Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Stel die regte prioriteite

Stel die regte prioriteite

Eet elke dag ten minste een maaltyd saam

“Ek was altyd moeg—altyd besig om te dink hoe ek ’n balans kan behou tussen my werk, die grootmaak van die kinders, ons geestelike roetine, huishoudelike take en rus.”—JOKO, JAPAN.

Die uitdaging.

“Die grootste uitdaging”, sê Miranda, ’n ma van twee seuns, “is om ’n werkende ma te wees wat alles moet voorsien—fisies, verstandelik, emosioneel en geestelik—sonder die hulp van ’n huweliksmaat.”

Wenke.

Besluit wat werklik belangrik is vir jou en jou kinders, en maak hierdie dinge dan jou prioriteite.

Bly by jou prioriteite, en leer om jou tyd en geld dienooreenkomstig te gebruik. Ter toeligting: Jou kinders se gesondheid is belangrik; koop dus gesonde kos. Dít is ’n beter opsie as om jou swaar verdiende geld vir mediese rekeninge te gebruik. Maak ’n lysie voordat jy inkopies doen. Dit sal keer dat jy geld mors deur dinge impulsief te koop. “Ek hou van kook”, sê Roberto, wat met sy vier kinders in die Verenigde State woon. Hy voeg by: “Ek het geleer om te konsentreer op wat ons nodig het—nie op wat ons wil hê nie—en nie op wat ons oor die algemeen nodig het nie, maar op wat ons werklik elke dag nodig het.”

Koop gesonde kos. Dít is ’n beter opsie as om jou swaar verdiende geld vir mediese rekeninge te gebruik

Raak ontslae van dinge wat julle nooit gebruik nie—boeke, klere, toestelle. Een enkelma het dit so gestel: “Hoe meer besittings, hoe meer stres. Hoe meer goed jy het, hoe meer het jy om skoon te maak, te herstel en in stand te hou. As jy jou lewe wil vereenvoudig, moet jy ontslae raak van onnodige goed.”

Leer jou kinders om elke aand aan die kant te maak. Moenie toelaat dat julle huis deurmekaar raak nie. Dit leer jou kinders om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle kamer en selfs vir die huis. Jou goeie voorbeeld sal natuurlik gewig verleen aan jou woorde.

Al is jy baie besig, moet jy tyd met jou kinders deurbring—nie net kort tydjies wat as “kwaliteitstyd” beskryf word nie, maar soveel tyd as wat jy hulle kan gee. Jou kinders het jou tyd en aandag nodig.—Deuteronomium 6:7.

Eet elke dag ten minste een maaltyd saam, en maak etenstyd ’n aangename geleentheid. Colette, ’n ma van drie, sê: “Ons het besluit om aandete saam te geniet, aangesien almal dan by die huis is, en om dit ’n tyd van emosionele en geestelike aanmoediging te maak. Hierdie maaltyd was en is nog steeds ’n spesiale geleentheid in ons gesinslewe.”