HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP
Hoe om tieners Internetveiligheid te leer
DIE UITDAGING
Nuusberigte skep by jou die indruk dat die Internet ’n skuilplek is vir kuberafknouers, seksuele uitbuiters en identiteitsdiewe. Jy het goeie rede om bekommerd te wees: Jou tiener is dikwels aanlyn en is blykbaar nie bewus van die gevare nie.
Jy kan jou tiener Internetveiligheid leer. Maar daar is ’n paar dinge wat jy eers omtrent die Internet moet weet.
WAT JY MOET WEET
Tieners kan toegang kry tot die Internet op draagbare toestelle. Die wenk dat die rekenaar op ’n plek in die huis moet wees waar almal dit kan sien, is nog steeds geldig. Maar met ’n tablet of slimfoon kan jou tiener groter toegang tot die Internet hê as ooit tevore—en sonder jou toesig.
Party tieners bestee te veel tyd aanlyn. “Ek skakel die rekenaar aan met die doel om net vyf minute lank na my e-posse te kyk, maar op die ou end kyk ek ure lank na video’s”, erken ’n 19-jarige meisie. “Ek het nie genoeg selfbeheersing nie.”
Tieners verskaf soms te veel inligting aanlyn. Bedrieglike mense kan ’n tiener se aanlyn kommentare en foto’s gebruik om onder andere uit te pluis waar hy of sy woon en skoolgaan en wanneer niemand in die gesin by die huis sal wees nie.
Party tieners besef nie watter gevolge dit kan hê as hulle iets op die Internet plaas nie. Wat aanlyn geplaas word, bly aanlyn. Soms word kommentare en foto’s wat ’n tiener in die verleentheid kan bring, later ontdek—byvoorbeeld deur ’n voornemende werkgewer wat ’n werksaansoeker se agtergrond nagaan.
Ten spyte van hierdie gevare moet jy onthou: Die Internet is nie jou vyand nie. Dit is eerder die onwyse gebruik van die Internet wat tot probleme aanleiding gee.
WAT JY KAN DOEN
Leer jou tiener om prioriteite te stel en sy tyd verstandig te gebruik. Om ’n verantwoordelike volwassene te word, moet ’n tiener onder andere leer om die belangrikste sake eerste te stel. Gesinskommunikasie, huiswerk en huistakies is belangriker as om doelloos op die Internet rond te snuffel. As jy bekommerd is dat jou tiener te veel tyd aanlyn bestee, moet jy perke stel—jy kan selfs ’n alarm stel wat sal aandui wanneer sy tyd verstreke is.
Leer jou tiener om te dink voordat hy iets op die Internet plaas. Help jou tiener om vrae te vra soos: Sal die kommentaar wat ek wil plaas, iemand dalk seermaak? Watter uitwerking sal hierdie foto op my reputasie hê? Sal ek verleë voel as my ouers of ander volwassenes hierdie foto of kommentaar sien? Wat sal hulle van my dink as hulle dit sien? Wat sal ek dink van iemand wat so ’n kommentaar of foto op die Internet plaas?
Leer jou tiener om volgens waardes te lewe
“Kinders weet meer omtrent tegnologie. Ouers weet meer omtrent die lewe”
Wanneer ’n mens op die Internet rondsnuffel, moet jy nie net tegnologiese kennis hê nie, maar moet jy ook goeie oordeel aan die dag lê, soos wanneer jy ’n motor bestuur. Dit is dus noodsaaklik dat jy jou kinders van leiding voorsien. Parry Aftab, ’n deskundige op die gebied van Internetveiligheid, sê: “Kinders weet meer omtrent tegnologie. Ouers weet meer omtrent die lewe.”