Waarom is daar soveel lyding?
GODSDIENSLEIERS wat beweer dat hulle die antwoord op die vraag hier langsaan ken, leer mense dikwels dat lyding straf van God af is. Byvoorbeeld, ’n paar dae ná die aardbewing in Haïti het ’n priester in die hoofstad vir sy gemeente gesê dat die ramp ’n boodskap van God af is. Ander is minder dogmaties. Volgens ’n Amerikaanse medeprofessor van godsdiens het baie mense blykbaar die volgende beskouing: “Die rede waarom God sulke rampe beskik, is ’n verborgenheid wat ons nie mag bevraagteken nie. Ons moet net geloof hê.”
Word menselyding werklik deur God “beskik”? Die Bybel antwoord met ’n besliste nee! Lyding was nie deel van Jehovah God se voorneme vir die mensdom nie. Maar die eerste mensepaar het teen God se heerskappy in opstand gekom en het verkies om hulle eie standaarde te stel van wat goed en sleg is. Hulle het hulle rug op God gedraai en die gevolge gedra. Vandag ondervind ons die gevolge van hulle slegte keuse. Maar God was geensins die oorsaak van menselyding nie. Die Bybel sê: “Laat niemand, wanneer hy beproef word, sê: ‘Ek word deur God beproef’ nie. Want met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie” (Jakobus 1:13). Lyding kan oor enigiemand kom—selfs oor dié wat God se guns geniet. Kyk na die volgende voorbeelde:
Die profeet Elisa het ’n siekte gehad wat tot sy dood gelei het.—2 Konings 13:14.
Die apostel Paulus het geskryf dat ’n situasie voortgeduur het waarin hy ‘honger en ook dors en skraps geklee en sleg behandel en dakloos was’.—1 Korintiërs 4:11.
Die Christen Epafroditus was siek en “terneergedruk”.—Filippense 2:25, 26.
Ons lees nêrens dat hierdie drie manne deur God gestraf is vir hulle sondes nie. Maar die Bybel doen meer as om net te openbaar wie nie vir lyding verantwoordelik is nie. Dit identifiseer ook drie basiese faktore wat dikwels lyding veroorsaak.
Persoonlike keuses
“Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). ’n Persoon wat besluit om te rook, roekeloos te bestuur of sy geld te mors, moet sekerlik ’n mate van verantwoordelikheid dra vir enige lyding wat sy besluite moontlik tot gevolg het.
Ons kan ook ly as gevolg van die selfsugtige keuses wat iemand anders maak. Ja, mense het al die verskriklikste onregte gepleeg, van Nazi-gruweldade tot kindermishandeling. Omdat sommige mense hulle wilsvryheid misbruik, maak hulle besluite wat vir ander lyding veroorsaak.
Toevallige gebeure
In die eerste eeu HJ het ’n groot toring in Jerusalem ineengestort en die dood van 18 mense veroorsaak. Jesus het na hierdie slagoffers verwys en gesê: “Dink julle dat hulle skuldiger was as enigiemand anders wat in Jerusalem woon? Beslis nie!” (Lukas 13:4, 5, The New American Bible). Jesus het geweet dat die slagoffers nie deur God gestraf is nie. Hy het geweet wat God se Woord vroeër gesê het: “Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal” (Prediker 9:11). Baie tragedies vind plaas omdat ’n slagoffer op die verkeerde tyd op die verkeerde plek is of as gevolg van menslike foute. Berigte toon byvoorbeeld dat daar baie meer lyding is wanneer mense waarskuwings ignoreer en waar geboue nie storm- of aardbewingbestand is nie. In sulke gevalle word meer mense deur toevallige gebeure geraak, en die gevolg is dus meer lyding.
“Die heerser van hierdie wêreld”
Die Bybel sê: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (Johannes 12:31; 1 Johannes 5:19). Hierdie “bose” persoon is Satan die Duiwel, ’n magtige geesskepsel wat beskryf word as “die heerser van die gesag van die lug”. Satan bevorder “die gees wat nou in die seuns van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Party misdade, soos volksmoord en kindermishandeling, is so afgryslik dat baie meen dat dit nie net aan mense toegeskryf kan word nie.
Maar beteken dit dat God onverskillig staan teenoor ons lyding? Kan hy—sal hy—enigiets doen om ’n einde daaraan te maak?