Die Bybel se beskouing
Is dit gepas om tot “heiliges” te bid?
Marie en Theresa het hulleself as “goeie Katolieke” beskou. Albei het aan “heiliges” geglo. Marie was oortuig dat sy tot hulle kon bid om haar te help. Theresa het gereeld tot die “beskermheilige” van haar tuisdorp gebid. Sy het ook gebid tot die “heilige” na wie sy vernoem is.
SOOS Marie en Theresa bid miljoene mense regoor die wêreld tot hulle “heiliges” om ’n seën af te smeek. Volgens die New Catholic Encyclopedia “doen die heiliges voorspraak vir mense” en “is dit ‘goed en nuttig’ om hulle aan te roep om . . . voordele van God te verkry”.
Maar hoe beskou God die saak? Is dit vir hom aanneemlik dat ons tot “heiliges” bid om vir ons voorspraak te doen? Kyk wat die Bybel sê.
Moet ons “heiliges” aanroep?
Die Bybel meld nêrens dat enige getroue aanbidder van God tot ’n “heilige” gebid het nie. Waarom nie? Volgens die New Catholic Encyclopedia was dit eers “teen die 3de eeu [dat] die waarde van voorspraak deur die heiliges duidelik na vore gekom” het. Dit was sowat 200 jaar nadat Christus gesterf het. Die lering het dus nie sy oorsprong gehad by Jesus en die geïnspireerde Bybelskrywers wat die verslag van sy bediening opgeteken het nie. Die rede?
Die Bybel leer deurgaans dat ons slegs tot God moet bid en dit in die naam van Jesus Christus moet doen. “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”, het Jesus gesê. “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Johannes 14:6). Hierdie ondubbelsinnige woorde strook met Jesus se lering wat in Matteus 6:9-13 opgeteken is. Terwyl Jesus die onderwerp van gebed bespreek het, het hy vir sy volgelinge gesê: “Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word . . . ’” (Matteus 6:9). Dit is duidelik dat ons hemelse Vader die enigste een is tot wie ons ons gebede moet rig. Hierdie waarheid berus op ’n grondbeginsel in die Bybel.
Gebed—’n Daad van aanbidding
“Gebed”, sê The World Book Encyclopedia, “verwys na eerbiedige woorde en gedagtes wat tot God, gode, godinne of ander voorwerpe van aanbidding gerig word. . . . Gebed is ’n belangrike vorm van aanbidding in byna al die godsdienste in die wêreld.” (Ons kursiveer.) Vra jou af: ‘Is dit gepas om ons knieë in aanbidding te buig om te bid tot enigiemand anders as ons Skepper en Lewegewer?’ (Psalm 36:9). Jesus het gesê dat “die ware aanbidders die Vader met gees en waarheid sal aanbid, want die Vader soek inderdaad sulke mense om hom te aanbid” (Johannes 4:23). Die Bybel sê ook dat ons Skepper ons “uitsluitlike toegewydheid” eis.—Deuteronomium 4:24; 6:15.
Neem die voorbeeld van die Christenapostel Johannes. Nadat die apostel die skouspelagtige visioene gesien het wat in die Bybelboek Openbaring opgeteken is, was hy met ontsag vervul en het hy “neergeval om te aanbid voor die voete van die engel” wat hom hierdie dinge gewys het. Hoe het die engel gereageer? “Pas op!” het hy gesê. “Moet dit nie doen nie! Ek is maar net ’n medeslaaf van jou en van jou broers . . . Aanbid God” (Openbaring 22:8, 9). Ja, weer eens beklemtoon die Bybel dat ons slegs Jehovah God moet aanbid.
In ooreenstemming met wat reeds bespreek is, word God alleen die “Hoorder van die gebed” genoem (Psalm 65:2). Wat meer is, as die Almagtige het hy alleen die gesag, kennis en krag om enige regmatige versoek te verhoor wat deur middel van gebed tot hom gerig word (Job 33:4). Selfs Jesus Christus het beperkings, soos hy self erken het (Matteus 20:23; 24:36). Nietemin is Jesus Christus groot gesag gegee, insluitende die verantwoordelikheid om as die mensdom se Bemiddelaar te dien.
’n Simpatieke Bemiddelaar
Die Bybel sê van Jesus: “Hy [kan] ook dié wat deur hom tot God nader, volkome red, omdat hy altyd lewe om vir hulle te pleit” (Hebreërs 7:25). Met ander woorde, Jesus kan as die simpatieke Bemiddelaar dien ten behoewe van diegene wat ‘God deur hom nader’. Dit beteken nie dat ons tot Jesus moet bid en dat hy ons gebed as ’t ware sal aanstuur nie. Dit beteken eerder dat ons tot God bid in die naam van Jesus en sodoende sy gesag erken. Waarom is Jesus die volmaakte Bemiddelaar?
Om maar een ding te noem, Jesus het ondervind hoe dit is om as ’n mens te lewe, wat hom in staat gestel het om die lyding van ander beter te verstaan (Johannes 11:32-35). Daarbenewens het hy sy liefde vir mense getoon deur die siekes te genees, die dooies op te wek en almal wat na hom toe gekom het, geestelik te verkwik (Matteus 15:29, 30; Lukas 9:11-17). Hy het selfs sondes vergewe (Lukas 5:24). Dit gee ons vertroue, want as ons sondig, “het ons ’n helper by die Vader, Jesus Christus, ’n regverdige”.—1 Johannes 2:1.
Jesus se liefde en medelye is eienskappe wat ons moet probeer navolg. Ons het weliswaar nie die gesag om as bemiddelaars te dien nie. Maar ons kan vir ander bid. Trouens, liefde moet ons beweeg om dit te doen. “Bid vir mekaar”, het Jakobus geskryf. “Die smeking van ’n regverdige het groot krag wanneer dit aan die werk is.”—Jakobus 5:16.
Marie en Theresa het hierdie kosbare waarhede geleer deur die Bybel self te ondersoek. Jehovah se Getuies nooi jou om dit ook te doen. Soos Jesus gesê het: “Dié wat [God] aanbid, moet met gees en waarheid aanbid.”—Johannes 4:24.