Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat het van geduld geword?

Wat het van geduld geword?

ONGEDULD is niks nuuts nie. Mense het nog altyd geduld verloor wanneer hulle in ’n verkeersknoop sit of in ’n tou wag. Maar party deskundiges meen dat mense vandag minder geduld het as in die verlede—en die redes sal jou moontlik verbaas.

Sommige ontleders gee te kenne dat tegnologie die skuld dra vir baie mense se gebrek aan geduld in onlangse jare. Volgens The Gazette van Montreal, Kanada, meen sommige navorsers dat “digitale tegnologie, van selfone tot kameras, van e-pos tot iPod’s, ons lewe verander . . . Die onmiddellike resultate wat hierdie tegnologie ons bied, het ons begeerte na onmiddellike bevrediging op ander gebiede van ons lewe verhoog.”

Die kommentare van die gesinsielkundige dr. Jennifer Hartstein gee ’n mens stof tot nadenke. Sy verduidelik: “Ons lewe nou in ’n kultuur van onmiddellike bevrediging, en ons verwag dat dinge vinnig, doeltreffend en op ons manier moet verloop. Wanneer dit nie gebeur nie, is ons geneig om al hoe meer gefrustreerd en geïrriteerd te raak, [’n teken] van ongeduld.” Sy voeg by: “Ons het die vermoë verloor om net rustig te wees en die oomblik te geniet.”

Party sê dat e-pos gewildheid verloor en binnekort in onbruik sal verval. Waarom? Omdat baie mense wat boodskappe stuur, nie die geduld het om ure, of selfs minute, vir ’n antwoord te wag nie. En soos in die geval van briewe word daar dikwels verwag dat ’n e-pos ’n gepaste groet aan die begin en einde moet hê. Maar baie mense beskou dit as vervelig en tydrowend. Hulle verkies kitsboodskappe, wat nie die formaliteite van e-pos vereis nie. Dit lyk asof mense eenvoudig nie die geduld het om ’n vriendelike groet in te tik nie! Baie mense neem nie die tyd om wat hulle geskryf het, te proeflees nie. Gevolglik word briewe en e-posse na die verkeerde mense gestuur of bevat dit talle taal- en setfoute.

Baie mense het nie die geduld om deur ’n lang gedrukte teksgedeelte te lees nie

Die begeerte na onmiddellike resultate is nie net beperk tot die wêreld van digitale kommunikasie nie. Dit wil voorkom of mense hulle vermoë om te wag, ook op ander gebiede van die lewe verloor. Vind jy byvoorbeeld dat jy soms te vinnig praat, te vinnig eet, te vinnig ry of te vinnig geld uitgee? Die paar oomblikke wat dit neem om te wag vir ’n hysbak om te kom, vir ’n verkeerslig om oor te slaan of vir ’n rekenaar om aan te skakel, voel dalk soos ’n ewigheid.

Deskundiges het al opgemerk dat baie mense nie die geduld het om deur ’n lang gedrukte teksgedeelte te lees nie. Waarom nie? Omdat hulle daaraan gewoond is om vinnig deur webblaaie te kyk en van die een opskrif na die ander te spring, in die hoop om so gou as moontlik uit te kom by die punt wat hulle soek.

Wat het van geduld geword? Deskundiges het nie al die antwoorde in verband met die oorsake van ongeduld nie. Maar daar is blykbaar oortuigende bewyse dat ongeduld nadelig kan wees. Die volgende artikels bespreek ’n paar van die gevare wat ongeduld kan inhou en ook wat jy kan doen om geduldiger te wees.

Baie mense is daaraan gewoond om vinnig deur webblaaie te kyk en van die een opskrif na die ander te spring