Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

“Die getal Google-soektogte wat die woord ‘porn’ insluit, het sedert 2004 verdriedubbel.”—THE ECONOMIST, BRITTANJE.

“Wanneer ’n jong [Russiese] vrou trou, . . . is die waarskynlikheid dat haar man haar sal slaan of dat hulle gedurende woordewisselings handgemeen sal raak, om en by 60 persent.”—MOSKOVSKIYE NOVOSTI, RUSLAND.

“Een uit sewe wetenskaplikes of dokters in die VK het al gesien dat kollegas doelbewus inligting verander of versin tydens hulle navorsing of vir publiseringsdoeleindes.”—BRITISH MEDICAL JOURNAL, BRITTANJE.

“Die getal kankeroorlewendes in die VSA het sedert 1971 vervierdubbel tot omtrent 12 miljoen . . . Die toename in oorlewendes kan grotendeels toegeskryf word aan vroeëre diagnose deur middel van siftingstoetse, asook doeltreffender behandeling en verbeterde opvolgbehandeling.”—UC BERKELEY WELLNESS LETTER, VSA.

Net voor die 2011-Kersvierings het ’n bakleiery uitgebreek in die Geboortekerk, Betlehem, tussen sowat 100 priesters en monnikke van wedywerende gelowe. “Dit is ’n klein probleem wat . . . elke jaar voorkom”, het ’n luitenant-kolonel van die polisie gesê. “Niemand is in hegtenis geneem nie, want al die betrokkenes was manne van God.”—DIE REUTERS-NUUSDIENS, VSA.

’n Groot groen muur dwarsoor Afrika

’n Pan-Afrikaanse projek, wat in 2007 deur die Afrika-unie van stapel gestuur is, het ten doel om die uitbreiding van die woestyn met ’n groen muur te stuit. Van Senegal in die Weste tot by Djiboeti in die Ooste plant 11 lande miljoene saailinge van gepaste spesies in ’n poging om ’n strook plantegroei te skep wat 7 600 kilometer lank en 15 kilometer breed sal wees. “Ons moet spesies plant wat nie geskik is vir houtkappery nie”, sê Aliou Guissé, professor in plantekologie aan die Cheikh Anta Diop-universiteit in Dakar, Senegal. Daar word gehoop dat die herbeboste gebiede ook as ’n natuurreservaat sal dien en volhoubare hulpbronne vir plaaslike gemeenskappe sal voorsien.

Waarom gaap ons?

Wetenskaplikes kan nie verduidelik waarom elke persoon op die planeet gaap nie—in die meeste gevalle etlike kere per dag. Selfs ongebore babas gaap. En so ook krimpvarkies, volstruise, slange en visse. Daar is baie, dikwels teenstrydige, teorieë, maar nie een van hulle stel al die navorsers tevrede nie. Baie wetenskaplikes meen dat hierdie diep asemteug, wat gemiddeld ses sekondes duur, help om die brein se suurstofvoorraad aan te vul. Maar “tot dusver het navorsers geen bewyse gevind wat hierdie idee steun nie”, sê Science News. Nuwe studies waarin rotte gebruik is, dui blykbaar daarop dat “’n gaap dalk as ’n termostaat dien wat ’n oorverhitte brein afkoel”. Maar niemand weet vir seker nie.