Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

In Duitsland is ongeveer 33 persent van die kinders wat in 2010 gebore is, buite die huwelik gebore, vergeleke met net 15 persent in 1993.—ÄRZTE ZEITUNG en THE LOCAL, DUITSLAND.

Volgens 2010-sensusdata woon 69,4 persent van kinders in die Verenigde State by twee ouers, 23,1 persent woon by hulle ma, 3,4 persent woon by hulle pa en 4,1 persent woon nie by ’n ouer nie.—AMERIKAANSE SENSUSBURO, VSA.

In 2011 het natuurrampe die wêreldekonomie ’n geskatte R3,2 biljoen uit die sak gejaag. Die Japannese aardbewing was die “duurste ramp in die geskiedenis, met verliese van R1,8 biljoen—en dit sluit nie die kernramp by Foekoesjima in nie”.—NEW SCIENTIST, BRITTANJE.

Wêreldwyd is kaas die kositem wat die meeste gesteel word. Net oor die 3 persent van die wêreld se winkelvoorraad verdwyn elke jaar, hoofsaaklik as gevolg van winkeldiefstal en diefstal deur werknemers.—SENTRUM VIR NAVORSING OOR DIE KLEINHANDEL, BRITTANJE.

Die gevare van “kopskote” in sokker

In sokker is balbeheer met die kop—oftewel “kopskote”—deel van die spel. Maar onlangse studies waarin daar gebruik gemaak is van gevorderde beeldingstegnieke en kognitiewe toetse, het kommer gewek oor die veiligheid van herhaaldelike kopskote. Volgens navorsers aan die Albert Einstein-kollege van Geneeskunde, New York, VSA, “verhoog [hierdie gebruik] die gevaar van breinbeserings en kognitiewe gebreke”. Daar was bespeurbare beserings onder amateurspelers wat die bal meer as 1 000 tot 1 500 keer per jaar met die kop getref het—wat neerkom op net “’n paar keer per dag vir ’n gereelde speler”.

Hibriedvoertuie gevaarliker vir voetgangers

“Steungroepe is bekommerd dat HEV’s [hibried- elektriese voertuie] ’n gevaar vir voetgangers kan inhou”, sê ’n verslag deur die Amerikaanse Departement van Vervoer. “Hulle meen dat HEV’s betreklik stiller is en nie die geluide maak waarop voetgangers en fietsryers staatmaak om hulle te waarsku teen [’n] aankomende voertuig op straat of by ’n kruising nie.” Trouens, wanneer die HEV sekere bewegings gedoen het, “was die risiko twee keer groter dat dit in ’n botsing met voetgangers betrokke sou wees” as in die geval van ’n gewone voertuig, sê die verslag. Die Nasionale Administrasie vir Verkeersveiligheid op Hoofweë, in die VSA, het dus voorgestel dat hibried- en elektriese motors die een of ander geluid moet maak wanneer dit stadig beweeg.