Wys meegevoel
Die probleem
As ons te veel fokus op hoe anders mense as ons is, kan ons begin dink dat sulke verskille foute of swakhede is. So dit sal maak dat ons neersien op mense wat anders as ons is. As ons hierdie negatiewe opinie van ander mense ontwikkel, word dit moeilik om meegevoel te wys. As ons nie meegevoel het nie, kan dit ’n simptoom wees van ’n groter probleem – diskriminasie.
Bybelwaarheid
“Wees bly saam met mense wat bly is. Huil saam met mense wat huil.” – ROMEINE 12:15.
Wat beteken dit? Hierdie waarheid kan in twee woorde opgesom word – wys meegevoel. Meegevoel is die vermoë om jouself in iemand anders se skoene te sit en te voel wat hy voel.
Hoe dit help om meegevoel te wys
Wanneer ons meegevoel met iemand het, besef ons dat ons eintlik baie dieselfde is. Ons kom dalk agter dat die persoon dieselfde as ons voel en reageer. Meegevoel help ons om te sien dat alle mense, maak nie saak wat hulle agtergrond is nie, dieselfde is. Hoe meer ons fokus op wat ons met ander in gemeen het, hoe minder sal ons geneig wees om ’n negatiewe opinie van hulle te hê.
Meegevoel sal ons ook help om ander te respekteer. Anne-Marie, van Senegal, het neergesien op ’n groep mense wat deur ander as minderwaardig beskou word. Sy verduidelik hoe meegevoel haar gehelp het: “Toe ek sien hoe baie daardie mense swaarkry, het ek gedink oor hoe ek sou voel as ek in hulle skoene was. As gevolg hiervan het ek besef dat ek nie beter as daardie mense is nie. Ek het niks gedoen wat my beter as hulle gemaak het nie.” So as ons probeer om ander se probleme te verstaan, sal ons meer geneig wees om meegevoel met hulle te hê eerder as om hulle te kritiseer.
Wat jy kan doen
As jy ’n negatiewe opinie van ’n groep mense het, probeer eerder verstaan op watter maniere julle dieselfde is. Byvoorbeeld, stel jou voor hoe hulle voel wanneer hulle
Meegevoel help ons om te sien dat alle mense dieselfde is
’n ete saam met hulle gesin geniet
heel dag hard gewerk het
tyd met vriende spandeer
na hulle gunsteling musiek luister
Volgende, probeer jouself in hulle posisie sit. Vra jou af:
‘Hoe sou ek reageer as iemand my waardeloos laat voel?’
‘Hoe sou ek voel as ander my oordeel nog voordat hulle my leer ken het?’
‘Hoe sou ek deur ander behandel wou word as ek deel was van daardie groep?’