Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULLE HET DIE UITDAGING AANGEPAK

Die voorbeelde van Ricardo en Andres

Die voorbeelde van Ricardo en Andres

’n Opvoeding wat op die Bybel gebaseer is, het die ongelooflike krag om mense se lewe te verbeter. Kyk na twee voorbeelde hiervan: Ricardo en Andres.

RICARDO: Op die beïnvloedbare ouderdom van 15 het ek by ’n bende aangesluit. My nuwe vriende het ’n groot invloed op my gehad. Om die waarheid te sê, dit het my doelwit geword om tien jaar lank tronk toe te gaan! Dit klink dalk dom. Maar in my buurt het mense wat in die tronk was, baie respek gekry, en ander het na hulle opgekyk. En ek wou soos hulle wees.

As ’n bendelid het ek met alles deurmekaargeraak wat met bendelewe saamgaan, soos dwelms, seks en geweld. Een nag was ek by ’n skietery betrokke. Ek het gedink dat ek doodgemaak sal word, maar ek het sonder ’n skrapie weggekom. Daarna het ek ernstiger begin dink oor my lewe en my doelwitte, en ek het besluit dat ek my lewe wil verander. Maar hoe? Waar sou ek hulp kry?

Die meeste mense in my familie was ongelukkig. Hulle het baie probleme gehad. Maar my ma se jonger broer se gesin was anders. Ek het geweet dat hulle goeie mense is en dat hulle volgens Bybelstandaarde lewe. Ek het selfs eenkeer by een van hulle uitgevind dat God se naam Jehovah is. Nie lank ná die skietery nie, het ek tot Jehovah gebid, sy naam gebruik en hom gevra om my te help. Tot my verbasing het een van Jehovah se Getuies die volgende dag aan my deur geklop! Hy het my Bybelonderrigter geword.

Kort daarna het ek voor ’n groot uitdaging te staan gekom. My ou vriende het my dikwels gebel en my gevra om saam met hulle te kuier. Al was dit nie maklik nie, het ek nee gesê. Ek was vasbeslote om aan te hou met my Bybelstudie, en ek is bly dat ek dit gedoen het! My lewe het drasties verander, en nou is ek regtig gelukkig.

Ek onthou nog dat ek vir God gesê het dat ek voorheen bereid was om tien jaar tronk toe te gaan sodat ek gerespekteer kan word. Toe vra ek God of ek hom eerder tien jaar lank as ’n voltydse prediker kan dien sodat ek ander kon help net soos ek gehelp is. God het my gebed beantwoord, want ek dien nou al 17 jaar lank as ’n voltydse prediker! En op die ou end het ek toe nooit tronk toe gegaan nie.

Maar baie van my vorige vriende is nou al baie jare lank in die tronk. Ander is dood. Ek is baie dankbaar teenoor my familie wat Getuies is. Hulle was bereid om anders te wees en om volgens die Bybel te lewe. Ek het meer respek vir hulle as wat ek ooit vir enigiemand in die bende gehad het. En ek is veral dankbaar teenoor God omdat hy my geleer het wat die beste manier is om te lewe.

ANDRES: Ek is gebore en het grootgeword in ’n arm buurt waar dwelms, afpersing, moord en prostitusie oral om my was. My pa was ’n alkoholis en verslaaf aan kokaïen. Hy en my ma het heeltyd baklei en mekaar uitgeskel.

Ek het op ’n jong ouderdom begin drink en dwelms gebruik. Ek was heeltyd op straat. Ek het gesteel en dan weer die goed verkoop wat ek gesteel het. Toe ek ouer geword het, het my pa probeer om nader aan my te kom deur my te leer hoe om dwelms en ander onwettige produkte in die land te smokkel en dit dan te verkoop. Ek het vinnig begin geld maak. Toe het die polisie eendag na my huis toe gekom en my gearresteer. Ek is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir poging tot moord.

Een oggend is daar in die tronk aangekondig dat daar ’n Bybelbespreking deur Jehovah se Getuies gehou sou word. Ek het besluit om te gaan. Wat ek gehoor het, het sin gemaak, en daarom het ek die Bybel met die Getuies begin studeer. Hulle het nie die Bybel afgewater nie, maar het my eerder gewys wat God se hoë standaarde is.

Ek het gou besef dat ek hulp nodig sou hê as ek wou verander. Die mense wat saam met my in die tronk was, het my gedreig omdat hulle nie gehou het van wat ek doen nie. Daarom het ek vir wysheid en krag gebid, en Jehovah het my gehelp. Hulle dreigemente het my nie afgeskrik nie, en ek was dapper en kon selfs met ander oor die Bybel praat.

Toe ek vrygelaat moes word, was ek so op my senuwees dat ek eintlik langer in die tronk wou bly! Op pad uit het ’n hele paar gevangenes vir my gewaai. Party het selfs vriendelik vir my gesê: “Gaan huis toe, pastoortjie.”

Dit maak my bang as ek dink aan hoe my lewe dalk sou uitgedraai het as ek nie toegelaat het dat God my leer nie. Ek is ongelooflik dankbaar dat God my liefhet en my nie as ’n verlore saak beskou het nie. a

a Nog voorbeelde wat wys watter krag die Bybel het om lewens te verander, kan op jw.org gevind word. Gaan na BIBLIOTEEK, en soek na die reeks “Die Bybel verander lewens.”