FIGURE UIT DIE VERLEDE
Plato
Plato (ca. 427-347 VHJ) was ’n heidense Griekse filosoof. Hy is gebore in Atene in ’n aristokratiese gesin en het die tradisionele opvoeding van ’n welgestelde Griekse jeugdige ontvang. Hy is grootliks beïnvloed deur die beroemde filosoof Sokrates en deur die volgelinge van Pitagoras, ’n filosoof en wiskundige.
NADAT Plato rondgereis het in die Mediterreense bekken en betrokke was by die politiek van Sirakuse, ’n Griekse stad in Sisilië, het hy teruggekeer na Atene, waar hy die Akademie gestig het. Die Akademie, waarna daar dikwels verwys word as Europa se eerste universiteit, het ’n sentrum van wiskundige en filosofiese navorsing geword.
WAAROM DIT VIR JOU MOET SAAK MAAK
Die leringe van Plato het ’n groot invloed gehad op die godsdiensoortuigings van miljoene mense, insluitende verklaarde Christene, van wie baie verkeerdelik aanneem dat hierdie oortuigings op die Bybel gebaseer is. Een van Plato se vernaamste leringe is die idee dat mense ’n onsterflike siel het wat die dood van die fisiese liggaam oorleef.
“Die onsterflikheid van die siel is een van Plato se gunstelingonderwerpe.”—Body and Soul in Ancient Philosophy
Plato het ’n groot belangstelling in lewe ná die dood gehad. Die boek Body and Soul in Ancient Philosophy sê dat ‘die onsterflikheid van die siel een van Plato se gunstelingonderwerpe is’. Hy het vas geglo dat “die siel ná die dood van die liggaam voortleef om beloon of gestraf te word” in die hiernamaals, afhangende van watter soort lewe die persoon gelei het terwyl hy op die aarde was. *
HOE HET PLATO SE LERINGE VERSPREI?
Gedurende die nege eeue dat Plato se Akademie bestaan het, van 387 VHJ tot 529 HJ, het dit ’n verreikende invloed gehad. Platoniese denke het gewild geword in lande wat deur Griekeland en Rome oorheers is. Die Joodse filosoof Filo van Aleksandrië het Platonisme aangeneem, soos ook die geval was met baie godsdiensleiers in die Christendom. Gevolglik is heidense filosofiese opvattings, insluitende die onsterflikheid van die siel, mettertyd opgeneem in die leerstellings van Judaïsme en die Christelike godsdiens.
“Alle Christelike teologie is, ten minste in ’n mate, gegrond op hedendaagse Griekse filosofie, hoofsaaklik Platonisme”, sê The Anchor Bible Dictionary, “maar party Christelike denkers . . . verdien die titel Christelike Platoniste.” Vergelyk wat die volgende bronne sê.
Wat Plato gesê het: “[By die dood] sal die ware self van elkeen van ons, wat ons die onsterflike siel noem, vertrek na die teenwoordigheid van ander gode om daar . . . rekenskap te gee—’n vooruitsig wat die goeies met moed tegemoet kan gaan, maar die goddeloses met die grootste vrees.”—Plato—Laws, Boek XII.
Wat die Bybel sê: Die siel is die persoon self of die lewe wat hy geniet. Selfs diere is siele. By die dood hou die siel op om te bestaan. * Kyk na die volgende tekste:
“Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword.”—1 Korintiërs 15:45.
“God het verder gesê: ‘Laat die aarde lewende siele voortbring volgens hulle soorte, mak diere en kruipende diere en wilde diere van die aarde.’”—Genesis 1:24.
“Laat my siel . . . sterf.”—Numeri 23:10.
“Die siel wat sondig—dié sal sterf.”—Esegiël 18:4.
Dit is duidelik dat die Bybel nie leer dat die siel die dood van die fisiese liggaam oorleef nie. Vra jou dus af: ‘Is my oortuigings gegrond op die Bybel of op die filosofie van Plato?’
^ par. 7 Hoewel Plato die opvatting van die onsterflike siel gewild laat word het, was hy nie die eerste een wat dit aanvaar het nie. Die konsep was, in sy verskillende vorme, lankal deel van heidense godsdienste, insluitende dié van Egipte en Babilon.
^ par. 12 Die Bybel leer dat die dooies as ’t ware slaap en op ’n opstanding wag (Prediker 9:5; Johannes 11:11-14; Handelinge 24:15). Maar as siele onsterflik was, sou hulle nie ’n opstanding nodig gehad het nie.