Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’N REGERING WAT DIE UITDAGING SAL OORKOM

“Aan vrede sal daar geen einde wees nie”

“Aan vrede sal daar geen einde wees nie”

Die Verenigde Nasies bevorder die idee dat ’n mens “’n burger van die hele wêreld” moet wees. Hulle spoor mense regoor die wêreld aan om saam te werk, menseregte te respekteer en die omgewing te beskerm. Wat is die rede hiervoor? Maher Nasser het in die UN Chronicle gesê dat “klimaatsverandering, georganiseerde misdaad, ongelyke en onregverdige behandeling wat al hoe erger word, aanhoudende konflik, verskuiwings van groot groepe mense, wêreldwye terrorisme, aansteeklike siektes en soortgelyke gevare” alle mense raak, ongeag waar hulle woon.

Ander het selfs verder gegaan en die idee van ’n wêreldregering bevorder. Dit sluit mense in soos die Italiaanse filosoof, digter en politikus Dante (1265-1321) en die fisikus Albert Einstein (1879-1955). Dante het geglo dat daar nie ware vrede kan wees in ’n wêreld wat polities verdeeld is nie. Hy het Jesus Christus aangehaal en gesê: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes.” – Lukas 11:17.

Kort ná die Tweede Wêreldoorlog, waarin twee atoombomme gebruik is, het Albert Einstein ’n ope brief aan die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies geskryf. Hy het gesê: “Die Verenigde Nasies moet so gou as moontlik die nodige toestande vir internasionale veiligheid skep deur die grondslag te lê vir ’n regte wêreldregering.”

Maar hoe kan ons seker wees dat die politieke leiers van so ’n magtige regering nooit korrup, onbevoeg of onderdrukkend sal word nie? Of sou hulle geneig wees om net so sleg te word soos ander leiers in die verlede? Hierdie vrae laat ons dink aan die woorde van die Britse geskiedskrywer Lord Acton, wat gesê het: “Mag is geneig om mense korrup te maak, en absolute mag maak mense absoluut korrup.”

Die feit is, as die mens ware vrede en eenheid wil geniet, moet ons verenig wees. Maar hoe kan hierdie doelwit bereik word? Is dit ooit moontlik? Die Bybel se antwoord is ja. Dit kan en sal gebeur. Hoe? Nie deur ’n wêreldregering met politieke leiers wat korrup kan word nie. Dit sal eerder deur ’n regering gedoen word wat deur God gevorm is. Wat meer is, deur middel van hierdie regering sal hy sy reg uitoefen om oor sy skepping te regeer. Wat is hierdie regering? Die Bybel noem dit “die koninkryk van God”, of God se Koninkryk. – Lukas 4:43.

“LAAT U KONINKRYK KOM”

Jesus Christus het God se Koninkryk in gedagte gehad toe hy in sy modelgebed gesê het: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied . . . op die aarde” (Matteus 6:9, 10). Ja, God se Koninkryk sal verseker dat God se wil op die aarde gedoen word, nie die wil van selfsugtige mense wat hulle mag misbruik nie.

God se Koninkryk word ook “die koninkryk van die hemele” genoem (Matteus 5:3). Hoekom? Hoewel dit oor die aarde sal regeer, sal dit nie vanaf die aarde regeer nie, maar vanuit die hemel. Dink aan wat dit beteken. Hierdie wêreldregering sal nie materiële of finansiële ondersteuning nodig hê nie. Wat ’n verligting sal dit tog vir die mens wees!

Soos ’n mens uit die woord “koninkryk” kan aflei, is God se Koninkryk ’n koninklike regering. Dit het ’n Koning – Jesus Christus – wat sy gesag van God ontvang het. Die Bybel sê oor Jesus:

  • “Die vorstelike heerskappy sal op sy skouer wees . . . Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie.” – Jesaja 9:6, 7.

  • “Aan hom is heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk gegee, sodat al die volke, volksgroepe en tale hóm sou dien. Sy heerskappy . . . sal [nie] verbygaan nie.” – Daniël 7:14.

  • “Die koninkryk van die wêreld het die koninkryk van ons Here [God] en van sy Christus geword.” – Openbaring 11:15.

In ooreenstemming met Jesus se modelgebed sal God se Koninkryk God se wil op die aarde heeltemal uitvoer. Mense sal dan leer hoe om vir die planeet te sorg sodat dit weer gesond en vol lewe kan wees.

Nog belangriker, God se Koninkryk sal die mense waaroor dit regeer, opvoed. Almal sal dieselfde standaarde geleer word. Daar sal geen onenigheid of verdeeldheid wees nie. Jesaja 11:9 sê: “Hulle sal geen kwaad doen of enige verderf aanrig . . . nie; want die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek.”

Soos die Verenigde Nasies graag sou wou hê, sal alle mense op aarde verenig wees en in vrede saam met mekaar lewe. Psalm 37:11 sê: “Hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.” Mettertyd sal ons nie meer woorde soos “misdaad”, “besoedeling”, “armoede” en “oorlog” gebruik nie. Maar wanneer sal dit gebeur? Wanneer sal God se Koninkryk oor die hele aarde begin regeer? Hoe sal dit beheer oorneem? En hoe kan jy deur hierdie regering bevoordeel word? Kom ons vind uit.