Is dit ontwerp?
Visskole
Elke jaar sterf meer as eenmiljoen mense in motorongelukke en word ongeveer 50 miljoen beseer. Tog kan miljoene visse saam in ’n skool swem met feitlik geen botsings nie. Hoe doen visse dit, en wat kan hulle ons leer oor hoe om motorongelukke te verminder?
Dink hieraan: Visse wat in ’n skool swem, neem inligting omtrent hulle omgewing in deur middel van hulle oë en ’n spesiale sintuig wat die laterale lyn genoem word. Hulle gebruik hierdie sintuie om vas te stel waar ander visse om hulle is en reageer dan as volg:
- Swem sy aan sy. Hulle pas hulle spoed aan by die visse langs hulle en behou ’n sekere afstand van hulle.
- Beweeg nader. Hulle beweeg nader aan visse wat verder van hulle af is.
- Vermy botsings. Hulle verander van rigting sodat hulle nie teen ander visse bots nie.
’n Japannese motorvervaardiger het hierdie drie gedragspatrone van visse wat in ’n skool swem, gebruik om etlike klein robotmotors te ontwerp wat in ’n groep kan ry sonder om teen mekaar te bots. In die plek van oë gebruik hierdie robotte kommunikasietegnologie; in die plek van ’n laterale lyn gebruik hulle ’n laserafstandsmeter. Die maatskappy meen dat hierdie tegnologie hulle sal help om “botsingvrye” motors te ontwerp en dat dit “tot ’n omgewingsvriendelike en verkeersknoopvrye bestuursomgewing sal bydra”.
“Ons het die gedrag van ’n skool visse nagemaak [deur] ten volle van die nuutste elektroniese tegnologie gebruik te maak”, sê Tosjijoeki Andoe, die hoofingenieur van die robotmotorprojek. “In ons gemotoriseerde wêreld, kan ons baie leer by die gedrag van ’n skool visse.”
Wat dink jy? Het visse se vermoë om in ’n skool te swem as gevolg van ’n verstandelose proses ontstaan? Of getuig dit van ontwerp?