Spring na inhoud

 Die Bybel se beskouing

Wanneer is Jesus gebore?

Wanneer is Jesus gebore?

“DIE presiese datum waarop Christus gebore is, is onbekend”, sê die Encyclopedia of Early Christianity. Nogtans vier miljoene verklaarde Christene dwarsoor die wêreld die geboorte van Jesus op 25 Desember. Hierdie datum verskyn egter nêrens in die Bybel nie. Is Jesus werklik in Desember gebore?

Hoewel die Bybel nie ’n spesifieke datum vir Jesus se geboorte verstrek nie, voorsien dit wel bewyse dat hy nie in Desember gebore is nie. Die sekulêre geskiedenis toon ook waarom 25 Desember gekies is as die datum om sy geboorte te vier.

Waarom nie Desember nie?

Jesus is in die Judese stad Betlehem gebore. Lukas se Evangelie sê: “Daar was ook in daardie selfde landstreek herders wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle kuddes wag gehou het” (Lukas 2:4-8). Dit was nie ongewoon nie. “Die kuddes moes die grootste deel van die jaar in die buitelug deurbring”, sê die boek Daily Life in the Time of Jesus. Maar sou die herders op ’n koue nag in Desember saam met hulle kuddes buite gewees het? Die boek sê: “Hulle het die winter onderdak deurgebring; en dit op sigself toon dat die tradisionele datum vir Kersfees, in die winter [van die Noordelike Halfrond], waarskynlik nie korrek is nie, aangesien die Evangelie sê dat die herders in die veld was.”

Hierdie gevolgtrekking word gestaaf deur ’n ander feit in Lukas se Evangelieverslag: “In daardie dae het ’n verordening van keiser Augustus uitgegaan dat die hele bewoonde aarde geregistreer moet word (hierdie eerste registrasie het plaasgevind toe Quirinius goewerneur van Sirië was); en al die mense het op reis gegaan om geregistreer te word, elkeen na sy eie stad.”—Lukas 2:1-3.

Augustus het waarskynlik beveel dat hierdie registrasie gedoen word as ’n sensus om inligting in te samel wat in verband met belasting en militêre diensplig gebruik kon word. Om die bevel te gehoorsaam, het Maria, hoewel sy hoogswanger was, saam met haar man, Josef, die reis van sowat 150 kilometer van Nasaret na Betlehem  aangepak. Dink nou hieroor na. Klink dit waarskynlik dat Augustus—’n heerser wat selde met die plaaslike regering ingemeng het—sou vereis dat ’n volk wat reeds geneig was tot opstandigheid, so ’n lang reis in die winter moes aflê?

Dit is betekenisvol dat die meeste geskiedkundiges en Bybelgeleerdes 25 Desember as die datum van Jesus se geboorte verwerp. Jy sal ongetwyfeld sulke inligting in ’n ensiklopedie kan vind. Our Sunday Visitor’s Catholic Encyclopedia sê: “Daar is oor die algemeen eenstemmigheid dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie.”

Die Bybel voorsien bewyse dat Jesus nie in Desember gebore is nie

Waarom 25 Desember gekies is

Honderde jare ná Jesus se dood is 25 Desember as sy geboortedatum gekies. Waarom? Baie geskiedkundiges glo dat die tyd van die jaar wat die Kersseisoen geword het, eintlik ’n tyd was toe heidense feesvieringe plaasgevind het.

Die Encyclopædia Britannica sê byvoorbeeld: “Een algemene verduideliking van die oorsprong van hierdie datum is dat 25 Desember die verchristeliking was van die dies solis invicti nati (‘geboortedag van die onoorwinlike son’), ’n gewilde vakansiedag in die Romeinse Ryk wat die wintersonstilstand gevier het as ’n simbool van die herlewing van die son, die verdrywing van die winter en die aankondiging van die wedergeboorte van die lente en die somer.”

The Encyclopedia Americana deel ons mee: “Die rede waarom daar op 25 Desember as Kersdag besluit is, is ietwat duister, maar daar word oor die algemeen aanvaar dat die dag gekies is om saam te val met heidense feeste wat ongeveer die tyd van die wintersonstilstand, wanneer die dae begin langer word, gehou is om die ‘hergeboorte van die son’ te vier. . . . Die Romeinse Saturnalieë (’n fees wat aan Saturnus, die god van landbou, sowel as aan die hernieude krag van die son gewy is) het ook in hierdie tyd plaasgevind.” Diegene wat aan hierdie feesvieringe deelgeneem het, het hulle gewoonlik aan losbandige gedrag skuldig gemaak, waaronder onbeteuelde en oproerige pretmakery. Dit is betekenisvol dat sulke gedrag kenmerkend is van baie van vandag se Kersvieringe.

Hoe om Christus te eer

Party meen dat Christene nog steeds Jesus se geboorte moet herdenk, ongeag wat die eintlike datum is. Uit hulle oogpunt is so ’n viering, wanneer dit op ’n waardige manier gedoen word, ’n gepaste manier om Christus te eer.

Die geboorte van Jesus is inderdaad ’n belangrike gebeurtenis in die Bybelverslag. Die Bybel sê dat ’n menigte engele skielik verskyn het toe Jesus gebore is en dat hulle God vreugdevol begin loof het en gesê het: “Heerlikheid aan God in die hoogtes daar bo, en op aarde vrede onder mense van welwillendheid” (Lukas 2:13, 14). Dit is egter noemenswaardig dat daar nêrens in die Bybel enige aanduiding is dat Jesus se geboortedag gevier moet word nie. Tog is daar ’n spesifieke opdrag om sy dood te herdenk, wat Jehovah se Getuies een keer per jaar doen (Lukas 22:19). Dit is een manier om Jesus te eer.

Op die laaste aand van sy lewe as ’n mens het Jesus gesê: “Julle is my vriende as julle doen wat ek julle beveel” (Johannes 15:14). Hy het ook gesê: “As julle my liefhet, sal julle my gebooie bewaar” (Johannes 14:15). Dit is duidelik dat daar geen beter manier is om Jesus Christus te eer as om kennis op te doen van sy leringe en dit te volg nie.