HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP
Belangrikheid van werkies by die huis
DIE UITDAGING
In party gesinne verwag ouers dat hulle kinders werkies by die huis doen, en die kinders doen dit sonder om te kla. In ander gesinne verwag ouers nie dat hulle kinders moet uithelp nie, en dit pas die kinders natuurlik baie goed.
Navorsers sien hierdie gewoonte veral in Westerse lande waar kinders geneig is om net te wil hê eerder as om te gee. “Kinders word deesdae toegelaat om op hulle eie aan te gaan met videospeletjies, die Internet en TV-programme”, sê ’n ouer met die naam Steven. “Daar word eintlik baie min van hulle verwag.”
Wat dink jy? Is dit regtig belangrik vir kinders om werkies by die huis te doen? Kan dit hulle ontwikkeling beïnvloed?
WAT JY MOET WEET
Omdat kinders reeds soveel skoolwerk en ander aktiwiteite het, voel party ouers dat hulle nie vir hulle kinders nóg werk wil gee nie. Maar kom ons kyk na die voordele:
Werkies help ’n kind om meer verantwoordelik te wees. Kinders wat by die huis help, sal moontlik beter op skool doen. Dit is geen wonder nie, want huistakies gee kinders meer selfvertroue, selfdissipline en uithouvermoë—presies wat hulle nodig het om goeie leerders te wees.
Werkies leer kinders om ander te help. Party het opgelet dat kinders wat by die huis moet help, later meer bereid is om die gemeenskap as vrywilligers te help. Dit maak sin, want huistakies leer hulle om ander se behoeftes bo hulle eie te stel. Maar Steven, wat vroeër aangehaal is, sê: “Wanneer daar niks van hulle verwag word nie, begin kinders dink dat hulle hier is om bedien te word. Hulle weet dan later nie wat dit is om verantwoordelikheid te aanvaar en hard te werk nie.”
Werkies bring die gesin nader aan mekaar. Die werkies wat hulle by die huis doen, laat hulle voel dat hulle ’n waardevolle rol in die gesin speel. Dit help hulle ook om te besef dat hulle ’n verantwoordelikheid teenoor die gesin het. Hierdie les kan verlore gaan wanneer ouers meer klem lê op naskoolse aktiwiteite as op huistakies. Vra jou af: ‘Wat help dit my kind speel vir die rugby-span maar wil eerder op die kantlyn sit vir die gesin-span?’
WAT JY KAN DOEN
Begin vroeg. Party sê dat ouers vir hulle kinders van driejarige ouderdom af al werkies kan gee. Ander stel voor dat jy selfs vroeër begin—wanneer jou kind twee jaar oud of jonger is. Die feit is dat klein kindertjies dit baie geniet om saam met hulle ouers te werk en by hulle te leer.—Bybelwaarheid: Spreuke 22:6.
Hou hulle ouderdom in gedagte. ’n Driejarige kan byvoorbeeld speelgoed optel, help skoonmaak of wasgoed sorteer. Ouer kinders kan stofsuig, die kar was of selfs kos maak. Hou jou kind se vermoë in gedagte. Dit verbaas jou dalk om te sien hoeveel hy dit geniet om werkies by die huis te doen.
Maak werkies ’n prioriteit. Dit kan dalk moeilik wees as jou kind elke dag ’n berg huiswerk het. Maar die boek The Price of Privilege sê dat dit “’n teken van misplaaste prioriteite is” as ouers huistakies by die kind wegneem net sodat hy goed op skool kan doen. Soos voorheen genoem is, help dit kinders om beter leerders te word as hulle werkies by die huis het. Die lesse wat hulle leer, sal hulle ook help wanneer hulle eendag hulle eie gesin het.—Bybelwaarheid: Filippense 1:10.
Fokus op die doel van die werkies in plaas van die resultate. Jou kind vat dalk baie lank om iets klaar te kry. Dalk doen hy dit nie so goed as wat jy verwag het nie. Maar los hom en moenie oorneem nie. Jou doel is nie dat hy die werkie soos ’n grootmens moet doen nie, maar om jou kind verantwoordelikheid te leer en om hom te leer dat werk lekker kan wees.—Bybelwaarheid: Prediker 3:22.
Fokus op die regte beloning. Party sê dat dit ’n kind verantwoordelikheid leer as jy hom betaal vir die werkies wat hy doen. Ander sê nou weer dat dit die kind leer om te fokus op wat hy uit die gesin kan kry in plaas van wat hy tot die gesin kan bydra. Hulle waarsku ook dat die kind dalk sal weier om werkies te doen sodra hy genoeg geld het—’n teken dat die doel van die werkies nie bereik is nie. Die les? Dit is dalk beter dat ’n kind se werkies en sy sakgeld niks met mekaar te doen het nie.