Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Wêreld

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het tot die slotsom gekom dat blootstelling aan uitlaatgasse van dieselenjins “verband hou met ’n verhoogde risiko om longkanker” en moontlik ook blaaskanker te kry.

Antarktika

Versteende stuifmeel en spore wat in seesediment gevind is, toon dat daar vroeër palms en byna tropiese woude in Antarktika was. Gedurende die sogenoemde “Eoseense kweekhuistydperk” was winters matig en “oor die algemeen rypvry” en het temperature by die pole nie baie verskil van dié by die ewenaar nie.

Ierland

’n Verslag wat in 2012 deur Ierland se Vereniging van Katolieke Priesters uitgegee is, toon dat 87 persent van die Ierse Katolieke onder wie daar ’n opname gedoen is, meen dat priesters toegelaat moet word om te trou; 77 persent meen dat vroue tot die priesterskap toegelaat moet word.

Afrika suid van die Sahara en Suidoos-Asië

’n Ontleding van malariamiddels het aan die lig gebring dat die middels in party gebiede dikwels van swak gehalte of nagemaak is, wat tot gevolg het dat behandeling onvoldoende is of misluk. In Suidoos-Asië is bevind dat 36 persent van die middels wat getoets is, namaaksels is; dit was ook die geval met 20 persent van die middels wat in Afrika suid van die Sahara getoets is.

El Salvador

In die middel van April 2012 het staatsamptenare El Salvador se eerste moordvrye dag in byna drie jaar aangekondig. Die land, wat deur dwelmverwante geweld geteister word, het in 2011 ’n moordsyfer van 69 per 100 000 gehad—een van die hoogstes in die wêreld.