Die papegaaivis—’n Vis wat sand maak?
WAAR kom sand vandaan? Daar is baie bronne. Maar die bron wat in hierdie artikel beskryf word, sal jou dalk verbaas. Dit is ’n vis wat koraal tot fyn sand maal—die papegaaivis!
Papegaaivisse kom voor in verskeie tropiese waters regoor die wêreld. Die vis sluk eers fyngemaakte koraal in en kry stukkies kos daaruit, waarna dit die oorblyfsels in die vorm van sand uitwerp. Die papegaaivis gebruik sy kragtige snawelagtige kake en sterk agtertande om hierdie werk te doen. Party spesies kan tot 20 jaar lank lewe sonder om hulle tande te slyt.
In sommige gebiede maak die papegaaivis meer sand as enige ander natuurlike proses deur gedurig dooie koraal fyn te kou. Party navorsers skat dat ’n gemiddelde papegaaivis omtrent honderd kilogram sand per jaar maak.
Die papegaaivis verrig nog ’n belangrike funksie. Terwyl dit lustig aan dooie, alge-bedekte koraal en plantmateriaal wei, hou dit ook die koraal skoon. Die buitengewone dieet van die papegaaivis hou die koraalrif dus in ’n goeie toestand. Waar hulle en ander plantvreters nie voorkom nie, groei alge en seegras die riwwe vinnig toe. “Party reken dat riwwe nie in hulle huidige vorm sou bestaan het as dit nie vir plantvreters was nie”, sê die boek Reef Life.
Omdat die papegaaivis so hard werk gedurende die dag, het hy ’n goeie nagrus nodig. In hierdie opsig is die papegaaivis ook ongewoon. Die rif is snags ’n gevaarlike plek omdat baie roofvisse dan kos soek. Papegaaivisse skuil gewoonlik onder rotslyste wanneer hulle slaap, maar hierdie skuilplekke beskerm hulle nie altyd teen ’n honger haai nie.
Vir ekstra beskerming draai party papegaaivisse hulle gedurende die nag toe. Hulle skei ’n beskermende lagie slym af wat hulle omhul en amper soos ’n deursigtige nagkleed lyk. Marienewetenskaplikes meen dat hierdie stink omhulsel hulle teen roofvisse beskerm.
Die papegaaivis is een van die opvallendste en mooiste koraalvisse. Mannetjie- en wyfiepapegaaivisse kom dikwels in ’n groot verskeidenheid helder kleure voor, wat verander terwyl hulle tot volwassenheid groei. Papegaaivisse word taamlik mak in gebiede waar hulle nie oorbevis word nie. Daarom is hulle een van die maklikste visse om waar te neem.
Om na aan ’n papegaaivis te kom en te luister hoe hy aan koraal kou, is ’n onvergeetlike ondervinding vir diegene wat ’n koraalrif verken. En terwyl papegaaivisse hulle prag vertoon, hou hulle hulle omgewing in ’n gesonde toestand vir ander rifdiere en mense om te geniet.