Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ongeduld kan nadelig wees

Ongeduld kan nadelig wees

STEL jou hierdie toneel voor: ’n Man ry op ’n tweerigtingpad waar dit verbode is om verby te steek. Die vrou in die motor voor hom ry effens onder die spoedgrens. Dit voel vir die ongeduldige man asof sy veels te stadig ry. Nadat hy ’n paar minute lank gevaarlik naby aan haar motor gery het, raak sy geduld op en steek hy haar teen ’n hoë spoed verby. Sodoende oortree hy die wet en loop hy die gevaar om ’n ongeluk te veroorsaak.

Wat van die vrou wat nie die geduld het om saam met mense te werk wat nie so vinnig of so slim soos sy is nie? Of die man wat vir die hysbak wag en die knoppie ongeduldig bly druk? Raak jy dikwels ongeduldig met jou bejaarde ouers? Of is jy ’n ouer wie se geduld gou opraak met jou jong kinders? Raak jy maklik geïrriteerd wanneer ander mense foute maak?

Almal sal waarskynlik nou en dan ongeduldig raak. Maar dit kan ernstige gevolge hê as ’n mens dikwels ongeduldig raak.

Dit is net ’n paar van die slegte gevolge wat ongeduld kan hê. Die volgende artikel sal bespreek hoe jy geduld kan aankweek en behou.

Gesondheidsgevare:

Ongeduld word verbind met frustrasie, irritasie en selfs woede. Sulke emosies kan ons stresvlakke opstoot, wat dan weer ons gesondheid kan benadeel. ’n Onlangse studie wat deur die Amerikaanse Mediese Vereniging gepubliseer is, het spesifiek gemeld dat ongeduld ’n risikofaktor is vir hoë bloeddruk, selfs onder jong volwassenes.

Daar is ook ander gesondheidsprobleme wat met ’n gebrek aan geduld verbind word. ’n Onlangse studie het getoon dat ongeduld tot vetsug kan bydra. “Die navorsers het gevind dat ongeduldige mense vatbaarder is vir vetsug as diegene wat bereid is om te wag”, berig The Washington Post. Op party plekke is goedkoop kitskos heeldag beskikbaar, en talle ongeduldige mense kan die versoeking nie weerstaan nie.

Uitstellery:

In ’n studie wat gedoen is deur die Sentrum vir Ekonomiese Beleidsnavorsing, in Londen, is bevind dat ongeduldige mense dikwels chroniese uitstellers is. Stel hulle tydrowende take dalk uit omdat hulle nie die geduld het om dit te voltooi nie? Hoe dit ook al sy, die neiging om uit te stel, kan ernstige gevolge inhou vir die uitsteller sowel as die ekonomie. Volgens The Telegraph, ’n koerant in Brittanje, het die navorser Ernesto Reuben gesê dat “uitstellery ons produktiwiteit by die werk ernstig benadeel en mense baie geld uit die sak kan jaag, aangesien [ongeduldige mense] papierwerk onbepaald uitstel”.

Alkoholmisbruik en geweld:

Volgens die Britse koerant South Wales Echo “is die waarskynlikheid groter dat mense wat ongeduldig is, by laatnagtelike alkoholverwante geweld betrokke sal raak”. Navorsers aan die Universiteit van Cardiff het tot hierdie slotsom gekom nadat hulle honderde mans en vroue bestudeer het. Die studie het getoon dat “ongeduldige mense meer geneig is om strawwe drinkers te wees en dat hulle maklik by geweld betrokke raak”, sê die Echo.

Swak oordeel:

’n Groep ontleders in diens van die Pew-navorsingsentrum in Washington, DC, het gevind dat ongeduldige mense “dikwels vinnige, oppervlakkige besluite neem”. Dr. Ilango Ponnuswami, professor en hoof van die Departement van Maatskaplike Werk aan die Bharathidasan-universiteit in Indië, het tot ’n soortgelyke slotsom gekom. Hy verduidelik: “Ongeduld sal jou duur te staan kom. Dit kan jou geld en vriendskappe kos, pyn en lyding veroorsaak of ander gevolge hê bloot omdat ongeduld dikwels aanleiding gee tot slegte besluite.”

Finansiële probleme:

Ongeduld is al verbind met “meer skuld”, sê Research Review, uitgegee deur die Federale Reserwebank van Boston, VSA. Byvoorbeeld, ongeduldige pas getroude paartjies wil miskien kort ná hulle troue al die huislike geriewe hê wat hulle meen nodig is, al kan hulle dit nie bekostig nie. Daarom koop hulle die huis, die meubels, die motor en al die ander dinge—op skuld. Dit kan hulle huwelik benadeel. Navorsers aan die Universiteit van Arkansas, VSA, sê dat “pas getroude paartjies wat skuld maak, nie so gelukkig is soos paartjies wat min of geen skuld maak nie”.

Party gee ongeduld die skuld vir die onlangse ekonomiese ineenstorting in die Verenigde State. Die finansiële tydskrif Forbes beweer dat “die huidige marksituasie die gevolg is van onnodige ongeduld tesame met oordrewe gierigheid. Ongeduld het veroorsaak dat duisende gewone mense eiendom wou koop wat baie duurder was as wat hulle kon bekostig. Die somtotaal van die lenings wat hulle wou aangaan, het dus ontsaglike bedrae beloop wat hulle slegs oor baie jare sou kon terugbetaal—of, in party gevalle, nooit nie.”

Verlies van vriendskappe:

Ongeduld kan ons vermoë om te kommunikeer, belemmer. As ’n persoon nie die geduld het om ’n betekenisvolle gesprek te voer nie, is hy geneig om te praat sonder om te dink. Hy raak dalk ook geïrriteerd wanneer ander praat. So ’n persoon het nie die geduld om te wag dat ander klaarpraat nie. Daarom sal die ongeduldige luisteraar moontlik geneig wees om ander aan te jaag deur hulle sin vir hulle te voltooi of die gesprek op ’n ander manier te probeer bespoedig.

Sulke ongeduld kan tot die verlies van vriendskappe lei. Dr. Jennifer Hartstein, ’n deskundige op die gebied van geestesgesondheid wat in die vorige artikel aangehaal word, verduidelik: “Wie wil saam met iemand wees wat onophoudelik met [sy of haar] voet teen die vloer tik [of] heeltyd na die horlosie kyk?” Ja, ongeduld is nie ’n baie aantreklike eienskap nie. Dit sal jou vriende verdryf.