Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Jongmense vra

Hoe kan ek stres by die skool die hoof bied?

Hoe kan ek stres by die skool die hoof bied?

“Stres by die skool word nie minder wanneer jy ouer word nie—die redes daarvoor verander net.”—James, Nieu-Seeland. *

“Ek het gevoel asof daar by die skool soveel druk op my was dat ek dikwels tegelykertyd wou huil en skree.”—Sharon, Verenigde State.

VOEL jy dat jou ouers eenvoudig nie verstaan hoeveel stres jy by die skool het nie? Hulle sê dalk vir jou dat jy nie ’n huislening het om af te betaal, ’n gesin het om voor te sorg of ’n werkgewer het om gelukkig te hou nie. Maar jy voel waarskynlik dat jy by die skool onder net soveel—of selfs meer—druk as jou ouers is.

Net om skool toe en terug te ry, kan stresvol wees. “Daar was dikwels ’n bakleiery op die skoolbus”, sê Tara, wat in die Verenigde State woon. “Die bestuurder het dan stilgehou en almal moes afklim. Dan was ons almal ten minste ’n halfuur laat.”

Hou die stres op wanneer jy by die skool aankom? Glad nie! Dalk voel jy soos party van die jongmense wat hieronder aangehaal word.

Stres as gevolg van onderwysers.

“My onderwysers wil hê dat ek moet uitblink en die beste moontlike punte moet kry, en ek voel onder druk om hulle goedkeuring te verkry.”—Sandra, Fidji.

“Onderwysers druk leerders om op akademiese vlak uit te blink, veral as die leerder ’n bietjie potensiaal het. Die onderwysers plaas baie druk op ’n mens om suksesvol te wees.”—April, Verenigde State.

“Selfs al het jy goeie lewensdoelwitte, laat sommige onderwysers jou nutteloos voel as jy nie die akademiese doelwitte nastreef wat hulle dink jy moet nastreef nie.”—Naomi, Verenigde State.

Hoe word jy geraak deur stres as gevolg van onderwysers?

․․․․․

  Druk as gevolg van portuurs.

“Op hoërskool het kinders meer vryheid en is hulle meer opstandig. As jy nie ook so is nie, dink hulle jy is nie cool nie.”—Kevin, Verenigde State.

“Ek kom daagliks voor die versoeking te staan om te drink of seks te hê. Soms is dit moeilik om die begeerte te weerstaan om soos die res te wees.”—Aaron, Nieu-Seeland.

“Noudat ek 12 jaar oud is, veroorsaak die druk om met iemand uit te gaan vir my die grootste stres. Almal by die skool sê: ‘Wanneer gaan jy nou met iemand begin uitgaan?’”—Alexandria, Verenigde State.

“Daar is druk op my geplaas om met ’n seun uit te gaan. Toe ek weier, is ek ’n lesbiër genoem. En dit was toe ek maar net tien jaar oud was!”—Christa, Australië.

Hoe word jy geraak deur druk as gevolg van portuurs?

․․․․․

Stres oor hoe jou klasmaats op jou godsdiensoortuigings gaan reageer.

“Dis moeilik om vir jou klasmaats van jou godsdiensoortuigings te vertel omdat jy nie seker is wat hulle dan van jou sal dink nie. Jy is bang dat hulle sal dink jy is vreemd.”—Carol, Hawaii.

“Ná laerskool raak kinders betrokke by dwelms, seks en alkohol. Dis regtig stresvol, want jy wil nie hê dat die kinders jou moet spot omdat jy anders is en volgens Bybelstandaarde lewe nie.”—Susan, Verenigde State.

Hoe word jy geraak deur kwessies wat met jou godsdiensoortuigings te doen het?

․․․․․

Ander stresfaktore.

Merk die faktor wat jou die meeste raak—of skryf dit neer.

  • Toetse

  • Huiswerk

  • Ouers se hoë verwagtinge

  • Jou eie hoë verwagtinge

  • Mense wat jou boelie of seksueel teister

  • Ander ․․․․․

Vyf stappe om stres te verminder

Dit is nie realisties om te verwag dat jou skooljare heeltemal stresvry sal wees nie. Maar te veel stres kan onderdrukkend wees. Die wyse koning Salomo het geskryf: “Verdrukking kan ’n wyse waansinnig laat optree” (Prediker 7:7). Maar jy hoef nie toe te laat dat stres jou waansinnig laat word nie. Die sleutel is om te leer hoe om stres doeltreffend te hanteer.

Om stres die hoof te bied, is soos om gewigte op te tel—as jy dit reg doen, sal dit jou sterker maak

Om stres die hoof te bied, is soos om gewigte op te tel. As ’n gewigopteller suksesvol wil wees, moet hy behoorlik voorberei. Hy gebruik die regte tegniek om die gewigte op te tel en hy tel nie te veel op nie. As hy dit doen, bou hy sterk spiere sonder dat hy sy liggaam skade aandoen. As hy egter nie hierdie stappe volg nie, kan hy ’n spier skeur of selfs ’n been breek.

Net so kan jy die stres wat jy ondervind, hanteer en die werk wat jy moet doen, suksesvol behartig sonder om jouself skade te berokken. Hoe? Neem die volgende stappe:

  1. Identifiseer die spesifieke oorsake. ’n Wyse spreuk sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het” (Spreuke 22:3). Maar jy kan jou nie van onderdrukkende stres verberg tensy jy eers identifiseer wat waarskynlik die oorsaak is nie. Kyk dus weer na die kommentare wat jy vroeër neergeskryf het. Watter stresfaktor raak jou die meeste?

  2. Doen navorsing. Byvoorbeeld, as baie huiswerk vir jou stres veroorsaak, kyk na die  voorstelle wat gevind kan word in die artikel “Jongmense vra—Hoe kan ek die tyd vind om my huiswerk te doen?” in die Ontwaak! van 22 Januarie 2004. As jy onder druk voel om by seksuele wangedrag met ’n klasmaat betrokke te raak, sal jy nuttige raad vind in die artikel “Jongmense vra—Sê nou iemand vra my om seks te hê?” in die Ontwaak! van Maart 2007.

  3. Beplan hoe jy gaan reageer. As jy gespanne voel oor hoe jou klasmaats sal reageer wanneer hulle uitvind wat jou godsdiensoortuigings is, moet jy nie wag totdat ’n krisis opduik voordat jy dink wat jy sal sê of hoe jy sal reageer nie (Spreuke 29:25). “Wat my gehelp het”, sê Kelsey, 18, “is dat ek my voorberei het voordat die situasie ontstaan het. Ek het klaar besluit hoe ek my oortuigings gaan verduidelik.” Aaron, ’n 18-jarige in België, het dit ook gedoen. “Ek het vooraf gedink aan watter vrae sou opduik, en toe het ek antwoorde op daardie vrae voorberei”, sê hy. “As ek dit nie gedoen het nie, sou ek nooit die moed gehad het om te praat oor wat ek glo nie.”

  4. Moenie uitstel nie. Daar is min probleme wat sal verdwyn as jy hulle ignoreer. Hulle word gewoonlik erger en veroorsaak sodoende vir jou meer stres. Byvoorbeeld, as jy een van Jehovah se Getuies is, kan dit werklik ’n beskerming wees om jou so gou moontlik as een te identifiseer. Marchet, wat nou 20 is, sê: “Reg aan die begin van elke skooljaar het ek ’n gesprek begin oor ’n onderwerp wat ek geweet het my ’n kans sou gee om my Bybelse standaarde te verduidelik. Ek het gevind dat hoe langer ek gewag het om my as ’n Getuie te identifiseer, hoe moeiliker het dit geword. Dit het my werklik gehelp wanneer ek my standpunt bekend gemaak het en dan die res van die jaar getrou by my ideale gebly het.”

  5. Vra hulp. Selfs die sterkste gewigopteller het sy perke. Jy het ook. Maar jy hoef nie die las alleen te dra nie (Galasiërs 6:2). Praat gerus met jou ouers of ander volwasse Christene. Wys vir hulle die antwoorde wat jy vroeër in hierdie artikel neergeskryf het. Bespreek met hulle hoe hulle jou moontlik kan help om van hierdie druk die hoof te bied. Liz, in Ierland, het vir haar pa gesê dat sy bang is om gespot te word oor haar godsdiensoortuigings. “Elke dag”, sê Liz, “het my pa saam met my gebid voordat hy my by die skool afgelaai het. Dit het my altyd veilig laat voel.”

Goeie stres?

Jy sal dit dalk moeilik vind om te glo, maar die feit dat jy wel ’n mate van stres voel, is eintlik ’n goeie ding. Waarom? Dit kan ’n aanduiding wees dat jy ywerig is en dat jou gewete nie lui geword het nie. Kyk hoe die Bybel ’n persoon beskryf wat blykbaar geen stres gevoel het nie: “Hoe lank gaan jy daar lê en hoegenaamd niks doen nie? Wanneer gaan jy opstaan en ophou slaap? Slaap ’n bietjie. Dut ’n bietjie. Vou jou hande en speel met jou duime. Skielik is alles weg, asof dit deur ’n gewapende rower geneem is.”—Spreuke 6:9-11, Contemporary English Version.

Heidi, 16, som die saak goed op. Sy sê: “Skool voel dalk soos ’n baie slegte plek, maar die druk waarvoor jy daar te staan kom, is dieselfde as wat jy in die werksplek sal teëkom.” Dit is beslis nie maklik om stres die hoof te bied nie, maar as jy stres reg hanteer, sal dit jou nie skade aandoen nie. Trouens, dit kan jou ’n sterker persoon maak.

^ par. 3 Van die name in hierdie artikel is verander.

IETS OM OOR TE DINK

  • Watter simptome kan aandui dat jy stres ondervind?

  • Waarom sal dit net jou stres vererger as jy ’n perfeksionis is?

  • Met wie kan jy praat as jy voel dat jy deur stres oorweldig word?