Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Godsdiens—Sterf dit uit?

Godsdiens—Sterf dit uit?

Gaffar, wat in Turkye gebore is, se godsdiens het geleer dat God wraaksugtig is. Hierdie idee het hom baie gepla. Sy vrou, Hediye, het haar godsdiens begin bevraagteken toe sy maar net nege jaar oud was. “Ek is geleer om in die noodlot te glo”, het sy gesê. “Omdat ek ’n weeskind was, het ek gewonder: ‘Wat het ek gedoen om dit te verdien?’ Ek het dikwels die hele nag deur gehuil. Teen die tyd dat ek 15 was, het ek my godsdiens in my hart verwerp.”

HET jy genoeg gehad van georganiseerde godsdiens? Indien wel, is jy beslis nie alleen nie. In baie lande is daar al hoe meer mense wat hulleself as ‘niegodsdienstig’ beskryf—’n tendens wat toon dat georganiseerde godsdiens ’n onsekere toekoms het. Kyk na net ’n paar van hierdie lande.

Waarom verlaat soveel mense godsdiens?

Mense is om verskeie redes in georganiseerde godsdiens teleurgesteld. Dit sluit in geweld en gruweldade wat deur godsdiens gemotiveer of goedgekeur word, seksskandale waarby godsdiensleiers betrokke is asook subtieler faktore, wat dalk selfs ’n negatiewer uitwerking het. Kyk na ’n paar van hierdie faktore:

  • Materiële voorspoed: “Hoe ryker jy word, hoe minder beskou jy jouself as godsdienstig”, sê die Wêreldindeks van Godsdiens en Ateïsme. Hierdie waarneming is belangrik omdat mense in verskeie lande materieel baie beter vaar as voorheen. Op party plekke het mense ’n “lewenstandaard wat die rykste koning van twee honderd jaar gelede groen van jaloesie sou laat word het”, sê John V.C. Nye, ’n professor in Ekonomie.

    WAT DIE BYBEL SÊ: Die Bybel het voorspel dat mense “in die laaste dae” eerder vir geld en genot lief sou wees as vir God en naaste (2 Timoteus 3:1-5). ’n Bybelskrywer wat bewus was van die geestelike gevaar wat rykdom inhou, het vir Jehovah God gesê: “Gee my nie armoede of rykdom nie.” Waarom het hy so gevoel? “Sodat ek nie versadig word en u verloën . . . nie”, het hy verder gesê.—Spreuke 30:8, 9

  • Godsdienstradisies en sedelikheid: Baie mense, veral jongmense, meen dat georganiseerde godsdiens nie met hulle in voeling is nie en nie meer prakties is nie. Ander het hulle vertroue in godsdiens verloor. “As ’n mens kyk na hoe die kerke deur die eeue heen opgetree het”, sê Tim Maguire, die mediaverteenwoordiger van die Skotse Humanistiese Vereniging, “het mense [die kerke] verlaat omdat hulle nie meer die vertroue het dat [die kerke] die gesag het om sedelike standaarde te stel nie.”

    WAT DIE BYBEL SÊ: Jesus Christus het aangaande valse onderrigters gewaarsku: “Aan hulle vrugte sal julle hulle herken. . . . Elke goeie boom [bring] goeie vrugte voort, maar elke slegte boom bring waardelose vrugte voort” (Matteus 7:15-18). Hierdie “waardelose vrugte” sluit in dat hulle by die politiek inmeng en gedrag goedkeur wat vir God aanstootlik is, soos homoseksualiteit (Johannes 15:19; Romeine 1:25-27). Dit behels ook dat hulle die heilsame leringe in die Skrif vervang met sinnelose rituele en leë tradisies (Matteus 15:3, 9). Jesus het gesê: “Voed my skapies” (Johannes 21:17). Maar vandag ly baie mense geestelik honger.

  • Godsdiens en geld: Volgens die Pew-navorsingsentrum dink baie mense dat godsdiens te veel klem lê op geld. Wat die probleem vererger, is dat party hooggeplaaste geestelikes—anders as hulle kudde—’n uitspattige leefstyl het. Byvoorbeeld, in ’n Duitse stad waar baie kerkgangers sukkel om die pot aan die kook te hou, is die biskop daarvan beskuldig dat hy ’n weelderige lewe lei. Hierdie leefstyl het baie plaaslike Katolieke aanstoot gegee. In Nigerië, “waar 100 miljoen mense op minder as ’n euro per dag lewe, word die uitspattige leefstyl van party pastore ’n probleem”, sê ’n verslag in die tydskrif GEO.

    WAT DIE BYBEL SÊ: Die Bybelskrywer Paulus het geskryf: “Ons maak nie wins uit die woord van God nie” (2 Korintiërs 2:17; voetnoot in NW). Hoewel Paulus ’n bekende bedienaar in die vroeë Christengemeente was, het hy dikwels handearbeid gedoen sodat hy nie vir ander ’n finansiële las sou wees nie (Handelinge 20:34). Sy gesindheid het sy gehoorsaamheid weerspieël aan Jesus se bevel: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee.”—Matteus 10:7, 8.

In ooreenstemming met hierdie beginsels vra Jehovah se Getuies nie geld vir hulle lektuur of Bybelonderrigting nie. Hulle samel ook nie by hulle vergaderinge tiendes en kollektes in nie. Die nodige fondse word eerder deur middel van vrywillige bydraes voorsien.—Matteus 6:2, 3.

Daar is voorspel dat mense georganiseerde godsdiens sou verlaat!

’n Paar dekades gelede sou dit moeilik gewees het om jou die treurige toestand van georganiseerde godsdiens wat ons vandag sien, voor te stel. Maar God het hierdie verwikkeling vooruitgesien en dit in die Bybel voorspel. Deur middel van simboliese taal het God alle godsdiens wat aan hom ontrou is, vergelyk met ’n ryklik versierde prostituut met die naam “Babilon die Grote”.—Openbaring 17:1, 5.

Hierdie simbool is gepas omdat valse godsdiens, hoewel dit beweer dat dit aan God getrou is, bondgenootskappe gesluit het met die heersers van die wêreld om mag en rykdom te verkry. “Die konings van die aarde [het] hoerery met haar gepleeg”, sê Openbaring 18:9. Die naam “Babilon” is ook gepas, want talle valse godsdiensleringe en -gebruike, soos die onsterflike siel, drie-enige gode en toorkuns, het hulle oorsprong by eertydse Babilon, ’n stad wat deurdrenk was met valse godsdiens en bygelowigheid.—Jesaja 47:1, 8-11. *

Die magtige Babilon het geval toe sy beskermende waters—’n grag wat die stad omring het en sy water van die Eufraatrivier gekry het—‘opgedroog’ is. Toe kon ’n leër van die Mede en Perse die stad inval (Jeremia 50:1, 2, 38). Trouens, Babilon is in een nag verower!—Daniël 5:7, 28, 30.

Babilon die Grote sit ook ‘op baie waters’. Die Bybel sê vir ons dat hierdie waters “volke en menigtes” beteken—die miljoene wat valse godsdiens ondersteun (Openbaring 17:1, 15). Die Bybel het voorspel dat hierdie simboliese waters sou opdroog—’n verwikkeling wat aandui dat hedendaagse Babilon binnekort en vinnig vernietig sal word (Openbaring 16:12; 18:8). Maar wie sal dit doen? Haar politieke bondgenote, wie se liefde vir haar in haat sal verander. Hulle sal haar ook plunder; dit wil sê, hulle sal haar figuurlike vlees verslind.—Openbaring 17:16, 17. *

Die dalende water rondom Babilon simboliseer mense wat Babilon die Grote verlaat

“Gaan uit haar uit”!

Weens die dinge wat vir Babilon die Grote voorlê, waarsku God liefdevol: “Gaan uit haar uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie, en as julle geen deel van haar plae wil ontvang nie” (Openbaring 18:4). Let daarop dat die woord “as” twee keer gemeld word. Ja, God se waarskuwing is gerig aan mense wat God se guns wil hê en ontsteld is as gevolg van skadelike leringe—mense soos Gaffar en Hediye, wat vroeër genoem is.

Voordat Gaffar die Bybel gestudeer het, het hy God gesien as Iemand wat hoofsaaklik uit vrees gehoorsaam moet word. “Dit was ’n verligting om te leer dat Jehovah ’n God van liefde is”, sê hy, “en dat hy wil hê dat ons hom uit liefde moet gehoorsaam” (1 Johannes 4:8; 5:3). Hediye het innerlike vrede gevind toe sy geleer het dat God nie verantwoordelik is vir die feit dat sy ’n weeskind is nie en dat haar situasie nie deur die noodlot bepaal is nie. Sy is vertroos deur Bybelverse soos Jakobus 1:13, wat sê dat God nie mense met bose dinge beproef nie. Sy en Gaffar het Bybelwaarheid aangeneem en uit “Babilon” gevlug.—Johannes 17:17.

Wanneer Babilon die Grote vernietig word, sal diegene wat gehoorsaam uit haar gevlug het om “die Vader met gees en waarheid [te] aanbid”, niks oorkom nie (Johannes 4:23). Hulle sien uit na ’n tyd wanneer die aarde “vol [sal] wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek”.—Jesaja 11:9.

Ja, valse aanbidding en sy slegte vrugte sal tot ’n einde kom, want God “kan [nie] lieg nie” (Titus 1:2). Maar ware aanbidding sal vir ewig floreer!

^ par. 16 Vir meer inligting oor Babilon die Grote en wat die Bybel sê oor God, die toestand van die dooies en toorkuns, sien die boek Wat leer die Bybel werklik? Dit is aanlyn beskikbaar op www.pr418.com/af.

^ par. 18 Sien “Die Bybel se beskouing—Die einde van die wêreld”, in hierdie nommer van die Ontwaak!