Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | WAT IS WARE SUKSES?

Hoe om ware sukses te behaal

Hoe om ware sukses te behaal

Die Bybel bevorder ’n gepaste beskouing van sukses. Dit leer nie dat slegs ’n paar gelukkige mense sukses kan behaal nie. Maar dit ondersteun ook nie die storieboekidee dat al jou wense waar sal word as jy eenvoudig ‘jou drome najaag’ nie. Hierdie idee—wat kinders dikwels van kleins af geleer word—sal waarskynlik tot teleurstelling lei.

Die feit is dat ware sukses binne almal se bereik is—maar dit verg inspanning. Kyk na die volgende beginsels.

  • WAT DIE BYBEL SÊ:

    “Iemand wat silwer liefhet, sal nie genoeg kry van silwer nie, ook nie iemand wat rykdom liefhet, van inkomste nie.”—Prediker 5:10.

    WAT DIT BETEKEN. ’n Materialistiese lewenswyse waarborg nie tevredenheid nie. Trouens, dit het dikwels die teenoorgestelde uitwerking. “Mense vir wie geld die belangrikste is, is baie meer geneig om angstig en terneergedruk te wees as mense wat waarde heg aan sterk verhoudings met ander”, skryf dr. Jean M. Twenge in haar boek Generation Me. Sy voeg by: “Navorsing toon herhaaldelik dat geld nie geluk kan koop nie—wanneer jy genoeg verdien om ’n bestaan te maak, hou jou inkomste nie juis verband met jou tevredenheid in die lewe nie.”

    WAT JY KAN DOEN. Stel vir jou ’n doelwit wat jou meer bevrediging sal verskaf as rykdom en besittings. “Waak teen elke soort hebsug,” het Jesus gesê, “want selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie.”—Lukas 12:15.

  • WAT DIE BYBEL SÊ:

    “Trots kom voor ’n ineenstorting en ’n hoogmoedige gees voor struikeling.”—Spreuke 16:18.

    WAT DIT BETEKEN. Ambisie en verwaandheid sal jou nie help om ware sukses te vind nie. Trouens, die boek Good to Great sê dat maatskappyleiers wat langtermynsukses behaal, “dwingende beskeidenheid aan die dag lê, nie in die kollig wil wees nie en hulle rol onderbeklemtoon. In teenstelling hiermee het twee derdes van die vergelykende maatskappye leiers gehad met ’n verskriklike hoë dunk van hulleself, wat daartoe bygedra het dat die maatskappy ondergegaan het of ondergemiddeld bly presteer het.” Wat is die les? As jy te veel van jouself dink, sal dit waarskynlik eerder tot mislukking as sukses lei.

    WAT JY KAN DOEN. Kweek eerder beskeidenheid aan as om aansien te soek. Die Bybel sê: “As iemand dink dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, bedrieg hy sy eie verstand”—nouliks ’n aanduiding van sukses!—Galasiërs 6:3.

  • WAT DIE BYBEL SÊ:

    “Vir ’n mens is daar niks beters nie as dat hy . . . sy siel die goeie laat sien weens sy harde werk.”—Prediker 2:24.

    WAT DIT BETEKEN. As jy ’n goeie werketiek ontwikkel, sal jy jou werk waarskynlik meer geniet. In haar boek Teach Your Children Well skryf dr. Madeline Levine: “Om iets suksesvol te kan doen, behels onder andere dat jy dit goed kan doen, en om iets goed te kan doen, verg hoofsaaklik inspanning en volharding.” Dit sluit in dat jy die veerkragtigheid het om terugslae te verwerk waarvoor jy nou en dan te staan kom.

    WAT JY KAN DOEN. Span jou in om vaardig te word in jou werk, en moenie tou opgooi wanneer jy voor struikelblokke te staan kom nie. As jy kinders het, moet jy hulle (ooreenkomstig hulle ouderdom en vermoë) die geleentheid bied om hulle probleme self te probeer oplos. Moenie oorhaastig wees om al hulle probleme vir hulle op te los nie. Jongmense vind ware tevredenheid—en kry goeie opleiding vir die volwasse lewe—wanneer hulle veerkragtigheid ontwikkel.

  • WAT DIE BYBEL SÊ:

    “’n Lewende hond [is] beter daaraan toe . . . as ’n dooie leeu.”—Prediker 9:4.

    WAT DIT BETEKEN. As jy sekulêre werk doen, moet jou werk ’n deel van jou lewe wees—maar nie jou hele lewe nie. Hoe suksesvol sal jy immers wees as jy die toppunt van jou beroep bereik, maar jou gesondheid of die respek van jou gesin verloor? Mense wat waarlik suksesvol is, streef daarna om die regte balans te handhaaf wat hulle werk, gesondheid en gesinslewe betref.

    WAT JY KAN DOEN. Sien om na jouself. Kry genoeg rus. Dit hou min voordeel in om ’n werkslaaf te word wat alles—gesondheid, gesin en vriendskappe—vir valse sukses opoffer.

  • WAT DIE BYBEL SÊ:

    “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”—Matteus 5:3.

    WAT DIT BETEKEN. As jy ware sukses wil behaal, is dit noodsaaklik dat jy die Bybel bestudeer en die beginsels daarin toepas. Trouens, miljoene Getuies van Jehovah het al gevind dat hulle sorge oor materiële dinge afneem wanneer hulle geestelike belange eerste in hulle lewe stel.—Matteus 6:31-33.

    WAT JY KAN DOEN. Leer hoe die Bybel jou kan help om ware sukses te vind. Vir meer inligting kan jy met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking kom of ons webwerf, www.pr418.com/af, besoek.