IS DIT ONTWERP?
Die ligorgaan van die Hawaise dwerginkvis
DIE Hawaise dwerginkvis, wat in die nag jag, voorsien sy eie lig—nie om gesien te word nie, maar juis om nie gesien te word nie—om te verdwyn in die sterre- en maanlig. Die dier se geheim is sy simbiotiese verhouding met liggewende bakterieë. Hierdie verhouding hou moontlik ook geheime in wat ons tot voordeel kan strek, maar op ’n skynbaar onverwante manier. Dit kan ons gesondheid tot voordeel strek.
Dink hieraan: Die Hawaise dwerginkvis woon in die helder kuswaters van die Hawaii-eilande. Die lig van die maan en die sterre sal gewoonlik die silhoeët van die dier duidelik sigbaar maak vir roofdiere onder hom. Maar die onderkant van die dwerginkvis straal lig uit wat die intensiteit asook die golflengte van die omringende naglig naboots. Die gevolg is dat hy nie gesien word nie—daar is geen silhoeët of skaduwee nie. Die dwerginkvis se “hipertegnologiese” apparaat is sy ligorgaan, wat bioliggewende bakterieë bevat wat presies die regte hoeveelheid lig voortbring om hulle draer te kamoefleer.
Die bakterieë help moontlik ook om die dwerginkvis se slaappatroon te reguleer. Navorsers vind dit interessant omdat ’n verband tussen bakterieë en sirkadiese siklusse, of daaglikse ritmes in aktiwiteit, moontlik nie net in die dwerginkvis voorkom nie. Byvoorbeeld, in soogdiere hou bakterieë wat ’n rol in spysvertering speel, moontlik ook verband met sirkadiese ritmes. Versteurings van hierdie ritmes is al verbind met depressie, suikersiekte, vetsug en slaapversteurings. Gevolglik sal die studie van die verhouding tussen die dwerginkvis en die bakterieë moontlik insig in die mens se gesondheid bied.
Wat dink jy? Het die ligorgaan van die Hawaise dwerginkvis deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?