Voedselallergieë en voedselonverdraagsaamheid —Wat is die verskil?
Emily: “Ek het my vurk neergesit en ongemaklik begin voel. Daar was ’n jeukerige sensasie in my mond, en my tong het opgeswel. Ek het lighoofdig begin voel en gesukkel om asem te haal. Galbulte het op my arms en nek uitgeslaan. Ek het probeer om nie benoud te raak nie, maar ek het geweet dat ek by ’n hospitaal moet uitkom—en vinnig!”
OM TE eet is vir die meeste mense ’n aangename ervaring. Maar party mense moet sekere voedselsoorte noodgedwonge as “vyande” beskou. Soos Emily, wat vroeër aangehaal is, is hulle allergies vir sekere voedselsoorte. Emily se ernstige allergiese reaksie word anafilaksie genoem, wat ’n baie gevaarlike toestand is. Gelukkig is die meeste voedselallergieë nie so ernstig nie.
In onlangse jare was daar ’n styging in aangemelde gevalle van voedselallergieë en voedselonverdraagsaamheid. Maar party studies gee te kenne dat slegs ’n klein hoeveelheid van die mense wat dink dat hulle ’n voedselallergie het, werklik daarmee gediagnoseer is.
Wat is ’n voedselallergie?
’n Groep wetenskaplikes, gelei deur Dr. Jennifer J. Schneider Chafen, het ’n verslag in The Journal of the American Medical Association gepubliseer wat gesê het dat “daar nie ’n universeel aanvaarde definisie vir voedselallergieë is nie”. Maar die meeste deskundiges glo dat allergiese reaksies hoofsaaklik deur die immuunstelsel veroorsaak word.
’n Allergiese reaksie op ’n sekere voedselsoort is gewoonlik ’n reaksie op ’n proteïen in daardie voedselsoort. Die immuunstelsel identifiseer hierdie proteïen verkeerdelik as skadelik. As ’n spesifieke proteïen ingeneem word, sal die liggaam dalk ’n soort teenliggaampie vervaardig, wat as IgE bekend staan, om die vermeende indringer te neutraliseer. Wanneer hierdie allergeen weer ingeneem word, kan die teenliggaampies wat vroeër vervaardig is, veroorsaak dat chemikalieë, insluitende histamien, vrygestel word.
Onder normale omstandighede speel histamien ’n noodsaaklike rol in die immuunstelsel. Maar weens onverklaarbare redes veroorsaak die teenwoordigheid van IgE-teenliggaampies en die daaropvolgende vrystelling van histamien, ’n allergiese reaksie in mense wat baie sensitief is vir ’n spesifieke voedselproteïen.
Dit is waarom jy moontlik nie bewus is dat jy ’n allergiese reaksie het wanneer jy iets vir die eerste keer eet nie, maar wel wanneer jy dit weer eet.
Wat is voedselonverdraagsaamheid?
Voedselonverdraagsaamheid kan, soos ’n voedselallergie, ’n negatiewe reaksie op ’n voedselsoort wees. Maar anders as ’n voedselallergie (wat direk deur die immuunstelsel veroorsaak word), is voedselonverdraagsaamheid ’n reaksie van die spysverteringstelsel, en daar is dus geen teenliggaampies by betrokke nie. ’n Persoon vind dit
dalk moeilik om ’n sekere voedselsoort te verteer, moontlik omdat hy ’n tekort aan ensieme het of as gevolg van chemikalieë in die voedselsoort wat moeilik is om te verteer. Laktose-onverdraagsaamheid ontstaan byvoorbeeld wanneer die dermkanaal nie genoeg ensieme vervaardig om die soort suiker wat in melkprodukte voorkom, te verteer nie.Aangesien voedselonverdraagsaamheid nie met die vervaardiging van teenliggaampies verband hou nie, kan dit ontstaan selfs wanneer ’n voedselsoort vir die eerste keer ingeneem word. Die hoeveelheid kan ’n bepalende faktor wees—die liggaam kan dalk ’n klein hoeveelheid van ’n sekere voedselsoort verdra, maar sukkel dalk wanneer groter hoeveelhede ingeneem word. Dit is anders as ernstige voedselallergieë waar selfs ’n klein hoeveelheid van die voedsel ’n lewensgevaarlike reaksie kan veroorsaak.
Wat is die simptome?
Jy kan enige van die volgende simptome hê as jy ’n voedselallergie het: jeukerigheid; galbulte; swelling van die keel, oë of tong; naarheid; braking; diarree; en in die ergste geval, lae bloeddruk, duiseligheid, floute en selfs hartstilstand. ’n Anafilaktiese reaksie kan vinnig vererger en noodlottig wees.
Enige voedselsoort kan ’n allergie veroorsaak. Maar die ergste voedselallergieë word gewoonlik deur ’n paar voedselsoorte veroorsaak, soos melk, eiers, vis, skaaldiere, grondboontjies, sojabone, neute en koring. ’n Persoon kan op enige ouderdom ’n allergie ontwikkel. Studies toon dat genetika ’n groot rol hierin speel, en dit is waarskynliker dat ’n kind ’n allergie sal ontwikkel as een of albei van sy ouers ’n allergie het. Dit is nie ongewoon vir kinders om allergieë te ontgroei nie.
Die simptome van voedselonverdraagsaamheid is oor die algemeen nie so ernstig soos dié van uiterste allergiese reaksies nie. Voedselonverdraagsaamheid kan moontlik maagpyn, opgeblasenheid, winde, krampe, hoofpyn, veluitslag, moegheid of ongesteldheid veroorsaak. Dit kan ook verband hou met ’n verskeidenheid voedselsoorte—waarvan suiwel, koring, alkohol en suurdeeg van die algemeenste is.
Diagnose en behandeling
As jy dink dat jy dalk ’n voedselallergie of ’n voedselonverdraagsaamheid het, sal jy moontlik na ’n dokter toe wil gaan. Dit kan soms skadelik wees om jouself te diagnoseer en om self te besluit om sekere voedselsoorte te vermy omdat jy jou liggaam onbewustelik van noodsaaklike voedingstowwe kan ontneem.
Daar is geen algemeen aanvaarde behandeling vir ernstige voedselallergieë behalwe om die voedselsoorte wat die allergie veroorsaak, heeltemal te vermy nie. * As jou voedselallergieë of voedselonverdraagsaamheid egter nie so erg is nie, vind jy dalk dat dit jou help as jy sekere voedselsoorte net minder gereeld en in kleiner hoeveelhede inneem. Maar in sommige gevalle moet persone noodgedwonge die voedselsoort heeltemal of ten minste ’n tyd lank vermy, afhangende van hoe erg die onverdraagsaamheid is.
As jy dus ’n voedselallergie of ’n voedselonverdraagsaamheid het, kan jy jou troos aan die feit dat baie mense al geleer het om hulle toestand te beheer en nog steeds ’n wye verskeidenheid heilsame en smaaklike voedselsoorte kan geniet.
^ par. 19 Daar word dikwels aanbeveel dat diegene wat ernstige allergieë het, ’n spesiale buisie by hulle hou wat adrenalien (epinefrien) bevat en waarmee hulle hulle tydens ’n noodgeval self kan inspuit. Party gesondheidsdeskundiges stel voor dat kinders met allergieë, die een of ander sigbare teken dra wat onderwysers of oppassers in kennis stel van hulle toestand.