Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

  IS DIT ONTWERP?

Die bergingsvermoë van DNS

Die bergingsvermoë van DNS

REKENAARGEBRUIKERS bring ontsaglike hoeveelhede digitale inligting voort wat geberg moet word en toeganklik moet wees wanneer nodig. Wetenskaplikes hoop om huidige digitale bergingsmetodes drasties te verander deur ’n baie beter databergingstelsel na te boots wat in die natuur gevind word—DNS.

Dink hieraan: DNS, wat in lewende selle gevind word, bevat miljarde brokkies biologiese inligting. “Ons kan dit uit die gebeente van wollerige mammoete haal . . . en daaruit sin maak”, sê Nick Goldman van die Europese Instituut vir Bio-informatika. “Dit is ook ongelooflik klein en dig saamgepak en het nie ’n kragbron nodig om inligting te berg nie; daarom is dit maklik om te versend en te bewaar.” Kan DNS mensgemaakte inligting berg? Navorsers sê ja.

Wetenskaplikes het gekodeerde teks, beelde en oudiolêers in DNS geberg, op soortgelyke wyse as wat inligting op digitale media geberg word. Die navorsers kon later die gebergde inligting 100 persent akkuraat ontsyfer. Wetenskaplikes meen dat een gram kunsmatige DNS uiteindelik, met behulp van hierdie metode, die inligting sal kan berg waarvoor sowat 3 000 000 CD’s nodig is en dat al hierdie inligting honderde of selfs duisende jare lank bewaar sal kan word. Die moontlikheid bestaan dat hierdie stelsel die hele wêreld se digitale argief sal kan berg. DNS is dus al “die allerbeste hardeskyf” genoem.

Wat dink jy? Kon die bergingsvermoë van DNS deur middel van evolusie ontstaan het? Of is dit ontwerp?