DIE BYBEL SE BESKOUING
Angstigheid
Angstigheid het twee kante. Die een is nadelig; die ander voordelig. Die Bybel help ons om albei te verstaan.
Is dit normaal om angstig te wees?
DIE WERKLIKHEID
Angstigheid behels dat ’n persoon ongemaklik, senuweeagtig of bekommerd voel. Omdat die wêreld waarin ons lewe so vol onsekerheid is, kan enigeen van ons soms angstig voel.
WAT DIE BYBEL SÊ
Koning Dawid het geskryf: “Hoe lank sal ek weerstand in my siel bewaar [of, angstige besorgdheid hê], droefheid in my hart bedags?” (Psalm 13:2). Wat het Dawid gehelp? Hy het sy hart in gebed voor God uitgestort en ten volle op God se lojale liefde vertrou (Psalm 13:5; 62:8). Trouens, God nooi ons om hom van ons probleme te vertel. ‘Werp al julle sorge op [God], want hy sorg vir julle’, sê 1 Petrus 5:7.
Ons kan dikwels ons angstigheid verlig deur dit op ’n praktiese manier te benader. Byvoorbeeld, toe die Bybelskrywer Paulus “besorgdheid oor al die gemeentes” gevoel het, het hy hard probeer om diegene oor wie hy bekommerd was, te vertroos en aan te moedig (2 Korintiërs 11:28). In hierdie opsig was sy angstigheid voordelig, want dit het hom beweeg om die nodige hulp te verleen. Dieselfde kan vir ons geld. Die teenoorgestelde gesindheid—om nie belang te stel nie—toon dat ’n persoon ’n gebrek aan liefdevolle besorgdheid het.—Spreuke 17:17.
‘Moenie ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook op dié van die ander.’—Filippense 2:4.
Wat kan jy omtrent oormatige angstigheid doen?
DIE WERKLIKHEID
Mense is dalk angstig oor vorige oortredings, die toekoms of hulle finansies. *
WAT DIE BYBEL SÊ
Bekommernis oor vorige oortredings: Voordat sommige mense in die eerste eeu Christene geword het, was hulle dronkaards, afpersers, hoereerders en diewe (1 Korintiërs 6:9-11). Eerder as om oor hulle verlede te tob, het hulle hulle gedrag verander en op God se groot barmhartigheid vertrou, wat hy gewillig aan mense bewys. “By u [God] is daar ware vergifnis, sodat u gevrees kan word”, sê Psalm 130:4.
Onsekerheid oor die toekoms: “Moet julle . . . nooit kwel oor die volgende dag nie”, het Jesus Christus gesê, “want die volgende dag sal sy eie sorge hê” (Matteus 6:25, 34). Wat het hy bedoel? Konsentreer op vandag se probleme. Moet dit nie vererger deur jou ook nog oor môre se probleme te bekommer nie, want dit kan jou oordeel belemmer en tot oorhaastige besluite lei. Trouens, jy sal dikwels later agterkom dat jy jou heeltemal onnodig bekommer het.
Finansiële bekommernisse: ’n Wyse man het eenkeer gebid: “Gee my nie armoede of rykdom nie” (Spreuke 30:8). Hy wou eerder vergenoeg wees—’n gevoel wat God se goedkeuring wegdra. In Hebreërs 13:5 lees ons: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge. Want [God] het gesê: ‘Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.’” Anders as geld, wat jou in die steek kan laat—en dit sal doen—sal God nooit diegene in die steek laat wat op hom vertrou en ’n eenvoudige lewe lei nie.
‘Ek het geen regverdige heeltemal verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.’—Psalm 37:25.
Sal ons ooit vry van angstigheid wees?
WAT MENSE SÊ
“Ons betree ’n nuwe era van angstigheid”, het die joernalis Harriet Green in 2008 in ’n artikel in The Guardian gesê. In 2014 het Patrick O’Connor in The Wall Street Journal geskryf dat “Amerikaners angstiger is as ooit tevore”.
WAT DIE BYBEL SÊ
“Angstige besorgdheid in die hart van ’n man sal dit laat neerbuig, maar die goeie woord maak dit bly” (Spreuke 12:25). ’n Boodskap wat beslis as ’n “goeie woord” beskou kan word, is die goeie nuus van God se koninkryk (Matteus 24:14). Daardie Koninkryk, ’n regering deur God, sal binnekort doen wat ons nooit op ons eie sal kan doen nie—dit sal alles wat angstigheid veroorsaak, uit die weg ruim, insluitende siekte en die dood! “[God] sal elke traan van [ons] oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie.”—Openbaring 21:4.
“Mag die God wat hoop gee, julle met alle vreugde en vrede vervul deurdat julle [in hom] glo.”—Romeine 15:13.
^ par. 10 Dit is raadsaam dat mense wat aan ernstige angsversteurings ly ’n dokter raadpleeg. Ontwaak! beveel nie enige spesifieke terapie of behandeling aan nie.