’n Kykie na die sku woestynkat
IN DIE hartjie van ’n dor woestyn kom ’n woestynkat gedurende die donker ure van die nag uit sy lêplek, en dan gaan staan hy stil. Hy kyk om hom rond en luister. Dan begin die dier sluipend oor die sanderige terrein beweeg.
Skielik bespring die woestynkat sy niksvermoedende prooi—’n woestynmuis. Die woestynkat jag die res van die nag verder, en elke nou en dan spring hy om nog prooi te vang. As die woestynkat meer vang as wat hy kan eet, bedek hy wat oorbly met sand. Hy keer vroeg in die oggend na sy lêplek terug en kom selde gedurende die dag uit. Kyk na ’n paar interessante feite oor hierdie sku dier.
Die fyn gehoor van die woestynkatte help hulle om hulle prooi te vind, al is dit onder die grond
Om ’n maat te vind, maak die mannetjie ’n hoë blafgeluid. Die wyfie se fyn gehoor maak dit vir haar moontlik om hom oor ’n groot afstand te hoor
Die harige bedekking van die woestynkat se pote keer dat die dier in die sand insink en beskerm sy pote teen die skroeiende hitte van die sand
Die binnekant van albei ore is bedek met digte wit hare, wat die kat teen waaisand beskerm
Dit is moeilik om die spoor van die woestynkat te volg omdat die sole van sy pote met ’n digte laag hare bedek is en sy spoor dus nie maklik gesien kan word nie
Woestynkatte kry al die water wat hulle nodig het om aan die lewe te bly, uit hulle prooi
Die sand van die Karakumwoestyn kan ’n temperatuur van 80 grade Celsius bereik. En soms kan die lugtemperatuur tot -25 grade Celsius daal