Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP

Hoe om bedagsame kinders groot te maak in ’n selfbehepte wêreld

Hoe om bedagsame kinders groot te maak in ’n selfbehepte wêreld

DAAR is elke dag tallose geleenthede om goeie dinge vir ander te doen. Maar dit wil voorkom of baie mense net aan hulleself dink. Jy kan bewyse hiervan byna oral sien—van die skaamtelose manier waarop mense ander bedrieg tot die aggressiewe manier waarop hulle bestuur, van hulle growwe taal tot hulle opvlieënde humeur.

’n Selfsugtige gesindheid heers ook in baie gesinne. Byvoorbeeld, party huweliksmaats skei eenvoudig omdat een van hulle voel dat hy of sy “beter verdien”. Selfs party ouers saai dalk onwetend die saadjies van ’n “ek eerste”-gesindheid. Hoe? Deur hulle kind altyd sy sin te gee, maar te huiwer om enige dissipline toe te dien.

In teenstelling hiermee leer baie ander ouers hulle kinders wel om ander eerste te stel, en dit bring vir hulle groot voordele mee. Kinders wat bedagsaam is, sal waarskynlik makliker vriende maak en blywende verhoudings geniet. Die kanse is ook groter dat hulle tevredenheid sal ervaar. Waarom? Want, soos die Bybel sê, “dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang”.—Handelinge 20:35.

As jy ’n ouer is, hoe kan jy jou kinders help om die voordele te geniet wat goedhartigheid meebring en om nie deur die selfbehepte gesindheid van die wêreld om hulle beïnvloed te word nie? Kyk na drie strikke waarin ouers soms trap wat kan veroorsaak dat hulle ’n selfbehepte gesindheid in hulle kinders bevorder, en let op hoe jy hierdie strikke kan vermy.

 1 Te veel lof

Die probleem. Navorsers het ’n kommerwekkende tendens opgemerk: Talle jong volwassenes betree die arbeidsmark met die gesindheid dat die wêreld hulle iets skuld—hulle verwag sukses, selfs as hulle min of niks gedoen het om dit te verdien nie. Party neem net aan dat hulle gou bevordering sal kry, selfs voordat hulle hulle werk goed ken. Ander is daarvan oortuig dat hulle spesiaal is en dat hulle verdien om so behandel te word—en dan raak hulle terneergedruk wanneer hulle besef dat die wêreld nie dieselfde mening huldig nie.

Die oorsaak. Soms kan mense se gesindheid dat die wêreld hulle iets skuld, teruggevoer word na hoe hulle grootgemaak is. Party ouers is byvoorbeeld uitermate beïnvloed deur die idee dat ’n kind se selfbeeld heeltyd opgebou moet word, ’n oortuiging wat in onlangse dekades gewild geword het. Die beginsels waarop dit gegrond is, maak skynbaar sin: As ’n bietjie lof goed is vir kinders, is baie lof beter. Terselfdertyd word daar gemeen dat enige blyk van afkeuring ’n kind net sal ontmoedig. En in ’n wêreld wat daarop uit is om kinders se selfbeeld op te bou, word dit beskou as iets wat slegs uiters onverantwoordelike ouers sou doen. Ouers moet hulle kinders nooit sleg laat voel oor hulleself nie—altans, dit is wat ouers wysgemaak is.

Baie vaders en moeders het hulle kinders dus onophoudelik begin prys, al het hulle kinders niks besonder prysenswaardigs gedoen nie. Elke prestasie, ongeag hoe klein, is opgehemel; elke fout, ongeag hoe groot, is oorgesien. Daardie ouers het geglo dat ’n kind se selfbeeld slegs opgebou kan word deur die slegte dinge te ignoreer en hom vir al die ander dinge te prys. Om kinders goed oor hulleself te laat voel, het belangriker geword as om hulle te leer om dinge te doen waaroor hulle rede het om goed te voel.

Wat die Bybel sê. Die Bybel erken dat lof gepas is wanneer dit verdien word (Matteus 25:19-21). Maar as kinders geprys word bloot om hulle goed te laat voel, kan dit hulle ’n verwronge beskouing van hulleself laat ontwikkel. Die Bybel sê tereg: “As iemand dink dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, bedrieg hy sy eie verstand” (Galasiërs 6:3). Die Bybel sê met goeie rede vir ouers: “Moenie nalaat om jou kinders tereg te wys nie. Dit sal hulle nie doodmaak as jy ferm is nie.” *Spreuke 23:13, Contemporary English Version.

Wat jy kan doen. Stel jou dit ten doel om jou kinders tereg te wys wanneer dit nodig is en te prys wanneer hulle dit werklik verdien. Moenie jou kinders prys net om hulle goed oor hulleself te laat voel nie. Dit sal tien teen een nie werk nie. “’n Mens verkry ware selfvertroue as jy jou talente ontwikkel en dinge leer”, sê die boek Generation Me, “nie omdat mense vir jou sê dat jy wonderlik is net omdat jy bestaan nie.”

“Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees.”—Romeine 12:3, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling

 2 Oorbeskerming

Die probleem. Talle jong volwassenes wat die arbeidsmark betree, is blykbaar nie goed voorbereid op teëspoed nie. Party voel verpletterd as hulle net ’n bietjie kritiek ontvang. Ander is kieskeurig en is net bereid om werk te aanvaar wat aan hulle hoogste verwagtinge voldoen. Byvoorbeeld, in die boek Escaping the Endless Adolescence vertel dr. Joseph Allen van ’n jong man wat gedurende ’n werksonderhoud vir hom gesê het: “Ek kry die gevoel dat dele van die werk soms ’n bietjie vervelig kan wees, en ek wil nie verveeld wees nie.” Dr. Allen skryf: “Hy het blykbaar nie verstaan dat enige werk soms vervelig is nie. Hoe het iemand die ouderdom van drie-en-twintig bereik sonder om dit te besef?”

Die oorsaak. In onlangse dekades het baie ouers verplig begin voel om hulle kinders teen enige teëspoed te beskerm. Het jou dogter ’n toets gedruip? Meng in en eis dat die onderwyser haar beter punte gee. Het jou seun ’n verkeersboete ontvang? Betaal dit vir hom. Was daar ’n mislukte romanse? Lê al die skuld voor die ander persoon se deur.

Hoewel dit natuurlik is om jou kinders te wil beskerm, kan dit die verkeerde boodskap oordra as jy oorbeskermend is—dat hulle nie die verantwoordelikheid vir hulle dade hoef te aanvaar nie. “Pleks van te leer dat hulle pyn en teleurstelling kan verwerk, en selfs daaruit kan leer”, sê die boek Positive Discipline for Teenagers, “raak [sulke] kinders uiters egosentries, oortuig daarvan dat die wêreld en hulle ouers hulle iets skuld.”

Wat die Bybel sê. Teëspoed is deel van die lewe. Trouens, die Bybel sê: “Slegte dinge gebeur met almal!” (Prediker 9:11, Easy-to-Read Version). Dit sluit goeie mense in. Die Christenapostel Paulus het byvoorbeeld gedurende sy bediening tallose ontberinge gely. Maar die feit dat hy voor teëspoed te staan gekom het, het hom tot voordeel gestrek! Hy het geskryf: “Ek het geleer om, in watter omstandighede ek ook al verkeer, vergenoeg te wees. . . . Ek [het] die geheim daarvan geleer om versadig te wees sowel as om honger te wees, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.”—Filippense 4:11, 12.

Wat jy kan doen. Probeer die volgende Bybelbeginsel toepas terwyl jy jou kinders se volwassenheid in ag neem: “Elkeen van ons moet sy eie vrag dra” (Galasiërs 6:5, CEV). As jou seun ’n verkeersboete ontvang, sal dit moontlik die beste wees om hom die boete uit sy sakgeld of salaris te laat betaal. As jou dogter ’n toets druip, behoort dit haar te laat besef dat sy volgende keer beter voorbereid moet wees. As jou seun se romanse misluk, troos hom—maar help hom op die gepaste tyd om na te dink oor vrae soos: ‘Toon hierdie ondervinding dat ek in sekere opsigte nog moet groei?’ Kinders wat hulle probleme self probeer oplos, raak veerkragtig en bou selfvertroue op—eienskappe wat hulle nie sal hê as iemand hulle heeltyd uit die moeilikheid red nie.

“Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy . . . rede tot vreugde hê.”—Galasiërs 6:4

 3 Te veel materiële dinge

Die probleem. In ’n opname onder jong volwassenes het 81 persent gesê dat die hoofdoel van hulle geslag is ‘om ryk te word’—volgens hulle is dit baie belangriker as om ander te help. Maar die strewe na rykdom bring nie tevredenheid mee nie. Trouens, navorsing gee te kenne dat mense wie se lewe om materiële dinge draai, minder geluk ervaar en meer terneergedruk is. Hulle het ook meer fisiese en geestesprobleme.

Die oorsaak. In party gevalle word kinders in materialistiese gesinne groot. “Ouers wil hulle kinders gelukkig maak, en kinders wil materiële dinge hê”, sê die boek The Narcissism Epidemic. “Daarom koop ouers vir hulle dinge. En die kinders is gelukkig, maar dit hou nie lank nie. Dan wil hulle net meer dinge hê.”

Die advertensiebedryf is natuurlik alte gretig om so ’n kooplustige verbruikersmark uit te buit. Dit bevorder idees soos ‘Jy verdien die beste’ en ‘Jy is dit werd’. Talle jong volwassenes het hierdie boodskap geglo en is nou diep in die skuld en kan nie betaal vir die dinge wat hulle “verdien” nie.

Wat die Bybel sê. Die Bybel erken dat ons geld nodig het (Prediker 7:12). Terselfdertyd waarsku dit: “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge.” Dit voeg by: “Deur hierdie liefde na te streef, . . . het [party] hulleself oral met baie pyne deurboor” (1 Timoteus 6:10). Die Bybel spoor ons aan om nie materiële rykdom na te streef nie, maar om tevrede te wees met die basiese lewensbenodigdhede.—1 Timoteus 6:7, 8.

“Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes.”—1 Timoteus 6:9

Wat jy kan doen. As ’n ouer moet jy jou eie gesindheid teenoor geld en die dinge wat dit kan koop, ondersoek. Behou die regte prioriteite, en help jou kinders om dieselfde te doen. The Narcissism Epidemic, waaruit daar vroeër aangehaal is, stel voor: “Ouers en kinders kan gesels oor onderwerpe soos: ‘Wanneer is dit ’n goeie idee om dinge op ’n uitverkoping te koop? Wanneer is dit ’n slegte idee?’ ‘Wat is ’n rentekoers?’ ‘Wanneer het jy iets gekoop omdat iemand anders gedink het jy moet?’”

Pasop dat jy nie “dinge” gebruik as ’n oplossing vir gesinsprobleme waaraan daar aandag geskenk moet word nie. “Om probleme met materiële dinge te probeer oplos, is uiters ondoeltreffend”, sê die boek The Price of Privilege. “Probleme moet opgelos word met denkvermoë, insig en empatie, nie met skoene en handsakke nie.”

^ par. 11 Die Bybel keur nie die fisiese of emosionele mishandeling van kinders goed nie (Efesiërs 4:29, 31; 6:4). Die doel van teregwysing is om te onderrig, nie om ’n uitlaatklep vir ’n ouer se woede te voorsien nie.