Vier dinge wat jy omtrent egskeiding moet weet
Nadat die eienaars vasgestel het wat die skade is, het hulle ’n keuse—breek die huis af of herstel dit.
HET julle in julle huwelik by ’n soortgelyke kruispad gekom? Jou huweliksmaat het dalk jou vertroue geskend, of voortdurende konflik het moontlik julle verhouding van vreugde beroof. Indien wel, sê jy dalk vir jouself: ‘Ons is nie meer lief vir mekaar nie’ of ‘Ons is maar net nie vir mekaar bedoel nie’ of ‘Ons het nie geweet wat ons doen toe ons getrou het nie’. Jy dink dalk selfs: ‘Miskien moet ons skei.’
Dink goed na voordat jy oorhaastig besluit om jou huwelik te beëindig. Egskeiding maak nie altyd ’n einde aan die sorge van die lewe nie. Inteendeel, dit verruil dikwels net een stel probleme vir ’n ander. In sy boek The Good Enough Teen waarsku dr. Brad Sachs: “Egpare wat uitmekaargaan, fantaseer oor die volmaakte egskeiding—die skielike en permanente einde aan donker en stormagtige konflik wat deur die koel, vertroostende briese van kalmte en innerlike vrede vervang word. Maar so ’n toestand is net so immerontwykend as die volmaakte huwelik.” Dit is dus belangrik om ten volle ingelig te wees en om die kwessie van egskeiding realisties te benader.
Die Bybel en egskeiding
Die Bybel neem egskeiding nie ligtelik op nie. Dit sê dat Jehovah God dit as verraderlik en haatlik beskou as iemand weens onbenullige redes besluit om te skei, miskien om met iemand anders te trou (Maleagi 2:13-16). Die huwelik is ’n permanente band (Matteus 19:6). Baie huwelike wat weens nietighede verbrokkel het, kon gered geword het as huweliksmaats meer vergewensgesind was.—Matteus 18:21, 22.
Terselfdertyd laat die Bybel egter egskeiding en hertroue toe op grond van een rede—geslagsomgang buite die huwelik (Matteus 19:9). As jy uitvind dat jou maat ontrou was, het jy dus die reg om die huwelik te beëindig. Ander moenie hulle beskouings op jou afdwing nie, en dit is nie die doel van hierdie artikel om vir jou te sê wat jy moet doen nie. Op die ou end is jy die een wat met die gevolge gaan saamleef; daarom is jy die een wat moet besluit.—Galasiërs 6:5.
Die Bybel sê nogtans: “Die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe” (Spreuke 14:15). Al het jy dus skriftuurlike grond vir egskeiding, sal dit goed wees om ernstig na te dink oor wat hierdie stap sal beteken (1 Korintiërs 6:12). “Party dink miskien dat hulle gou moet besluit”, sê David, in Brittanje. “Maar omdat ek al ’n egskeiding deurgemaak het, kan ek uit ondervinding sê dat tyd nodig is om dinge te deurdink.” *
Kom ons bespreek vier belangrike dinge waaroor jy moet nadink. Terwyl ons dit doen, let asseblief daarop dat nie een van die geskeide mense wat aangehaal word, sê dat hulle die verkeerde besluit geneem het nie. Hulle kommentare vestig egter die aandag op party van die uitdagings wat dikwels ontstaan in die maande of selfs die jare nadat ’n huwelik beëindig is.
1 Finansiële probleme
Daniella, in Italië, was 12 jaar getroud toe sy uitgevind het dat haar man ’n verhouding met ’n kollega het. “Teen die tyd dat ek daarvan uitgevind het”, sê Daniella, “was die vrou ses maande swanger.”
Nadat hulle ’n ruk uitmekaar was, het Daniella besluit om te skei. “Ek het my huwelik probeer red”, sê sy, “maar my man was weer ontrou.” Daniella voel dat sy die regte keuse gemaak het. Maar sy sê: “Onmiddellik nadat ons uitmekaar is, het my finansiële situasie verskriklik versleg. Partykeer het ek nie eers iets gehad vir aandete nie. Ek het dan net ’n glas melk gedrink.”
Maria, in Spanje, het ’n soortgelyke terugslag ondervind. “My eksman gee ons geen finansiële steun nie”, sê sy, “en ek moet baie hard werk om skuld wat hy gemaak het, af te betaal. Ek moes ook van ’n gerieflike huis na ’n klein woonstel in ’n onveilige gebied trek.”
Soos hierdie ondervindinge toon, het die verbrokkeling van ’n huwelik dikwels ’n verwoestende impak op die vrou se finansiële situasie. Trouens, in ’n sewe jaar lange studie in Europa is daar bevind dat mans se inkomste ná ’n egskeiding met 11 persent gestyg het, terwyl vroue se inkomste met 17 persent gedaal het. “Dit is moeilik vir party vroue”, sê Mieke Jansen, die hoof van die studie, “want hulle moet vir die kinders sorg, ’n werk kry en boonop die emosionele trauma van die egskeiding verwerk.” Party prokureurs, berig Londen se Daily Telegraph, sê dat hierdie faktore “mense dwing om twee keer te dink voordat hulle uitmekaargaan”.
Wat dalk sal gebeur: As jy skei, sal jou inkomste moontlik daal. Jy sal dalk ook moet trek. Indien jy toesig oor jou kinders behou, sal dit miskien moeilik wees om jou te onderhou sowel as om behoorlik vir hulle te sorg.—1 Timoteus 5:8.
2 Ouerskapkwessies
“My man se ontrouheid was ’n vreeslike skok”, sê ’n vrou in Brittanje met die naam Jane. “Ek is ook verpletter deur die gedagte dat hy sowaar besluit het om ons te verlaat.” Jane het van haar man geskei. Sy glo nog steeds dat sy die regte besluit geneem het, maar sy erken: “Een uitdaging waarvoor ek te staan gekom het, was om ma sowel as pa vir die kinders te wees. Ek moes self al die besluite neem.”
Graciela, ’n geskeide ma in Spanje, was in ’n soortgelyke situasie. “Ek het uitsluitlike toesig van my 16-jarige seun gekry”, sê sy. “Maar adolessensie is ’n moeilike tyd, en ek was nie juis daarop voorbereid om my seun alleen groot te maak nie. Ek het dae en nagte omgehuil. Ek het gevoel dat ek misluk het as ’n ma.”
Diegene wat gesamentlike toesig van hulle kinders het, het dalk met nog ’n probleem te kampe—om met die gewese huweliksmaat te onderhandel oor netelige sake soos besoekreëlings, onderhoud en dissipline. Christine, ’n geskeide moeder in die Verenigde State, sê: “Dit is nie maklik om ’n gees van samewerking tussen jou en jou gewese huweliksmaat te skep nie. Soveel emosies is betrokke, en as jy nie versigtig is nie, gebruik jy dalk op die ou end jou kind as ’n instrument om die situasie te probeer manipuleer.”
Wat dalk sal gebeur: Die toesigreëlings wat deur die hof bepaal word, is dalk nie wat jy graag sou wou hê nie. As julle gesamentlike toesig kry, is jou gewese huweliksmaat dalk nie so redelik as wat jy sou wou hê wanneer dit kom by die bogenoemde sake, naamlik besoeke, finansiële ondersteuning, ensovoorts nie.
3 Die uitwerking van egskeiding op jou
Mark, in Brittanje, se vrou was meer as een keer ontrou aan hom. “Die tweede keer”, sê hy, “kon ek nie met die moontlikheid saamleef dat dit weer kan gebeur nie.” Mark het van sy vrou geskei, maar hy het nog steeds gevoelens vir haar gehad. “Mense dink dat hulle help wanneer hulle negatiewe dinge oor haar sê; maar dit is nie so nie”, sê hy. “Liefde verdwyn nie sommer net nie.”
David, wat vroeër aangehaal is, was net so verpletter toe hy uitgevind het dat sy vrou ’n verhouding met ’n ander man het. “Ek kon dit eers nie glo nie”, sê hy. “Ek wou werklik elke dag van my lewe saam met haar en ons kinders deurbring.” David het besluit om te skei, maar die verbrokkeling van sy huwelik het hom oor sy toekoms laat twyfel. “Ek wonder of iemand my werklik kan liefhê, en of dit dalk weer sal gebeur as ek ’n tweede keer trou”, sê hy. “My vertroue het ’n knou weg.”
As jy geskei is, is dit te verwagte dat jy ’n wye verskeidenheid emosies sal ervaar. Aan die een kant is jy dalk nog lief vir die persoon met wie jy ’n eenvleesband gehad het (Genesis 2:24). Aan die ander kant voel jy dalk gegrief oor wat gebeur het. “Selfs ná etlike jare”, sê Graciela, wat vroeër aangehaal is, “voel jy verward, vernederd en hulpeloos. Jy dink aan baie van die gelukkige oomblikke in julle huwelik en wonder: ‘Hy het altyd gesê dat hy nie sonder my kon lewe nie. Was dit elke keer ’n leuen? Waarom het dit gebeur?’”
Wat dalk sal gebeur: Jy sukkel dalk nog steeds met gevoelens van woede en gegriefdheid omdat jou huweliksmaat jou sleg behandel het. Die eensaamheid kan by tye oorweldigend wees.—Spreuke 14:29; 18:1.
4 Die uitwerking van egskeiding op kinders
“Dit was verpletterend”, sê José, ’n geskeide vader in Spanje. “Die ergste oomblik was toe ek uitgevind het dat die ander man my suster se man is. Ek het gewens ek kon doodgaan.” José het gevind dat sy twee seuns—wat twee en vier jaar oud was—ook deur hulle ma se handelswyse geraak is. “Hulle kon die situasie nie aanvaar nie”, sê hy. “Hulle het nie verstaan waarom hulle ma saam met hulle oom bly en waarom ek hulle saam met my geneem het om by my suster en my ma te gaan woon nie. Wanneer ek êrens heen moes gaan, het hulle gevra: ‘Wanneer kom Pappa huis toe?’ of hulle het gesê: ‘Pappa, moenie weggaan nie!’”
Kinders is dikwels die vergete slagoffers op die egskeidingslagveld. Maar sê nou twee ouers kom net nie oor die weg nie? Is egskeiding in so ’n geval werklik “beter vir die kinders”? Hierdie idee het in onlangse jare onder skoot gekom—veral wanneer huweliksprobleme nie te ernstig is nie. Die boek The Unexpected Legacy of Divorce sê: “Baie volwassenes wat in uiters ongelukkige huwelike vasgevang is, sal verbaas wees om uit te vind dat hulle kinders redelik tevrede is. Hulle gee nie om dat hulle ma en pa in aparte beddens slaap nie, solank die gesin bymekaar is.”
Kinders is weliswaar dikwels bewus van konflikte tussen hulle ouers, en spanning in die huwelik kan ’n swaar las op hulle jong verstande en harte plaas. Maar dit kan ’n fout wees om aan te neem dat ’n egskeiding hulle outomaties tot voordeel sal strek. “Dit wil voorkom asof die raamwerk wat die huwelik voorsien, ouers help om die soort konsekwente en matige dissipline toe te pas waarop kinders reageer, al is die huwelik nie juis ideaal nie”, skryf Linda J. Waite en Maggie Gallagher in hulle boek The Case for Marriage.
Wat dalk sal gebeur: Egskeiding kan ’n verpletterende uitwerking op jou kinders hê, veral as jy hulle nie aanmoedig om ’n gesonde verhouding met jou gewese huweliksmaat te hê nie.—Sien die venster “Vasgevang in die middel”.
As jy egskeiding oorweeg, sal dit verstandig van jou wees as jy nadink oor die vier faktore wat in hierdie artikel bespreek word. Soos vroeër genoem is, as jou huweliksmaat ontrou was, is dit jy wat die besluit moet neem. Watter weg jy ook al kies, jy moet bewus wees van die gevolge. Jy moet weet voor watter uitdagings jy te staan gaan kom en moet bereid wees om dit te hanteer.
Nadat jy oor die saak gedink het, sal jy dalk voel dat dit beter is om daaraan te werk om jou huwelik te verbeter. Maar is dit werklik moontlik?
^ par. 8 Name in hierdie artikel is verander.