Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | WAAROM VOORTGAAN?

Omdat daar hulp is

Omdat daar hulp is

“[Werp] al julle sorge op [God], want hy sorg vir julle.”1 PETRUS 5:7.

Jy verkies dalk die dood bo die lewe wanneer jy meen dat jy niks kan doen om jou situasie te verbeter nie. Maar kom ons kyk na hulp wat vir jou beskikbaar is.

Gebed. Gebed is nie bloot ’n emosionele kruk nie; dit is ook nie ’n laaste uitweg vir wanhopige siele nie. Dit is ware kommunikasie met Jehovah God, wat vir jou omgee. Jehovah wil hê dat jy hom van jou sorge moet vertel. Trouens, die Bybel spoor ons aan: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag.”Psalm 55:22.

Praat gerus vandag met God in gebed. Gebruik sy naam, Jehovah, en praat uit die hart (Psalm 62:8). Jehovah wil hê dat jy hom as ’n vriend moet leer ken (Jesaja 55:6; Jakobus 2:23). Gebed is ’n kommunikasiemiddel wat jy enige tyd en op enige plek kan gebruik.

Volgens die Amerikaanse Stigting vir die Voorkoming van Selfmoord “is daar deurgaans in studies bevind dat die oorgrote meerderheid van selfmoordslagoffers—90% of meer—ten tye van hulle dood aan ’n geestesversteuring gely het. Maar hierdie versteurings is dikwels nie erken, gediagnoseer of behoorlik behandel nie”

Mense wat omgee. Jou lewe is belangrik vir ander—insluitende jou gesinslede of vriende wat dalk reeds besorgdheid oor jou uitgespreek het. Mense wat omgee, sluit ook mense in wat jy miskien nog nooit ontmoet het nie. Byvoorbeeld, Jehovah se Getuies kom soms wanhopige mense in hulle bediening teë, van wie party al erken het dat hulle dringend hulp nodig gehad het en dit oorweeg het om hulle lewe te neem. Die deur-tot-deur-bediening bied Jehovah se Getuies die unieke geleentheid om sulke mense te help. In navolging van Jesus se voorbeeld gee Jehovah se Getuies vir hulle medemens om. Hulle gee vir jou om.Johannes 13:35.

Professionele hulp. Selfmoordgedagtes dui dikwels op ’n gemoedsversteuring, soos kliniese depressie. Jy hoef nie skaam te voel as jy aan ’n emosionele siekte ly nie, net soos jy nie skaam hoef te voel as jy aan ’n fisiese siekte ly nie. Trouens, depressie is al “die verkoue van die verstand” genoem. Feitlik enigiemand kan dit kry—en dit kan behandel word. *

ONTHOU DIE VOLGENDE: Dit is gewoonlik nie moontlik om sonder hulp uit ’n diep put van depressie te kom nie. Maar as daar ’n helpende hand is, kan jy dit regkry.

WAT JY VANDAG KAN DOEN: Soek ’n gerespekteerde dokter wat gemoedsversteurings, soos depressie, behandel.

^ par. 8 As jy oorweldigende selfmoordgedagtes het wat nie wil weggaan nie, moet jy uitvind watter hulpmiddele tot jou beskikking is—dalk ’n selfmoordnoodlyn of ’n hospitaal se ongevalle-afdeling. Die mense wat daar werk, is opgelei om hulp te verleen.