Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

“Byna die helfte van die kankergevalle wat elke jaar in die [Verenigde Koninkryk] gediagnoseer word—meer as 130 000 in totaal—word deur vermybare keuses in die lewe veroorsaak, waaronder rokery, drinkery en ’n ongesonde dieet.”—BBC NEWS, BRITTANJE.

“Onwettige handel deur georganiseerde misdaad in wildprodukte [is] ’n ontsaglike en toenemend gesofistikeerde bedryf . . . wat die wêreld se mees geliefde spesies . . . uitwis op ’n ongeëwenaarde skaal.”—NATUURBEWARINGSVERENIGING, VSA.

Mense wat elke dag gemiddeld ses uur TV kyk, kan verwag dat hulle lewe 4,8 jaar korter sal wees as die lewe van diegene wat glad nie TV kyk nie. Met ander woorde, elke uur se TV-kykery verkort die lewensverwagting van ’n onaktiewe volwassene met omtrent 22 minute.—BRITISH JOURNAL OF SPORTS MEDICINE, BRITTANJE.

In Duitsland besluit meer as 90 persent van vroue wie se ongebore kind met Downsindroom gediagnoseer word, om ’n aborsie te ondergaan.—DER TAGESSPIEGEL, DUITSLAND.

Die stres van stadslewe

Navorsing toon dat “stadsbewoners hewiger reageer op stres as mense in dorpe”, sê die Poolse tydskrif Przekrój. “In stede word mense aan ’n groot aantal stimulusse blootgestel”, verduidelik die psigoterapeut Mieczysław Jaskulski by Warskou se Psigo-opvoedkundige Laboratorium. “Vir stadsbewoners is die risiko van angsaanvalle 21 persent hoër as vir persone wat op die platteland woon, en die risiko van gemoedsversteurings is 39 persent hoër.” Wat kan stadsbewoners doen? “Moenie ontsteld raak oor dinge wat buite jou beheer is nie”, “los werk by die werk”, “gaan stap ’n entjie” en “moenie bang wees om met vakansie te gaan nie”, sê Przekrój.

Hoeveel data word deur Facebook geberg?

’n Oostenrykse regstudent wou weet hoeveel data oor hom deur die wêreld se grootste sosiale netwerk geberg is gedurende sy drie jaar lange lidmaatskap; daarom het hy ’n kopie aangevra. Facebook het vir hom ’n CD met 1 222 bladsye data gestuur. Soos berig is deur die Duitse koerant Der Tagesspiegel, het die student gesê: “Alles was daar—elke boodskap, elke gesprek, asook sensitiewe inligting oor vriende.” Dit het inligting ingesluit wat hy seker was hy uitgevee het!