VOORBLADONDERWERP
Wat het van dissipline geword?
In onlangse dekades het die gesinslewe in Westerse lande drasties verander. Daar was ’n tyd toe ouers in beheer was en kinders hulle leiding gevolg het. Maar deesdae lyk dit asof dit in sommige huise andersom werk. Kyk byvoorbeeld na die volgende scenario’s, wat almal op tipiese situasies gebaseer is.
-
Terwyl ’n vierjarige seuntjie saam met sy ma by die winkel is, strek hy sy hand na ’n speelding uit. Sy ma probeer met hom redeneer. “Het jy nie al genoeg speelgoed nie?” Sy besef te laat dat sy nie ’n vraag moes gevra het nie. “Maar ek wil dit hê!”, kerm hy. Omdat sy ma bang is dat hy ’n woedebui sal hê—sy gewone taktiek—gee sy maar in.
-
’n Vyfjarige meisie val haar pa in die rede terwyl hy met ’n ander volwassene praat. “Ek is verveeld”, sê sy. “Ek wil huis toe gaan!” Haar pa hou in die middel van sy sin op, sak voor sy dogter op sy knie af en sê met ’n sagte stem: “Nog net ’n paar minute, Liefie—oukei?”
-
James, wat 12 jaar oud is, is weer eens daarvan beskuldig dat hy op sy onderwyser geskreeu het. James se pa is kwaad—nie vir sy seun nie, maar vir die onderwyser. “Sy pik altyd op jou”, sê hy vir James. “Ek gaan haar by die skoolraad rapporteer!”
Die voorafgaande scenario’s is wel denkbeeldig, maar dit is nie onrealisties nie. Dit lig ’n werklike probleem toe wat bestaan in gesinne waar ouers kinders se slegte maniere duld, aan hulle eise toegee en hulle van die gevolge van hulle verkeerde gedrag “red”. “’n Mens sien al hoe meer dat ouers hulle gesag aan hulle jong kinders afstaan”, sê die boek The Narcissism Epidemic. “Nie te lank gelede nie het kinders geweet wie die baas is—en dit was nie hulle nie.”
Baie ouers probeer natuurlik om hulle kinders die regte waardes te leer, nie net deur ’n goeie voorbeeld te stel nie, maar ook deur ferm maar liefdevolle teregwysing te gee wanneer dit nodig is. Ouers wat die waarde hiervan besef, “swem [egter] teen die kulturele stroom op”, sê die boek wat vroeër aangehaal is.
Hoe het dinge hierdie punt bereik? Wat het van dissipline geword?
Ouers se gesag neem af
Party sê dat ouers se gesag in die 1960’s begin afneem het toe sogenaamde deskundiges ouers aangespoor het om toegeefliker teenoor hulle kinders te wees. Hulle het gesê: ‘Wees ’n vriend, nie ’n gesagsfiguur nie.’ ‘Dit is beter om kinders te prys as om hulle te dissiplineer.’ ‘Moenie slegte gedrag regstel nie; fokus eerder op die goeie dinge wat jou kinders doen.’ Deskundiges het nie ’n balans tussen lof en teregwysing getref nie. Hulle het eerder te kenne gegee dat teregwysing ’n negatiewe uitwerking op kinders se brose emosies sal hê en daartoe sal lei dat hulle hulle ouers later in die lewe verwyt.
Kort voor lank het deskundiges wyd en syd die waarde van ’n goeie selfbeeld verkondig. Dit was asof die geheim tot goeie ouerskap skielik ontdek is. Dit was eenvoudig: Laat jou kinders goed voel oor hulleself. Dit is natuurlik belangrik om kinders se selfvertroue op te bou. Maar deskundiges wat hierdie benadering voorgestaan het, het tot die uiterste gegaan deur vir ouers te sê: ‘Moenie negatiewe woorde soos nee en sleg gebruik nie.’ ‘Hou aan om vir jou kinders te sê dat hulle spesiaal is en dat hulle enigiets kan word wat hulle wil word.’ Dit was blykbaar belangriker om goed te voel as om jou goed te gedra.
Op die ou end, sê party, het hierdie benadering kinders net laat voel dat hulle op alles geregtig is, asof die wêreld hulle iets skuld. Dit het baie jongmense ook “nie voorberei op die werklike lewe, waar kritiek onvermydelik is en ’n mens nou en dan misluk nie”, sê die boek Generation Me. ’n Pa wat in hierdie boek aangehaal word, stel
dit so: “In die werkende wêreld is die benadering nie om iemand se selfbeeld te beskerm nie. . . . As jy ’n slegte verslag by die werk indien, gaan jou bestuurder nie sê: ‘Ek hou van die kleur van die papier wat jy gebruik het’ nie. Om kinders so groot te maak, is eintlik baie nadelig vir hulle.”Veranderende opinies
Deur die dekades heen het die manier waarop ouers hulle kinders grootmaak, die veranderende opinies van mense weerspieël. “Beskouings van dissipline verander voortdurend”, skryf die opvoedkundige Ronald G. Morrish. “Dit weerspieël veranderinge in die samelewing.” * Dit is so maklik vir ouers om, soos die Bybel sê, “rondgeslinger [te] word soos deur golwe en hiernatoe en daarnatoe gevoer [te] word deur elke wind van lering”.—Efesiërs 4:14.
Dit is duidelik dat die huidige tendens om kinders nie te dissiplineer nie, negatiewe gevolge gehad het. Dit het ouers se gesag verswak en het veroorsaak dat kinders nie die nodige leiding kry om goeie besluite te neem en die lewe met ware selfvertroue tegemoet te gaan nie.
Is daar ’n beter manier?
^ par. 15 Ons kursiveer; uit die boek Secrets of Discipline: 12 Keys for Raising Responsible Children.