Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Oorlog

Oorlog

In die ou tyd het die Israeliete oorlog gevoer in die naam van hulle God, Jehovah. Beteken dit dat God vandag oorloë goedkeur?

Waarom het eertydse Israel oorlog gevoer?

WAT PARTY MENSE SÊ

 

Die Israeliete het ’n gewelddadige “god van oorlog” aanbid.

WAT DIE BYBEL SÊ

 

Die nasies wat deur Israel oorwin is, was baie gewelddadig en het baie slegte dinge gedoen. Van hierdie dinge was geslagsomgang met diere, bloedskande en kinderofferandes. Nadat God hulle eeue lank gegee het om te verander, het hy gesê: “Deur al hierdie dinge het die nasies wat ek voor julle wegstuur, hulle onrein gemaak.”—Levitikus 18:21-25; Jeremia 7:31.

“Dit is weens die goddeloosheid van hierdie nasies dat Jehovah jou God hulle voor jou uit verdryf.”—Deuteronomium 9:5.

Kies God vandag kant in oorloë?

MISKIEN HET JY AL OPGELET

 

In baie oorloë sê godsdiensleiers aan albei kante dat God aan hulle kant is. “Godsdiens het nog altyd ’n rol gespeel in elke oorlog wat tot nou toe geveg is”, sê die boek The Causes of War.

WAT DIE BYBEL SÊ

 

Christene mag nie teen hulle vyande veg nie. Die apostel Paulus het vir mede-Christene gesê dat hulle nie wraak moet neem nie. Hy het geskryf: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense. Moet julle nie wreek nie.”—Romeine 12:18, 19.

Jesus het nie sy volgelinge gestuur om oorlog te maak nie, maar het eerder vir hulle gesê: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg; sodat julle kan toon dat julle kinders is van julle Vader wat in die hemele is” (Matteus 5:44, 45). Selfs as Christene in ’n land woon wat by oorlog betrokke is, moet hulle geen deel daaraan hê nie omdat hulle “geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 15:19). God wil hê dat sy aanbidders uit alle nasies hulle vyande moet liefhê en afgeskeie moet bly van die wêreld. Is dit dan redelik om te dink dat God kant sal kies wanneer lande teen mekaar oorlog maak?

“My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie.”—Johannes 18:36.

Sal oorlog ooit ophou?

WAT PARTY MENSE SÊ

 

Daar sal altyd oorloë wees. Die boek War and Power in the 21st Century sê: “Oorlog is hier om te bly. Daar is geen kans dat daar in hierdie eeu wêreldwye vrede sal wees wat sal voortduur nie.”

WAT DIE BYBEL SÊ

 

Oorloë sal eers ophou wanneer niemand meer die begeerte het om oorlog te maak nie. Daarom sal God se Koninkryk, ’n werklike regering wat vanuit die hemel regeer, binnekort ontslae raak van al die wapens op ons planeet en mense leer om in vrede saam te leef. Die Bybel verseker ons dat God “sake [sal] regstel met betrekking tot magtige nasies wat ver is. En hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse. Hulle sal nie, nasie teen nasie, die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Miga 4:3.

Die Bybel leer dat daar onder God se Koninkryk nie meer regerings sal wees wat met mekaar meeding om hulle sin te kry nie. Daar sal ook nie onregverdige wette wees wat burgers in opstand laat kom nie of rassehaat wat verdeeldheid vererger nie. Oorlog sal dus verdwyn. God belowe: “Hulle sal geen kwaad doen of enige verderf aanrig . . . nie; want die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek.”—Jesaja 11:9.

“Hy laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde. Die boog verbreek hy en die spies kap hy stukkend; die waens verbrand hy met vuur.”—Psalm 46:9.