vinnige optrede is betekenisvol. Die Bybel sê: “Sodat [Adam] nie sy hand uitsteek en werklik ook vrugte van die [tuin se] boom van die lewe neem en eet en [vir ewig] lewe nie.”—Genesis 3:1-6, 22.

Adam en Eva het weens hulle ongehoorsaamheid gesterf, maar waarom word al hulle nakomelinge oud en sterf hulle? Omdat hulle sonde van Adam geërf het, en sonde het onvolmaaktheid en die dood vir elkeen van sy nageslag tot gevolg. Die Bybel verduidelik: “Net soos deur een mens [Adam] die sonde in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het.”—Romeine 5:12.

Toekomstige lewe moontlik gemaak

Soos ons vroeër gelees het, “gaan die dood tot niet gemaak word”—ja, vir ewig verwyder word! (1 Korintiërs 15:26). Maar hoe? Die Bybel verduidelik dit en sê: “Deur een daad van regverdiging [lei dit ook] vir alle soorte mense tot regverdigverklaring vir die lewe” (Romeine 5:18). Presies wat maak dit vir ons moontlik om ’n regverdige posisie voor God te hê en die ewige lewe te geniet?

Dit is die voorsiening om alle mense die sonde kwyt te skeld wat hulle van die eerste mens, Adam, geërf het. Die Bybel verduidelik: “Die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here” (Romeine 6:23). Aangaande hierdie voorsiening om mense vir lewe regverdig te verklaar, het Jesus gesê: “God het die wêreld [mense] so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.

Dink na oor die diepte van God se liefde vir ons, asook dié van sy Seun, Jesus Christus, wat soveel ten behoewe van ons gely het. Die apostel Paulus het geskryf: “Die Seun van God [het] my liefgehad . . . en homself vir my oorgegee” (Galasiërs 2:20). Maar waarom is Jesus die enigste mens wat “sy siel . . . as ’n losprys” vir ons kon gee en ons sodoende van die dodelike gevolge van sonde kon red?—Matteus 20:28.

Jesus was die enigste een wat sy siel as ’n losprys kon gee omdat hy die enigste mens was wat nie sonde van die eerste mens, Adam, geërf het nie. Hoe so? Omdat Jesus se lewe wonderdadig oorgeplaas is van die hemel af na die baarmoeder van Maria, wat ’n maagd was. Daarom, soos ’n engel vir Maria gesê het, was haar seun “heilig, God se Seun” (Lukas 1:34, 35). Dit is waarom Jesus “die laaste Adam” genoem word en waarom hy nie sonde van “die eerste mens, Adam,” geërf het nie (1 Korintiërs 15:45). As ’n sondelose mens kon Jesus homself dus aanbied as “’n ooreenstemmende losprys”—sy lewe het ooreengekom met, of was die ekwivalent van, die eens volmaakte, sondelose, eerste mens.—1 Timoteus 2:6.

Deur middel van hierdie voorsiening van die losprys het God dit vir ons moontlik gemaak  om te ontvang wat die eerste Adam verloor het, naamlik die ewige lewe in ’n aardse paradys. Om hierdie seëning te ontvang, sal die oorgrote meerderheid van die mensdom egter opgewek moet word. Wat ’n wonderlike vooruitsig! Maar is dit eenvoudig te goed om waar te wees?

Grondslag vir geloof

Is dit werklik te moeilik om te glo dat Jehovah God, wat lewe geskep het, die mag het om ’n persoon wat eens op ’n tyd gelewe het, weer te skep? Dink aan die vermoë wat God die eerste vrou gegee het om bevrug te word, of swanger te raak. “Adam het met sy vrou Eva gemeenskap gehad”, en ongeveer nege maande later het sy ’n ten volle ontwikkelde, klein weergawe van hulleself in die wêreld gebring (Genesis 4:1). Wat binne-in Eva se baarmoeder gebeur het om al die dele van die baba te skep en saam te voeg, word steeds beskryf as ’n wonderwerk, iets wat die menslike verstand te bowe gaan!—Psalm 139:13-16.

Geboorte word oor die algemeen as iets vanselfsprekends aangeneem, aangesien dit honderdduisende kere per dag plaasvind. Maar om iemand wat voorheen gelewe het, weer lewend te maak, word nog steeds deur baie as iets onmoontliks beskou. Toe Jesus vir mense wat oor die dood van ’n jong meisie geween het, gesê het om op te hou huil, “het hulle hom begin uitlag”, want hulle het geweet dat sy gesterf het. Maar Jesus het met die dooie meisie gepraat en gesê: “‘Staan op!’ En onmiddellik het die meisie opgestaan en begin loop.” Daar word vir ons gesê: “Dadelik was [diegene wat teenwoordig was] buite hulleself van groot ekstase.”—Markus 5:39-43; Lukas 8:51-56.

Toe Jesus gevra het dat die graf van sy dierbare vriend Lasarus oopgemaak moet word, het Marta, ’n suster van Lasarus, beswaar gemaak: “Hy moet nou al ruik, want dit is vier dae.” Maar hoe verheug was almal tog toe Jesus Lasarus opgewek het! (Johannes 11:38-44). Baie het gehoor van Jesus se wonderwerke. Toe Johannes die Doper in die gevangenis was, het Johannes se dissipels aan hom verslag gedoen oor Jesus se bedrywighede en gesê: “Die dooies word opgewek.”—Lukas 7:22.

’n Ander lewe deur ’n opstanding

Waarom het Jesus sulke wonderwerke verrig as diegene wat opgewek is, later net weer siek geword en gesterf het? Hy het dit gedoen om te bewys dat wat die eerste Adam verloor het—die ewige lewe op ’n paradysaarde—herstel kan word en sal word. Die opstandings wat Jesus verrig het, het getoon hoe miljoene mense uiteindelik “die aarde [sal] besit” en “vir ewig daarop [sal] woon”.—Psalm 37:29.

Gelukkig kan ons, as ons “godvrugtige toegewydheid” beoefen, onder diegene wees wat die wonderlike vooruitsig het om vir ewig te lewe. Sulke toegewydheid, sê die Bybel, hou “belofte [in] vir die teenswoordige en die toekomstige lewe”. Daardie “toekomstige lewe” word ook “die ware lewe” en “die werklike lewe” genoem.—1 Timoteus 4:8; 6:19; Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

Kom ons kyk hoe hierdie werklike lewe sal wees—die toekomstige lewe in ’n regverdige nuwe wêreld.