Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Tentagtige wonings in die Tash Rabat-vallei, wat joerte genoem word

LANDE EN VOLKE

’n Besoek aan Kirgistan

’n Besoek aan Kirgistan

KIRGISTAN met sy baie hoë ysbedekte berge is in Sentraal-Asië geleë en grens aan Kazakstan, Oesbekistan, Tadjikistan en China. Omtrent 90 persent van die land bestaan uit berge. Kirgistan spog met die Tien Sjan-bergreeks se hoogste punt, wat 7 439 meter bo seevlak is. Woude bedek omtrent 4 persent van die landmassa. Dit is dus merkwaardig dat een van die wêreld se grootste natuurlike okkerneutwoude in Kirgistan voorkom.

Jehovah se Getuies studeer die Bybel met duisende mense in Kirgistan

Mense in Kirgistan is bekend vir hulle gasvryheid en respek. In Kirgistan is dit goeie maniere om ’n beleefdheidsvorm soos “u” te gebruik wanneer jy met ’n ouer persoon praat en om jou sitplek op openbare vervoer sowel as die vernaamste plek aan tafel vir hom of haar aan te bied.

Gesinne het oor die algemeen drie of meer kinders. Die jongste seun bly gewoonlik by sy ouers, selfs nadat hy getroud is, en versorg hulle in hulle oudag.

Meisies word van jongs af die praktiese vaardighede geleer wat ’n goeie huisvrou nodig het. Teen die tyd dat hulle in hulle middel-tienerjare is, is hulle heeltemal in staat om ’n huishouding te bestuur. ’n Bruidskat word gewoonlik vir die bruid voorberei. Dit kan allerhande beddegoed, ’n verskeidenheid kledingstukke en ’n handgemaakte tapyt insluit. Die bruidegom betaal ’n bruidsprys met geld en vee.

’n Skaap of ’n perd word tydens feesvieringe en begrafnisse geslag. Dit word verdeel, en elke deel is spesiaal bedoel vir ’n spesifieke persoon. Elke gas kry sy of haar deel, afhangende van sy of haar ouderdom en posisie, en respek speel ook die belangrikste rol in hierdie tradisie. Dan word die nasionale gereg, beshbarmak, bedien. Dit word met die hand geëet.

’n Komuz is ’n gewilde musiekinstrument