HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP
Hoe om met jou tiener te kommunikeer
DIE UITDAGING
Toe hy ’n kind was, het hy oor alles met jou gepraat. Noudat hy ’n tiener is, vertel hy jou niks nie. Wanneer jy probeer gesels, antwoord hy kortaf of begin hy ’n woordewisseling wat jou huis in ’n oorlogsone verander.
Jy kan leer om met jou tiener te kommunikeer. Maar kyk eers na twee faktore wat tot die uitdaging kan bydra. *
WAAROM DIT GEBEUR
Die strewe na onafhanklikheid. Om ’n verantwoordelike volwassene te word, moet jou tiener, in figuurlike sin, geleidelik van die passasiersitplek oorskuif na die bestuurdersitplek en leer om sy weg op die bedrieglike paaie van die lewe te vind. Party tieners wil natuurlik meer vryheid hê as wat hulle behoort te hê; aan die ander kant gee party ouers hulle tieners minder vryheid as wat hulle kan gee. Die toutrekkery wat dit tot gevolg kan hê, kan die lewe vir ouers en tieners moeilik maak. “My ouers probeer om elke aspek van my lewe te beheer”, kla die 16-jarige Brad. * “As hulle my nie meer vryheid gee teen die tyd dat ek 18 is nie, trek ek!”
Abstrakte denke. Jong kinders dink gewoonlik in letterlike terme en vir hulle is ’n saak óf swart óf wit, maar baie tieners kan die grys gebiede van ’n saak raaksien. Dit is ’n belangrike aspek van abstrakte denke, en dit help ’n jong persoon om goeie oordeelsvermoë te ontwikkel. Kyk na ’n voorbeeld: Vir ’n kind lyk die konsep van regverdigheid eenvoudig: ‘Mamma het ’n koekie in die helfte gebreek en die een helfte vir my en die ander helfte vir my broer gegee.’ In hierdie geval kom regverdigheid neer op ’n wiskundige formule. Maar tieners besef dat regverdigheid nie so eenvoudig is nie. Regverdige behandeling beteken immers nie altyd gelyke behandeling nie, en gelyke behandeling is nie altyd regverdig nie. Weens abstrakte denke kan jou tiener met sulke ingewikkelde kwessies worstel. Die nadeel? Dit kan ook veroorsaak dat hy met jou worstel.
WAT JY KAN DOEN
Knoop, wanneer moontlik, ontspanne gesprekke aan. Maak gebruik van geleenthede wanneer daar ’n ontspanne atmosfeer is. Party ouers het byvoorbeeld gevind dat tieners meer geneig is om openhartig te gesels terwyl hulle takies doen of in die motor ry—wanneer hulle langs hulle ouer is en hom of haar nie reguit in die oë hoef te kyk nie.—Bybelbeginsel: Deuteronomium 6:6, 7.
Hou dit kort. Jy hoef nie tot die bitter einde toe oor elke probleem te stry nie. Stel eerder jou saak . . . en laat dit dan daar. Jou tiener sal eers later die grootste deel van jou boodskap “hoor”, wanneer hy alleen is en kan nadink oor wat jy gesê het. Gee hom ’n geleentheid om dit te doen.—Bybelbeginsel: Spreuke 1:1-4.
Luister—en wees buigsaam. Luister aandagtig—sonder om jou tiener in die rede te val—sodat jy die probleem in sy geheel kan sien. Wees redelik wanneer jy antwoord. As jy te streng by die reëls bly, sal jou tiener moontlik na skuiwergate begin soek. “Dit is wanneer kinders ’n dubbele lewe lei”, waarsku die boek Staying Connected to Your Teenager. “Een waarin hulle vir hulle ouers sê wat hulle wil hoor en een waarin hulle doen wat hulle wil sodra hulle ouers hulle nie kan sien nie.”—Bybelbeginsel: Filippense 4:5.
Bly kalm. “Wanneer ons nie saamstem nie, vererg my ma haar vir alles wat ek sê”, sê ’n tiener met die naam Kari. “Dan raak ek net ontsteld, en die gesprek ontaard gou in ’n rusie.” In plaas daarvan om te oorreageer, kan jy iets sê wat jou tiener se gevoelens “weerspieël”. Byvoorbeeld, pleks van te sê: “Dis mos nie iets om jou oor te bekommer nie!” kan jy sê: “Ek kan sien hoeveel dit jou pla.”—Bybelbeginsel: Spreuke 10:19.
Sover moontlik moet jy eerder raad gee as bevele. Jou tiener se abstrakte denkvermoë is soos spiere wat ontwikkel moet word. Wanneer hy voor ’n dilemma te staan kom, moet jy dus nie die “oefening” vir hom doen nie. Terwyl julle die saak bespreek, moet jy hom ’n geleentheid gee om self met ’n paar oplossings vorendag te kom. Nadat julle dan ’n paar opsies bespreek het, kan jy sê: “Daar het ons nou ’n paar opsies. Dink ’n dag of twee daaroor na, en dan kan ons weer gesels oor watter oplossing jy verkies en waarom.”—Bybelbeginsel: Hebreërs 5:14