Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Einde aan lyding is dringend nodig!

’n Einde aan lyding is dringend nodig!

Kioe se lyding het begin toe sy pa doodgemaak is omdat hy beeste in ’n nabygeleë mielieland laat wei het. Later is sy ma en twee susters tereggestel—hulle was slagoffers van die Khmer Rouge in Kambodja. Toe is Kioe in ’n landmynontploffing beseer. Hy het 16 dae lank in die oerwoud gewag voordat hulp opgedaag het. Sy been moes afgesit word. “Ek wou nie lewe nie”, sê Kioe.

JY HET dalk al opgemerk dat lyding nie diskrimineer nie. Natuurrampe, siekte en gestremdheid, geweldsmisdaad en ander tragedies kan enigiemand, enige tyd en enige plek tref. Humanitêre organisasies werk onvermoeid om menselyding te voorkom of ten minste te verlig. Maar hoe suksesvol is hulle pogings?

Neem een voorbeeld—die stryd teen honger. Volgens die koerant Toronto Star het natuurrampe baie mense dakloos en sonder kos gelaat. Maar die koerant berig: “Die pogings van agentskappe wat hulle beywer om honger te verlig, word deur toenemende geweld bemoeilik.”

Leiers op politieke, maatskaplike en mediese gebied het almal hulle bes gedoen om lyding te verlig, maar die resultate was teleurstellend. Programme om ekonomiese groei te bevorder, het armoede nie uit die weg geruim nie. Inentings, geneesmiddels en gevorderde chirurgiese tegnieke kan nie ’n einde maak aan alle siekte nie. Polisiebeamptes en vredesmagte kyk hulpeloos toe terwyl geweldsmisdaad voortduur of selfs toeneem.

Waarom is daar soveel lyding? Is God besorg oor al die lyding wat mense verduur? Miljoene het vertroostende antwoorde op hierdie vrae in die Bybel gevind, soos ons sal sien.