DIE BYBEL SE BESKOUING
Pornografie
Veroordeel die Bybel pornografie?
“Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”—Matteus 5:28.
WAAROM DIT SAAK MAAK
Vandag is pornografie gewilder en algemener as ooit tevore. As jy God wil behaag en gelukkiger wil wees, moet jy weet hoe God oor pornografie voel.
WAT DIE BYBEL SÊ
Die Bybel maak nie spesifiek melding van pornografie nie. Tog is dit lynreg in stryd met talle Bybelbeginsels om pornografie te gebruik.
Die Bybel sê byvoorbeeld reguit dat dit tot egbreuk kan lei as ’n getroude man “aanhou om na ’n vrou te kyk” met wie hy nie getroud is nie en ’n begeerte ontwikkel om geslagsomgang met haar te hê. Die beginsel agter hierdie stelling in die Bybel is van toepassing op almal, getroud of ongetroud, wat ‘aanhou kyk’ na pornografiese beelde en sodoende seksueel onsedelike begeertes voed. Dit is duidelik dat sulke gedrag vir God aanstootlik is.
Is die gebruik van pornografie verkeerd al lei dit nie tot seksueel onsedelike dade nie?
“Maak dan dood julle liggaamsdele . . . ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug.”—Kolossense 3:5.
WAT MENSE SÊ
Party navorsers twyfel of daar ’n noemenswaardige verband bestaan tussen pornografie en werklike dade wat seksueel aanstootlik is. Maar is die gebruik van pornografie op sigself onsedelik?
WAT DIE BYBEL SÊ
Die Bybel beskryf “onwelvoeglike skertsery” as onaanvaarbaar en onsedelik (Efesiërs 5:3, 4). Kan pornografie dan enigsins minder aanstootlik wees? Vandag se pornografie behels dikwels video-opnames van werklike dade van egbreuk, homoseksualiteit en ander vorme van hoerery. Om met wellus na sulke seksueel onsedelike dade te kyk, is beslis baie aanstootliker in God se oë as onwelvoeglike spraak.
Navorsers het nog steeds verskillende menings oor die waarskynlikheid daarvan dat mense fantasieë sal uitleef wat deur pornografie aangevuur word. Maar dit is duidelik dat die Bybel die gedagte ondersteun dat die gebruik van pornografie op sigself geestelik verwoestend is en uiters aanstootlik is vir God. Die Bybel gee hierdie vermaning: “Maak dan dood julle liggaamsdele . . . ten opsigte van hoerery [en] geslagsdrif” (Kolossense 3:5). Mense wat pornografie gebruik, doen presies die teenoorgestelde—pleks van sulke begeertes dood te maak, voed en versterk hulle dit.
Wat kan jou help om die gebruik van pornografie te vermy?
“Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie . . . Haat wat sleg is, en wees lief vir wat goed is.”—Amos 5:14, 15.
WAT DIE BYBEL SÊ
Die Bybel praat van seksueel onsedelike persone, dronkaards en diewe wat daarin geslaag het om hulle skadelike gedrag die rug toe te keer (1 Korintiërs 6:9-11). Hoe? Hulle het geleer om te haat wat sleg is deur die wysheid toe te pas wat in God se Woord gevind word.
Dit is moontlik om te leer om pornografie te haat deur goed na te dink oor die verskriklike gevolge van hierdie euwel. ’n Onlangse studie wat deur die Staatsuniversiteit van Utah gepubliseer is, het aan die lig gebring dat party pornografiegebruikers “depressie, sosiale afsondering, beskadigde verhoudings” en ander tragiese gevolge ervaar. Wat meer is, omdat pornografiekykery vir God aanstootlik is, soos vroeër verduidelik is, doen dit iets wat baie skadeliker is. Dit vervreem mense van hulle Skepper.
Die Bybel kan ons help om te leer om lief te wees vir wat goed is. Hoe meer ons die Bybel lees, hoe groter sal ons liefde word vir die sedelike standaarde wat dit bevat. Hierdie liefde sal ons help om pornografie te verwerp en om te voel soos die psalmis wat geskryf het: “Ek sal geen waardelose ding voor my oë stel nie.”—Psalm 101:3.