’n Boek wat jy kan vertrou—Deel 3
Babilon in Bybelgeskiedenis
Hierdie artikel is die derde in ’n reeks van sewe artikels in opeenvolgende nommers van die “Ontwaak!” wat die sewe wêreldmoondhede van Bybelgeskiedenis bespreek. Die doel hiervan is om te toon dat die Bybel betroubaar en deur God geïnspireer is en dat die boodskap daarin hoop bied dat die lyding wat deur die wrede heerskappy van mense veroorsaak is, tot ’n einde sal kom.
DIE eertydse stad Babilon, wat op ’n vrugbare vlakte omtrent 80 kilometer suid van die hedendaagse Bagdad geleë was, was inderdaad ’n luisterryke stad. Dit het gelyk of Babilon, met sy enorme dubbele mure en omringende grag, nooit binnegeval kon word nie. Die stad was beroemd vir sy pragtige tempels, hangende tuine en tempeltorings. As een van die grootste stede van die antieke wêreld is Babilon onlangs die stad van wonders genoem.
In die Bybel is dit “Gebiedster van Koninkryke” genoem, en dit was die hoofstad van die derde wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis (Jesaja 47:5). Soos die Egiptiese en Assiriese ryke wat dit voorafgegaan het, het die Babiloniese Ryk ’n vername rol in Bybelgeskiedenis gespeel, wat ons in staat stel om te vergelyk wat die Bybel daaromtrent sê met wat sekulêre bronne sê.
Betroubare geskiedenis
Die Bybelboek Daniël sê vir ons dat ’n man met die naam Belsasar eens op ’n tyd as koning in Babilon regeer het (Daniël 5:1). Maar in die verlede het party sekulêre bronne gesê dat Belsasar, hoewel hy groot mag gehad het, nooit koning was nie. Was die Bybel verkeerd? Argeoloë het ’n aantal kleisilinders in die ruïnes van Ur in Mesopotamië opgegrawe. Die spykerskrifinskripsie op een silinder het ’n gebed ingesluit van die Babiloniese koning Nabonidus vir “Bel-sar-ussur, my oudste seun”. Latere vondse het bevestig dat Belsasar “vir meer as die helfte van sy vader se heerskappy as heerser opgetree het, waartydens hy feitlik koning was”, sê die New Bible Dictionary.
Die geskiedenis toon ook dat eertydse Babilon ’n uiters godsdienstige stad was, waar sterrewiggelary en waarsêery algemeen was. Ons lees byvoorbeeld in Esegiël 21:21 dat die koning van Babilon hom tot waarsêery gewend het om vas te stel of hy Jerusalem moet aanval. Die koning “het die lewer bekyk”, sê die Bybel. Waarom die lewer? Die Babiloniërs het hierdie orgaan gebruik om na voortekens te soek. Die boek Mesopotamian Astrology sê vir ons dat argeoloë by net een terrein in eertydse Babilon “32 [klei]lewers” gevind het en dat voortekens “op almal gegraveer” was.
Die bekende argeoloog Nelson Glueck het eenkeer gesê: “Ek doen al dertig jaar lank opgrawings met ’n Bybel in die een hand en ’n graaf in die ander, en ek het nog nooit gevind dat die Bybel in geskiedkundige sake verkeerd is nie.”
“Ek doen al dertig jaar lank opgrawings . . . , en ek het nog nooit gevind dat die Bybel in geskiedkundige sake verkeerd is nie.”—Nelson Glueck
Betroubare profesie
Hoe sou jy reageer as iemand vir jou sê dat ’n groot hoofstad—soos Beijing, Moskou of Washington, DC—’n onbewoonde ruïne sal word? Jy sou tereg skepties wees. Tog is dit wat met eertydse Babilon gebeur het. Sowat 200 jaar vooruit, omstreeks die jaar 732 VHJ, het Jehovah God die Hebreeuse profeet Jesaja geïnspireer om ’n profesie oor die ondergang van die magtige Babilon op te teken. Hy het geskryf: “Babilon, die sieraad van die koninkryke, . . . sal word soos toe God Sodom en Gomorra verwoes het. Dit sal nooit bewoon word nie, ook sal dit nie van geslag tot geslag bly bestaan nie.”—Jesaja 13:19, 20.
Maar waarom sou God Babilon se vernietiging voorspel? In 607 VHJ het Babiloniese leërs Jerusalem vernietig en die oorlewendes na Babilon weggevoer, waar hulle wreed behandel is (Psalm 137:8, 9). God het voorspel dat sy volk as gevolg van hulle eie goddeloosheid 70 jaar lank hierdie slegte behandeling sou moes verduur. Dan sou God hulle verlos en hulle na hulle vaderland laat terugkeer.—Jeremia 25:11; 29:10.
Net soos God se Woord voorspel het, is die skynbaar onoorwinlike stad Babilon in 539 VHJ—net toe Juda se 70 jaar lange ballingskap tot ’n einde sou kom—deur Medo-Persiese leërs omvergewerp. Mettertyd het die stad ’n puinhoop geword—net soos voorspel is. Geen mens kon hierdie merkwaardige verloop van sake voorspel het nie. Die vermoë om te profeteer, of gebeure te voorspel, maak die Outeur van die Bybel—die ware God, Jehovah—ongetwyfeld uniek onder die gode.—Jesaja 46:9, 10.
’n Betroubare hoop
Nog ’n profesie word in ons dag op ’n merkwaardige manier vervul. Die profesie het te doen met koning Nebukadnesar van Babilon en ’n droom wat hy van ’n ontsaglike beeld gehad het. Die beeld is verdeel in vyf dele—die kop, die bors en arms, die maag en dye, die bene en die voete—wat elkeen van ’n ander materiaal gemaak is (Daniël 2:31-33). Hierdie dele het ’n opeenvolging van regerings, of koninkryke, voorgestel, wat begin het met Babilon en strek tot by die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid, die sewende in Bybelgeskiedenis.—Daniël 2:36-41.
Daniël meld dat die materiaal in die voete en tone van die beeld opmerklik anders was. Hoe so? Suiwer metaal is vervang met ’n mengsel van yster en klam klei. Daniël het aan Nebukadnesar verduidelik: “Dat u yster gemeng met klam klei gesien het: hulle sal met die nageslag van die mensdom vermeng raak; maar hulle sal nie aan mekaar kleef, die een aan die ander nie, soos yster nie met gevormde klei meng nie” (Daniël 2:43). Ja, ’n mengsel van yster en klei is bros; dit kan nie “aan mekaar kleef” nie. Wat ’n akkurate beskrywing van die polities verdeelde wêreld waarin ons vandag lewe!
Daniël openbaar ook ’n ander betekenisvolle verwikkeling. In sy droom het koning Nebukadnesar ’n klip gesien wat uit ’n groot berg uitgekap is. Hierdie klip is opgetel en “dit het die beeld op sy voete van yster en van gevormde klei getref en hulle verbrysel” (Daniël 2:34). Wat beteken dit? Daniël antwoord self: “In die dae van dié konings [gedurende die tyd van die laaste wêreldmoondheid] sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan” (Daniël 2:44). Hierdie profesie het vooruitgewys na ’n Koninkryk wat heeltemal anders is as enige ander regering wat die mensdom ken. Die koning daarvan is Jesus Christus, die Messias. Soos in vorige artikels van hierdie reeks gemeld is, sal Satan en al sy volgelinge, hetsy mense of geeste, deur Jesus verbrysel word, wat universele vrede en eenheid tot gevolg sal hê.—1 Korintiërs 15:25.