Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat weet jy omtrent Jehovah se Getuies?

Wat weet jy omtrent Jehovah se Getuies?

“Ek het baie omtrent Jehovah se Getuies op die Internet gelees, ek het ’n paar gerugte gehoor en na heelwat bevooroordeelde gesprekke geluister”, het ’n leerlingverslaggewer in Denemarke geskryf. “Gevolglik het ek ’n baie negatiewe beskouing van Jehovah se Getuies ontwikkel”

HIERDIE verslaggewer het toe ’n onderhoud met ’n gesin gevoer wat Getuies is. Die gevolg? “Die oomblik toe ek by hulle huis instap, het my beskouing van hulle verander!” het sy geskryf. “Miskien ken mense hulle nie goed genoeg nie, of miskien is ons almal net te gou om te oordeel. Ek weet ek was. En ek het uitgevind dat ek verkeerd was.”—Cecilie Feyling, van Jydske Vestkysten.

’n Mensehulpbron-konsultant vir ’n kettingwinkel in Europa het op grond van sy handelinge met Jehovah se Getuies op professionele vlak gevind dat hulle eerlike werkers is. Gevolglik wou hy graag Getuies in diens neem.

Jehovah se Getuies is natuurlik hoofsaaklik bekend vir hulle openbare bediening. Hulle vind dat party mense verkies om nie die Bybel te bespreek nie, terwyl ander ’n bespreking geniet. Trouens, meer as sewemiljoen mense studeer die Bybel gereeld saam met die Getuies in feitlik elke land, en party van hierdie studente word later self Bybelonderrigters. In die Verenigde State sê ’n verslag van die Nasionale Raad van Kerke byvoorbeeld dat Jehovah se Getuies 1 van slegs 4 uit die 25 grootste godsdienste is wat ’n vermeerdering toon.

Waarom studeer miljoene mense die Bybel saam met die Getuies? Hoe word hierdie studies gehou? Word daar van studente verwag om self Getuies te word? Jy is ten minste geregtig op betroubare antwoorde. Moet dus nie luister na bevooroordeelde gerugte nie, maar soek na die feite. Die Bybel sê in Spreuke 14:15: “’n Eenvoudige mens glo elke woord wat hy hoor; ’n slim mens verstaan dat bewyse nodig is.”—The New English Bible.

Mag hierdie nommer van die Ontwaak! jou help om ’n beter en juister begrip van Jehovah se Getuies te verkry. Om die waarheid te sê, die blote feit dat jy hierdie tydskrif lees, toon dat jy onbevooroordeeld en redelik is. Slaan gerus die teksverwysings in jou eie Bybel na wanneer jy die volgende vier artikels en die bygaande vensters lees. * Dit sal verstandig wees sowel as ‘edelmoedig’, soos die Bybel sê.—Handelinge 17:11.

^ par. 7 As jy nie ’n Bybel het nie, maar wel toegang tot die Internet het, kan jy die tekste elektronies naslaan op www.watchtower.org. Daar sal jy die venster “Read the Bible Online” sien. Daarbenewens bevat die webwerf Bybellektuur in meer as 380 tale.