Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE PROBLEEM

Gevare vir ons veiligheid

Gevare vir ons veiligheid

“Hierdie generasie het nog nooit soveel tegnologiese, wetenskaplike en finansiële hulpbronne gehad soos nou nie . . . En tog is dit dalk die eerste generasie wat die wêreld tot die punt sal bring waar die [politieke, ekonomiese en omgewing-] stelsels heeltemal ineen sal stort.”– Wêreld- Ekonomiese Forum se risikoverslag vir 2018.

HOEKOM IS SOVEEL INGELIGTE MENSE BEKOMMERD OOR DIE MENS EN DIE AARDE SE TOEKOMS? KYK NA NET ’N PAAR PROBLEME WAT ONS IN DIE GESIG STAAR.

  • INTERNETMISDAAD: Die koerant The Australian sê: “Dit raak al hoe gevaarliker om die Internet te gebruik. Dit is ’n skuilplek vir pedofiele, boelies, moeilikheidmakers en rekenaarinbrekers [hackers]. Identiteitsdiefstal is een van die misdade wat die vinnigste toeneem in die wêreld. . . . Die Internet gee mense die kans om van hulle lelikste eienskappe te wys – die vermoë om wreed en haatlik te wees.”

  • FINANSIËLE ONGELYKHEID: Volgens ’n onlangse verslag deur Oxfam International besit die agt rykste mense dieselfde hoeveelheid rykdom as die armer helfte van die mensdom. Oxfam sê: “Ons gebroke ekonomieë pomp rykdom na die rykste mense ten koste van die armste mense in die gemeenskap, waarvan die meeste vrouens is.” Party mense is bang dat hierdie ongelykheid, wat al hoe erger word, dalk sal veroorsaak dat mense in opstand kom.

  • KONFLIK EN VERVOLGING: ’n Verslag in 2018 deur die Verenigde Nasies se Organisasie vir Vlugtelinge het gesê dat daar nou meer vlugtelinge is as ooit tevore in die geskiedenis. Meer as 68 miljoen mense moes hulle huise verlaat, hoofsaaklik as gevolg van konflik of vervolging. Volgens die verslag “word amper 1 persoon elke twee sekondes gedwing om te vlug”.

  • GEVARE VIR DIE OMGEWING: Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum se risikoverslag vir 2018 is baie spesies diere en plante vinnig besig om uit te sterf, en “lug- en seebesoedeling stel die mensdom se gesondheid al hoe meer in gevaar”. In party lande is insekte ook vinnig besig om minder te word. En omdat insekte plante bestuif, waarsku wetenskaplikes nou dat ons omgewing dalk heeltemal vernietig kan word. En koraalriwwe is ook in die moeilikheid. Wetenskaplikes skat dat omtrent die helfte van die wêreld se koraalriwwe in die afgelope 30 jaar doodgegaan het.

Is dit vir ons moontlik om veranderinge te maak sodat ons wêreld veiliger kan wees? Party voel dat opvoeding ’n deel van die oplossing moet wees. Maar watter soort opvoeding is nodig? Die volgende artikels sal hierdie vrae bespreek.