Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIÉ WAT TREUR

Wat om te verwag

Wat om te verwag

Al beskryf party kenners die stadiums van die treurproses in ’n sekere volgorde, hanteer almal die pyn en hartseer anders. Hoekom verskil mense se reaksies so? Is dit dalk omdat party nie so hartseer is nie of hulle gevoelens “inhou” of ignoreer? Nie noodwendig nie. Alhoewel dit dalk nie vir jou goed is om jou gevoelens te ignoreer nie, is daar nie net een “regte manier” om te treur nie. Hoe ’n persoon treur, kan baie afhang van sy kultuur, persoonlikheid, ondervindinge in die lewe en die manier waarop sy geliefde gesterf het.

HOE ERG GAAN DIT RAAK?

As jy iemand aan die dood verloor het, weet jy dalk nie wat om te verwag nie. Maar daar is sekere gevoelens en uitdagings wat algemeen is en wat ’n mens gewoonlik kan verwag. Kyk na die volgende:

Jy voel asof alles net te veel raak. Dalk sukkel jy om jou emosies te beheer en verander dit die hele tyd sonder waarskuwing. Miskien huil en verlang jy baie. En dalk maak herinneringe en drome van die persoon dit vir jou net moeiliker. Maar as iemand ’n vriend of familielid aan die dood verloor het, is hulle eerste reaksie gewoonlik skok en kan hulle nie glo dat dit gebeur het nie. Tiina onthou hoe sy gereageer het toe haar man, Timo, onverwags oorlede is. Sy sê: “Aan die begin kon ek niks voel nie. Ek kon nie eers huil nie. Soms het dit gevoel asof dit net te veel raak en kon ek nie eers asem kry nie. Ek kon nie glo wat gebeur het nie.”

Jy kan dalk soms bang, kwaad en skuldig voel. Ivan sê: “Ons seun, Eric, was net 24 jaar oud toe hy sterf. Vir ’n hele ruk daarna was ek en my vrou, Yolanda, woedend! Dit was vir ons vreemd, want ons het nie verwag dat ons só sou reageer nie. Ons het ook skuldig gevoel, want ons het gewonder of ons nie meer kon gedoen het om ons seun te help nie.” Alejandro het ook skuldig gevoel nadat sy vrou baie lank siek was en gesterf het. Hy vertel: “Eers het ek gedink dat ek sekerlik ’n slegte mens moet wees as God toelaat dat ek so swaarkry. En toe het ek skuldig gevoel omdat dit was asof ek God blameer vir wat gebeur het.” En Kostas, wat in die vorige artikel genoem is, sê: “Soms was ek kwaad vir Sophia omdat sy gesterf het. En omdat ek haar blameer het vir iets wat nie haar skuld was nie, het dit my sleg laat voel.”

Jy sukkel om reguit te dink. Daar is dalk tye wanneer jou gedagtes rondspring en jy nie logies kan redeneer nie. Party verbeel hulle byvoorbeeld dat hulle hulle geliefde kan sien, hoor of voel. Of hulle vind dit moeilik om te konsentreer of om dinge te onthou. Tiina sê: “Partykeer het ek in die middel van ’n gesprek besef dat my gedagtes nie daar is nie! Ek was eintlik besig om aan Timo se dood te dink. Die feit dat ek nie kon fokus nie, het my baie bekommer.”

Jy wil net alleen wees. Iemand wat treur, voel dalk geïrriteerd of ongemaklik wanneer hy tussen ander mense is. Kostas sê: “Wanneer ek saam met getroude paartjies gekuier het, het ek altyd soos die derde wiel gevoel. Maar ek het ook nie by die ongetroudes ingepas nie.” Ivan se vrou, Yolanda, vertel: “Dit was so moeilik om saam met mense te wees wat gekla het oor probleempies wat so klein gelyk het teenoor ons s’n! Dan was daar weer ander wat ons vertel het hoe goed hulle kinders doen. Ek was bly vir hulle, maar dit was vir my moeilik om na hulle te luister. Ek en my man het geweet dat die lewe aangaan, maar ons was eenvoudig net nie lus of geduldig genoeg om daarna te luister nie.”

Jou gesondheid gaan agteruit. Veranderinge in eetlus, gewig en slaappatrone is algemeen. Aaron onthou hoe die eerste jaar was nadat sy pa dood is: “Ek het rêrig gesukkel om te slaap. Ek het elke aand dieselfde tyd wakker geword en aan my pa se dood gedink.”

Alejandro sê dat sy gesondheid hom probleme begin gee het: “Ek het ’n paar keer dokter toe gegaan, maar hy het gesê dat daar niks fout is nie. Ek het ’n gevoel gehad dat dit die hartseer was wat my simptome veroorsaak het.” Daardie simptome het later verdwyn. Maar dit was nog steeds goed dat Alejandro dokter toe gegaan het. Wanneer jy treur, kan dit jou immuunstelsel verswak. Dit kan ook enige gesondheidsprobleme wat jy reeds het, erger maak of selfs nuwe probleme veroorsaak.

Nuwe verantwoordelikhede maak dinge net moeiliker. Ivan vertel: “Ons moes nie net ons vriende en familie laat weet dat Eric gesterf het nie, maar ook ander mense soos dié vir wie hy gewerk het en dié by wie hy gehuur het. Daar was ook baie wetlike dokumente wat ons moes invul. En toe moes ons deur al Eric se persoonlike goed gaan. Om al hierdie dinge gedoen te kry, moes ons regtig kophou, en dit alles in ’n tyd toe ons verstandelik, fisies en emosioneel uitgeput was.”

Vir ander raak dit eers regtig moeilik wanneer hulle self dinge moet begin doen wat altyd deur hulle geliefde gedoen is. Dit is wat met Tiina gebeur het. Sy verduidelik: “Timo het altyd met die geld gewerk. En noudat dit ook my verantwoordelikheid geword het, het dit my net meer laat stres. Sou ek regtig alles kon doen sonder om ’n gemors daarvan te maak?”

Dit is duidelik dat die pyn en hartseer wat deur die dood van ’n geliefde veroorsaak word, baie uitdagend kan wees — emosioneel, verstandelik en fisies. Maar dit kan iemand wat treur, dalk help om die pyn en hartseer te hanteer as hy weet watter uitdagings om te verwag. Onthou ook dat almal die dood van ’n geliefde anders hanteer en moontlik nie al die uitdagings hierbo sal ervaar nie. En dit kan goed vir hulle wees om te weet dat dit normaal is om soveel pyn en hartseer te voel.

SAL EK OOIT WEER GELUKKIG KAN WEES?

Wat om te verwag: Die verskriklike pyn en hartseer sal nie vir ewig aanhou nie. Dit beteken nie dat jou gebroke hart heeltemal sal “genees” of dat jy jou geliefde sal vergeet nie. Maar die intense hartseer wat jy voel, sal stadig maar seker beter word. Onverwagse herinneringe of spesiale datums, soos ’n huweliksherdenking, kan jou weer baie hartseer maak. Maar uiteindelik kom die meeste mense tot op die punt waar hulle emosioneel stabiel voel en weer met hulle daaglikse lewe kan aangaan. Hoe kry hulle dit reg? Deur die ondersteuning van hulle familie en vriende, en deur self praktiese dinge te doen om die pyn en hartseer te hanteer.

Hoe lank sal dit vat? Vir party is dinge ná die eerste paar maande nie meer so erg nie. Vir ander vat dit ’n jaar of twee voordat hulle beter begin voel. En party het selfs meer tyd nodig. * Alejandro sê: “Vir omtrent drie jaar was die pyn en hartseer vir my baie erg.”

Wees geduldig met jouself, en vat dit een dag op ’n slag. En weet dat jou diep hartseer nie vir ewig so erg gaan wees nie. Maar is daar dinge wat jy kan doen sodat jy nou al beter kan voel en sodat jou hartseer nie vir te lank aanhou nie?

Dit is normaal om soveel pyn en hartseer te voel

^ par. 17 Daar is af en toe gevalle waar iemand vir so lank intens hartseer is, dat dit tot ’n toestand lei wat “gekompliseerde” of “chroniese” hartseer genoem word. Hierdie persone het dalk professionele mediese hulp nodig.