Spring na inhoud

 Jongmense vra

Waar kan ek goeie vermaak vind?

Waar kan ek goeie vermaak vind?

As jy ’n Christen is, is jy selektief wat jou vermaak betref. Jy laat nie sommer toe dat ander vir jou sê wat jy moet lees of waarna jy moet kyk of luister nie. Hoekom nie? Omdat baie van vandag se vermaak seks buite die huwelik, geweld en spiritisme verheerlik—dinge wat jy moet vermy. Maar daar is goeie vermaak wat jy kan geniet. Kom ons kyk hoe jy dit kan vind. *

ROLPRENTE

Maak ’n ✔ langs die soort rolprent waarvan jy die meeste hou.

  • Komedie

  • Drama

  • Aksie/Avontuur

  • Wetenskapsfiksie

  • Ander

Het jy geweet . . . ? Indië vervaardig dikwels meer as duisend rolprente per jaar—baie meer as enige ander land.

Wat om te vermy. Baie rolprente bevorder waardes wat in stryd is met Bybelstandaarde. Party bevat tonele waarin grafiese seks, geweld en bonatuurlike dinge uitgebeeld word. Maar die Bybel sê: “Verwyder . . . al hierdie dinge van julle: gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies” (Kolossense 3:8). Wat meer is, God veroordeel enige dade wat met spiritisme verband hou.—Deuteronomium 18:10-13.

Hoe om selektief te wees. “As die voorprent my die idee gee dat die fliek nie gepas is nie, sal ek dit nie gaan kyk nie.”—Jerrine. *

“As iemand ’n fliek aanbeveel, gaan kyk ek nie daarna tensy ek seker is dat die persoon dieselfde waardes as ek het nie.”—Caitlyn.

“As ek in ’n bioskoop na ’n fliek sit en kyk en ongemaklik begin voel oor die inhoud, stap ek uit.”—Marina.

“Om meer oor ’n fliek uit te vind, gebruik ek ’n webwerf wat wys of daar seks, geweld of vloekery in die fliek is.”—Natasha.

Wenk: Soek na rolprente waarin verkeerde dinge heel waarskynlik nie sal voorkom nie. “Ek geniet flieks wat in vroeëre tye  afspeel—flieks wat op klassieke literatuur gebaseer is”, sê ’n tiener met die naam Masami.

Vra jou af:

‘Maak die rolprente waarna ek kyk, dit vir my makliker—of moeiliker—om God se gebooie oor seks, geweld en spiritisme te gehoorsaam?’

BOEKE

Maak ’n ✔ langs die soort leesstof waarvan jy die meeste hou.

  • Fiksie

  • Niefiksie

  • Klassieke literatuur

  • Ander

Het jy geweet . . . ? In die Verenigde State alleen word meer as duisend boeke elke week uitgegee.

Die vermaaklikheidsbedryf het niks om te verloor nie—maar baie om te wen—as jy jou Bybelopgeleide gewete ignoreer deur alles te lees en na alles te kyk en te luister wat gewild is.

Wat om te vermy. Net soos in die geval van flieks, is daar baie boeke wat waardes bevorder wat met Bybelstandaarde bots. Party is byvoorbeeld seksueel eksplisiet of bevat spiritisme. Maar let op wat die Bybel sê: “Laat hoerery en elke soort onreinheid of hebsug nie eens onder julle genoem word nie” (Efesiërs 5:3). Dit sê ook dat spiritistiese bedrywighede “sleg [is] in die oë van Jehovah”.—2 Konings 17:17.

Hoe om selektief te wees. “Wanneer ek ’n goeie boek soek, lees ek wat op die agterblad staan en blaai ek vinnig deur die hoofstukke. As ek iets sien wat my pla, koop ek dit nie.”—Marie.

“Toe ek ouer geword en vir myself begin dink het, het ek besef hoe belangrik dit is om na my gewete te luister. As ek agtergekom het dat ’n boek sleg is, het ek dit nie verder gelees nie. Ek het besef dat dit nie met God se denke ooreenstem nie.”—Corinne.

Wenk: Brei jou smaak uit. “Ek vind dat klassieke literatuur my baie meer boei as moderne fiksie”, sê Lara, 17. “Die bewoording,  die karakterontwikkeling, die storielyn—dis alles fantasties!”

Vra jou af:

‘Sluit my vermaak boeke in waarin daar gedrag is wat God afkeur?’

MUSIEK

Maak ’n ✔ langs die soort musiek waarvan jy die meeste hou.

  • Rock

  • Klassiek

  • Jazz

  • R&B

  • Hip-hop

  • Ander

Het jy geweet . . . ? Vier groot platemaatskappye stel gesamentlik sowat 30 000 albums per jaar vry.

Wat om te vermy. Soos in die geval van rolprente en boeke, ondermyn baie van vandag se musiek goeie sedes. Eksplisiete lirieke en musiekvideo’s kan dit vir jou nog moeiliker maak om jou seksuele drange te beheers (1 Korintiërs 6:18). “Baie van vandag se musiek bevorder gedrag wat in stryd is met Bybelstandaarde”, sê die 21-jarige Leigh, “en die ritme maak dat mense daarop wil dans—en dan bedoel ek nie die polka nie.”

Hoe om selektief te wees. “Ek vra my af: ‘Sal ek skaam voel as ’n volwasse Christen na my musieklys sou kyk?’ Dit gee my ’n idee van die soort musiek waarna ek behoort te luister.”—Leanne.

Wenk. Wees bereid om na verskillende soorte musiek te luister. “My pa geniet klassieke musiek, en daarom het ek dit dikwels gehoor terwyl ek grootgeword het”, sê ’n tiener met die naam Roberto. “Toe ek meer oor klassieke musiek geleer het—en ook geleer het hoe om klavier te speel—het ek ’n nuwe wêreld ontdek!”

Vra jou af:

‘Maak die musiek waarna ek luister, dit vir my makliker—of moeiliker—om my seksuele begeertes te beheers?’

LEES MEER HIEROOR!

Sien die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, hoofstukke 31 en 32, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 3 Geen spesifieke rolprent, boek of liedjie word deur Ontwaak! aanbeveel of veroordeel nie. Die doel van hierdie artikel is om jou te help om ’n Bybelopgeleide gewete wat deur God se standaarde gerig word, te ontwikkel en te volg.—Psalm 119:104; Romeine 12:9.

^ par. 13 Van die name in hierdie artikel is verander.