Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | IS JY IN BEHEER VAN JOU LEWE?

Die uitdaging: Onveranderbare omstandighede

Die uitdaging: Onveranderbare omstandighede

IS JOU lewe ontwrig deur ’n chroniese siekte? ’n egskeiding? die dood van ’n geliefde? Wanneer ’n mens voor onveranderbare omstandighede te staan kom, kan dit jou hulpeloos laat voel. Al wat jy kan doen, is om te wens dat jou situasie sal verander. Hoe kan jy weer beheer oor jou lewe kry?

BYBELVOORBEELD: PAULUS

As ’n ywerige eerste-eeuse sendeling het die apostel Paulus baie gereis. Maar sy reise het tot ’n einde gekom toe hy onregverdig in hegtenis geneem is en toe vir twee jaar onder huisarres geplaas en deur soldate bewaak is. Paulus het nie wanhopig geword nie, hy het eerder gekonsentreer op wat hy wel kon doen. Hy het almal wat hom besoek het, geestelik gehelp en vertroos. Hy het selfs baie van die briewe geskryf wat nou deel van die Bybel is.—Handelinge 28:30, 31.

WAT ANJA DOEN

Soos ons in die vorige artikel gemeld het, is Anja huisgebonde. “Kanker het elke aspek van my lewe geraak”, sê sy. “Ek kan dit nie bekostig om nou ’n infeksie op te doen nie, en daarom kan ek nie sekulêr werk nie en het ek geen sosiale lewe nie.” Hoe bly Anja positief ten spyte van haar onveranderbare omstandighede? “Vir my was die sleutel om my roetine aan te pas”, sê sy. “Ek het besluit wat vir my die belangrikste is en ’n rooster opgestel wat my beperkings in ag neem. Dit het my laat voel dat ek in beheer is.”

“Ek het geleer om, in watter omstandighede ek ook al verkeer, vergenoeg te wees.”—Paulus se woorde in Filippense 4:11

WAT JY KAN DOEN

As dit voel asof onveranderbare omstandighede jou lewe beheer, kan jy die volgende probeer:

  • Konsentreer op die dinge waaroor jy wel beheer het. Byvoorbeeld, jy het wel nie volkome beheer oor jou gesondheid nie, maar dalk kan jy oefen, gesonde kos eet en genoeg rus kry.

  • Besluit wat jy in die lewe wil bereik. Stel dan ’n reeks kleiner doelwitte. Probeer om elke dag ten minste ’n paar minute daaraan te werk om jou doelwitte te bereik.

  • Doen dinge, selfs klein dingetjies, wat jou ’n gevoel van beheer gee. Maak die kombuistafel skoon en was die skottelgoed. Trek netjies aan. Doen die belangrikste dinge vroeg in die dag.

  • Dink aan die voordele wat jou omstandighede moontlik inhou. Het jou situasie jou byvoorbeeld geleer hoe ’n mens moeilike omstandighede kan hanteer? Kan jy hierdie kennis gebruik om ander te help?

Die slotsom: Jy het dalk nie beheer oor jou omstandighede nie, maar jy het beheer oor hoe jy daarop reageer.